Скачать книгу

hê nie? … Sal ons van hulle daardie vryhede weerhou wat ons self geniet?”

      F.W. Reitz het aan ’n gekleurde gehoor gesê dat hy die standpunt ten volle onderskryf dat “die eenvoudigste boer en die eenvoudigste Hottentot in staat is om te besluit wie hulle die beste kan verteenwoordig”. ’n Afvaardiging van Clanwilliam het die goewerneur meegedeel dat hulle sidder as hulle dink dat daar onderskeid in politieke regte getref moes word “tussen die rykes en die armes, tussen wittes en gekleurdes”. Vir hulle was die gekleurde man ewe geregtig op burgerregte as die wit man.

      Stockenstrom, wat so lank feitlik alleen in die openbare debat as ’n liberale Afrikaner gestaan het, het aan die afvaardiging geskryf dat hy “as ’n landgenoot en ’n boer soos julle”, trots is op hul “edel grootmoedigheid” om die belange van die swakker gekleurde rasse te beskerm “ten spyte van die manipulasies en intriges van daardie mense wat altyd op hul meerderwaardige onderwys, liberaalheid en filantropie roem”. Dit was ’n klaarblyklike verwysing na sy konserwatiewe Engelssprekende teenstanders.

      ’n Merkwaardige verandering het binne die bestek van minder as twee dekades plaasgevind. In die 1820’s moes vooraanstaande Kaapse Afrikaners soos Christoffel Brand, omtrent almal slawebesitters, hulle aanpas by Engelssprekendes soos John Fairbairn, wat die toon aangegee het by die hervorming en afskaffing van slawerny en die verkondiging van die liberale gedagte van vooruitgang. Nou, in die vroeë jare vyftig, was dit die Afrikaners wat die nierassige stem bepleit het wat dit vir gewese slawe moontlik sou maak om te stem, en was Engelssprekendes die vernaamste remskoene. Sir George Cathcart het in 1853 opgemerk dat baie Engelssprekendes “sided with the Dutch on what are commonly styled liberal principles”.

      Dit is nie korrek om te dink dat die Afrikaners se liberalisme ná die instelling van ’n liberale grondwet in 1853 begin kwyn het nie. Daar was min besware van Afrikanerkant teen die instelling van sekulêre onderwys in 1863, hoewel verskeie predikante nie daarvan gehou het nie. Dit was ’n Afrikaner, J.H. de Villiers, wat, nadat hy in 1864 hoofregter geword het, die leiding geneem het in die vestiging van die beginsel dat menseregte nie van velkleur afhang nie. Hy het ook streng gewaak oor burgerlike vryhede en het teen die regering beslis toe dit swart en bruin politieke leiers sonder ’n hofsaak tronk toe wou stuur.

      Hoewel die Afrikaners die nuwe liberale grondwet aanvaar het, was die ou vooroordele steeds springlewendig. De Zuid-Afrikaan het op ’n keer geprotesteer teen skole waar die kinders van boere, wat “die koloniale aristokrasie” gevorm het, saam met die kinders van slawe op die skoolbanke moes sit. (Dit was waarskynlik ’n verwysing na die skole wat gestig is vir die arm wit en swart mense.) Maar gewoonlik het die Afrikaners as rasionalisasie vir voorregte eerder klas as ras gebruik en soms “nasionaliteit”, wat in die negentiende eeu ’n kultuurkonnotasie gehad het. In werklikheid was daar natuurlik nie veel verskil tussen ras en klas nie.

      Soms is daar skerp kritiek op die politieke stelsel uitgespreek. In 1854 het De Zuid-Afrikaan krities na verkiesings verwys as “’n demoraliserende siekte”, wat die “mense” teen die “gespuis” opgestel het, en in 1866 het dit gepraat van “Maleiers, Hottentotte en Kaffers wat maklik deur ryk en ambisieuse politieke aspirante omgekoop word en sodoende van verkiesings ’n klug maak en van verteenwoordigende regering ’n blote slagspreuk”.

      Hierdie proteste kan beskou word as ’n onderliggende verset teen die nierassige orde, maar dit was eweseer gemik teen die mag van geld in die wen van stemme. Afrikanerpolitici het steeds gekleurdes se stemme probeer wen en sou in die konstitusionele debatte van 1908 en 1909 oor ’n grondwet vir Suid-Afrika die gekleurde stem sterk verdedig.

      Gekleurde mense het nie die nierassige stemreg so sterk ondersteun as ordonnansie 50 nie. Hulle sou verkies het dat die kolonie direk onder die kroon en die Britse parlement bly. Hul agterdog oor die nuwe demokratiese orde het korrek geblyk. In 1856 het die nuwe Kaapse parlement die Wet op Meesters en Diensbodes aangeneem, wat swaar strawwe ingestel het vir werkers wat gedros het, afwesig was of die dissiplinêre kode verbreek het. Mondelinge kontrakte is weer as wettig beskou, soos voor 1809. Die regering was weer stewig aan die base se kant.

      Die sinode stel skeiding in

      Die NG Kerk was die kerk van die groot meerderheid van die Afrikanerkoloniste. Terwyl Engelstalige kerke min slawebesitters as lidmate gehad het, was die NG Kerk ’n kerk van slawebesitters. Standverskille, waaronder die onderskeid tussen vryburger en slaaf en hul nasate die heel grootste was, sou dus in die NG Kerk as instelling veel meer gemoedere gaande maak as in die Engelse kerke. Al die Christelike kerke het egter gesukkel om die gemeenskap van alle heiliges, ongeag kleur, in die praktyk uit te leef.

      Die NG Kerk in Kaapstad het slawe in private besit en vryswartes gedoop. Vryswartes wat gedoop is, kon in die kerk self trou. Dit wil voorkom of baie min van die gedoopte vryswartes later aangenome NG lidmate geword het.

      Baie slawe is nooit binne die raamwerk van die georganiseerde godsdiens gebring nie en in hierdie omstandighede het talle hulle tot die Islam gewend. In 1825, die eerste jaar waarin die Moslems getel is, was daar 846 manlike en 422 vroulike Moslems. Sommige waarnemers het geglo dat teen die middel van die 1830’s die meeste Kaapse slawe Moslems was. Die groei van die Islam was so sterk dat die owerheid bekommerd geword het.

      Dit was die Islam wat die eerste van die taal Afrikaans in ’n geskrewe vorm gebruik gemaak het. In Moslemskole is slawe in skryf en lees onderrig in Afrikaans wat in Arabiese skrif gedruk is. Gedurende die 1840’s het ’n waarnemer gesê: “Alle Maleiers in Kaapstad praat Hollands, maar die beste klas praat Hollands en skryf Arabies en Maleisies.” In die middel van die jare vyftig het Moslems die eerste Afrikaanse boek in Arabiese skrif laat druk. In die volgende dekades is ten minste 11 Arabies-Afrikaanse werke gepubliseer. Toe Arnoldus Pannevis dit in die vroeë 1870’s oorweeg om die Bybel in Afrikaans te vertaal, was Afrikaans in die Kaapse Moslemgemeenskap reeds ’n gevestigde medium van godsdiensonderrig.

      Die groeiende bedrywighede van die inheemse en buitelandse sendinggenootskappe het die NG Kerk voor ’n groot probleem te staan laat kom: hoe moes hierdie mense by die kerk ingeskakel word? Moes hulle by bestaande gemeentes ingelyf of in ’n afsonderlike verband opgeneem word?

      Die Zuid-Afrikaansche Zending-Gesticht, as die vernaamste inheemse sendinggenootskap, het groot getalle slawe onderrig, maar dit lyk of baie min as lidmate in die NG of Lutherse gemeentes opgeneem is. Oor die hele kolonie heen het sendinggenootskappe hul volgelinge in aparte gemeentes opgeneem. In 1819 het dr. John Philip, superintendent van die Londense Sendinggenootskapstasies, die ZAZG aangeraai om sy bekeerlinge in Kaapstad in ’n aparte gemeente te organiseer, soos wat die LSG self besluit het om te doen. Philip het aangebied om die genootskap in elke opsig te help as hulle so ’n beleid sou aanvaar, en die direkteure het besluit om hierdie aanbod te aanvaar.

      Baie jare later, in 1851, het twee ZAZG-direkteure ’n dokument ingedien waarin hulle meld dat hulle die 1819-besluit steun, maar met sterk voorbehoude. Die beleid van aparte gemeenskappe is onverstandig, het hulle verklaar. Dit sou beter wees om alle ongeletterdes en heidene voor te berei om lede van gevestigde kerke en gemeentes te word.

      In 1824, toe die NG Kerk sy eerste sinode byeengeroep het, het dit ook regulasies vir sendingwerk uitgereik en in 1826 L. Marquard as sy eerste sendeling georden. Hy het streng instruksies ontvang om die sakramente slegs te bedien aan “heidene” wat hy in ’n aparte gemeente byeengebring het.

      Teen die middel van die twintigerjare het die afskaffing van slawerny ál meer na ’n besliste moontlikheid begin lyk. Dit het senior amptenare genoop om die NG Kerk en ZAZG aan te moedig om die pad voor te berei vir ’n toekomstige bestel waarin die voormalige slaaf sy meester sou dien omdat hy sy plig liefhet en waarin die meester die voormalige slaaf behandel as iemand wat “dieselfde natuur” as hy het.

      Onder baie burgers het die geloof begin posvat dat dit, soos landdros Stockenstrom en die Graaff-Reinetse heemrade dit gestel het, in die belang van die slawebesitters as werkgewers is dat hul werkers erns met die beginsels van die Christelike godsdiens maak: “Hoe meer hulle [die slawe] die godsdienstige beginsels aanvaar, hoe beter sal hulle wees as werkers en hoe groter die voordeel vir hul eienaars.”

      Die NG Kerk het die sendingveld steeds grotendeels aan die ZAZG en ander sendinggenootskappe

Скачать книгу