ТОП просматриваемых книг сайта:
Die Afrikaners. Hermann Giliomee
Читать онлайн.Название Die Afrikaners
Год выпуска 0
isbn 9780624050759
Автор произведения Hermann Giliomee
Издательство Ingram
Maar namate die grensgebied meer gevestig geraak het en die weiveld uitgeput, was die verhouding van kliëntskap geneig om te verbrokkel. Ten einde hul arbeiders te verhinder om die plaas te verlaat, het sommige boere dieselfde praktyke aangewend as waarmee slawe in die Wes-Kaap beheer is. Die distriksowerhede van Graaff-Reinet en Swellendam het pasregulasies uitgevaardig wat base die reg gegee het om passe uit te reik. As ’n arbeider ’n plaas sonder ’n pas verlaat, sou ’n kommando uitgaan en hom vang.
Die inboekstelsel is ook van die Wes-Kaap ingevoer. Dit het hier posgevat op plase waar slawemans en Khoi-Khoi-vroue saamgeleef het. Die inboekstelsel is geregverdig met dieselfde paternalistiese ideologie as slawerny. Die uitgangspunt was dat as teenprestasie vir die huisvesting en kos wat die kinders geniet, hulle hul meesters as ingeboektes moet dien tot hulle mondig word. Die ingeboekte kinders is in die meester se taal en kultuur opgevoed en het kleiner takies verrig. Maar die stelsel het hom tot groot misbruik geleen. Op sommige plase is kinders aangehou tot lank ná hulle volwassenheid bereik het. Ouers wat wou wegtrek, is verhinder omdat hul kinders nog ingeboek was.
Die Khoi-Khois aan die oosgrens kon in werklikheid slegs tevrede gehou word as hulle van die boer genoeg grond en vee gekry het om hul veekudde uit te brei. Graaff-Reinet se opgaaf of sensus van 1798 bevat ’n lys van tussen 1 300 en 1 400 Khoi-Khois in die distrik. Hulle het 140 perde, 7 571 beeste en 30 557 skape gehad, ’n gemiddelde van vyf beeste en 23 skape vir Khoi-Khois wat deur hul base “opgegee” is. Namate grond skaars geword het, het die verhouding tussen burgers en Khoi-Khois verswak. Baie base het hul kliënte beveel om hul kuddes te verklein, en daardeur het al hoe meer wrywing ontstaan.
Van hierdie Khoi-Khois is nou ook deur geweld verplig om op die plaas aan te bly. Daar is aanduidings dat in die laaste twee dekades van die eeu tonele van groot wreedheid op sommige plase afgespeel het. Honoratus Maynier, sekretaris van die Graaff-Reinetse distrik van 1789 af en landdros van 1792 tot 1795, het die Khoi-Khois aangeraai om klagte in te dien teen base wat hulle mishandel. Die verslae wat van die drosdy opgestuur is, bevat prima facie getuienis van kwaai strawwe en van sommige boere se weiering om hul werkers te laat gaan.
Toenemend is berig dat die Khoi-Khois skuiling by die Xhosas gaan soek en gewere en perde saamvat. Hulle het vee weggevoer of doodgemaak, gesaaides afgebrand en in ’n paar gevalle huise aan die brand gesteek.
’n Komplekse verhouding met die Xhosas
Die Xhosas het die sterkste teenstand gebied teen die ooswaartse trek van die burgers, wat vroeg in die sewentigerjare van die agtiende eeu die Sondagsrivier oorgesteek en in die rigting van die Visrivier beweeg het. Na skatting het omtrent 6 000 Xhosas in die oostelike en suidoostelike wyke van die Graaff-Reinetse distrik, wat in 1786 geproklameer is, gewoon. Daarteenoor was die burgers min. In die 1798-sensus van die distrik is slegs 4 262 “Christene” aangeteken. Daar was minder as duisend volwasse manlike burgers in die hele distrik, wat ongeveer so groot was soos vandag se Portugal.
In twee gebiede was die interaksie tussen die burgers en die Xhosas hewig. Die een was die Suurveld tussen die Benede-Visrivier en die Boesmansrivier; die ander die Bosberg-Bruintjieshoogte-gebied wes van die Bo-Visrivier (naby die huidige dorp Somerset-Oos). In 1778 het goewerneur Joachim van Plettenberg geprobeer om skeiding tussen wit en swart te bewerkstellig. Hy het met kapteins van die Gwali-stam ooreengekom dat die Bo-Visrivier en die Boesmansrivier as grens sou dien en dat hulle oorkant dié grens sou bly. Twee jaar later het die Politieke Raad die Visrivier geproklameer as die grens.
Maar hierdie grensreëling was min werd. Die Gwali-kapteins met wie Van Plettenberg ’n ooreenkoms gesluit het, was slegs mindere kapteins wat nie namens al die Xhosas kon onderhandel nie. Selfs die opperhoof sou nie so ’n verdrag kon sluit nie. Die Xhosas wes van die Visrivier wou nie terugkeer nie en die opperhoof kon hulle nie dwing nie.
Tussen die Xhosas en die burgers was daar bande wat sowel gebind as geskaaf het. In die vroeë stadia van die Suurveld het die Xhosas en burgers deurmekaar gewoon en aanvanklik was daar vrede. In later jare het ’n Xhosa opgemerk: “Toe ons vaders en die vaders van die amabulu [boere] vir die eerste keer in die Suurveld gekom het, het hulle in vrede saamgewoon. Hul vee het dieselfde heuwels bewei en hul veewagters het uit dieselfde pype gerook.” Hierdie bron het die konflikte wat sedertdien uitgebreek het, toegeskryf aan boere wat vee gebuit het, maar klaarblyklik sou die spanning al hoe groter raak namate die gebied digter bewoon geraak het. ’n Tekort aan weiveld sou onvermydelik botsings meebring.
Die handel tussen die twee gemeenskappe het ook gebind én geskaaf. Die grensboere wou graag met die Xhosas handel dryf, want hulle kon vee aanvanklik goedkoop kry in ruil vir tabak, koper, yster of krale. Daar was boere wat die Xhosas bedrieg het. Kolonel Collins het in 1890 geskryf die Xhosas “gave their cattle and labour without knowing its value, but a little experience having opened their eyes on these points, altercations between them and the farmers were the necessary consequence. These contentions grew into enmities.”
Baie Xhosas het op die plase begin werk vir kos, krale, knope, armbande of ’n kalf of twee. Party burgers het hulle Xhosa-werkers geslaan of verneder soos hulle vroeër met die Khoi-Khois gemaak het. Maar die Xhosa-werker kon hom tot sy kaptein wend om hom te wreek. ’n Ou gekleurde man aan die grens het eenkeer opgemerk: “The Caffres, when not regularly paid or [when they were] flogged, informed their chief [who] came and stole cattle from the farmers by way of repaying themselves for the injuries they had sustained.”
Die boere het algaande bekommerd begin raak oor die baie Xhosas in hulle omgewing, veral dié wat in ’n kraal gewoon en daarvandaan in groepies uitgegaan en in die distrik rondgeswerf het. Dikwels het hulle by plaashuise presente gebedel. Daar was baie boere wat gretig was om hierdie Xhosas oor die Visrivier te verdryf.
Adriaan van Jaarsveld het by een geleentheid die mening uitgespreek dat ’n kommando van 60 mans genoeg sou wees om al die Xhosas behalwe dié wat op plase gewerk het, uit die kolonie te dryf. Maar dit was ’n fatale fout. Die Xhosas se getalle en die digte Suurveldboswêreld het die militêre voordeel geneutraliseer wat die burgers se perde en gewere gebied het.
Die eerste vyandelikhede
Vroeg in die 1770’s het drie Prinsloo-families op grond by Bosberg naby die huidige dorp Somerset-Oos begin boer. Onder die ander families in die gebied was daar ook die Klopperse, Nels en Labuschagnes. Hulle het gou onwettig vee by die Xhosas geruil. Hulle was omtrent almal moeilike mense wat in die volgende paar dekades dikwels met die owerheid oorhoops gelê het.
Die uitbreek van wat later bestempel is as die Eerste Grensoorlog (1779-1781) is as volg deur O.G. de Wet, landdros van Stellenbosch, beskryf: “Onder die voorwendsel dat die swartes ’n skaap van hom gesteel het, het Willem Prinsloo een van hulle doodgeskiet. Hierna het die swartes uitgetrek en die boere aangeval. Dit het gelei tot ’n slagting van die swartes, terwyl sommige van die burgers ook geruïneer is.” Die dokumente meld nie hoeveel Xhosas gesneuwel het nie. Dit is wel bekend dat hulle verskeie plase aangeval en ten minste 21 000 beeste weggevoer het. Willem Prinsloo se huis is afgebrand en hy het sy hele veestapel verloor.
Die regering het ’n kommando onder bevel van Adriaan van Jaarsveld opgeroep. Die kommando het op ongeveer 5 000 stuks vee beslag gelê en het verskeie kapteins en hul mense oor die grens gedryf wat die regering geproklameer het. Van Jaarsveld was ook skuldig aan ’n menseslagting. Terwyl hy met ’n Xhosa-stam onderhandel het, het hy stukkies tabak na hulle gegooi. Terwyl hulle skarrel om die tabak op te tel, het hy sy manne beveel om hulle te skiet. Die herinnering aan hierdie slagting is baie generasies lank onder die Xhosas lewendig gehou. Hulle het aan Van Jaarsveld die bynaam “Rooi Kaptein” gegee.
Van Jaarsveld se kommando het ’n brose vrede met verskeie Xhosa-kapteins gesluit. Die burgers het in werklikheid nie die mag gehad om die Xhosas permanent uit die kolonie te verdryf nie.
In 1786 het Moritz Hermann Otto Woeke die eerste landdros van die nuwe distrik Graaff-Reinet geword. Hy het gou besef dat hy nie reg en orde kon handhaaf met slegs die drie of vier man wat as boodskappers en polisie onder hom gedien het nie. In wanhoop het hy geskryf dat as hy nie deur 50 tot 60 soldate bygestaan word nie die “verrotting” sou voortduur en “dat elkeen sou