Скачать книгу

ja, net so,” antwoord De Swardt vinnig. Toe bloos hy en ek sien hy is nog baie jonk. Dit was ’n jammerte dat ’n goeie jong kêrel soos hy die kluts so kwyt moes wees.

      “In elk geval, as jy ooit verfwerk soek,” sê ek toe ek loop, “kan jy die agterkant van my skaapkraal kom afwit.”

      Ek sê dikwels vir mense sulke koddige goed.

      Daarna kry ek heelwat van John de Swardt te siene, en ek begin van hom hou. Ek is tevrede – al mors hy sy tyd deur kaal klippe en onkruid te verf – dat daar geen kwaad in hom is nie. Ek is seker hy praat daardie bog oor visioene en die gees van die veld oor wat hulle hom by die skool in Johannesburg aangedoen het, waar hulle hom al daardie snert oor kuns geleer het, en ek voel jammer vir hom. Later sou ek ’n kort wyle wonder of ek nie eerder vir die kunsskool jammer moes gevoel het nie. Maar nadat ek goed oor alles nagedink het, het ek geweet dat John de Swardt net baie jonk en onskuldig was en dat wat later met hom gebeur het, die soort ding is wat gebeur met dié wat eenvoudig van gees is.

      Verskeie Sondae ná mekaar neem ek De Swardt oor die rant na Frans Welman se huis. Ek het nie ’n baie hoë dunk van Frans se oordeel nie, sedert die keer dat hy vir die verkeerde man in die skoolkomitee gestem het. Maar ek het geen ander buurman binne loopafstand nie, en ek moet tog op ’n Sondag iewers heen gaan.

      Ons gesels oor allerlei dinge. Frans se vrou, Sannie, is jonk en mooi, maar baie skaam. Sy is nie van nature so nie. Dis net dat sy bang is om te praat, ingeval sy iets sê wat haar man afkeur. Sannie sit gevolglik meestal stil in die hoek, en staan net nou en dan op om vir ons nog koffie te maak.

      Frans Welman is in sommige opsigte wat mens ’n harde man sou noem. Die manier waarop hy sy vrou en die kaffers op sy plaas behandel, is byvoorbeeld ietwat van ’n skande. Maar aan die ander kant sien hy baie goed na sy beeste en varke om. En ek het nog altyd geglo dat dít vir ’n boer belangriker is as om vir sy vrou en die kaffers goed te wees.

      Wel, ons gesels oor die mielies en voorverlede jaar se droogte en die subsidies, en ek kan sien dit sal nie lank wees voor die gesprek by die Volksraad gaan draai nie, en ek is nie gretig om te hoor hoe Frans in die Algemene Verkiesing gaan stem nie – so ’n onverantwoordelike persoon behoort nie toegelaat te word om te stem nie – dus vra ek gou vir John de Swardt om ons van sy skilderye te vertel.

      Hy val onmiddellik weg met sy “Nooi van die veld”.

      “Nie daardie een nie,” sê ek en skop sy skeen, “ek bedoel jou ander prente. Die soort wat die sprinkane die skrik op die lyf ja.”

      Ek voel hierdie nooi-van-die-veld-ding is nie ’n geskikte onder­werp om oor te gesels nie, veral nie in die teenwoordigheid van ’n vrou nie. Buitendien, dis Sondag.

      Nietemin, daardie skop kom te laat. De Swardt vryf sy skeen ’n paar keer en begin oor die onderwerp praat, en hoewel ek en Frans ons kele by verskeie dele van die vertelling ongemaklik skoonmaak en Sannie na die vloer staar, met haar mooi wange bloedrooi, verduidelik die jong skilder álles oor daardie prent en wat dit vir hom beteken.

      “Dis ’n droom wat ek nou al lank het,” sê hy ten slotte, “en altyd kom sy na my toe, en wanneer ek my arms uitsteek om haar vas te hou, verdwyn sy en ek bly agter met net die herinnering aan haar in my hart. Maar wanneer sy verskyn, is die ganse wêreld in ’n verskriklike skoonheid geklee.”

      “Dis ten minste meer as waarin sý geklee is,” sê Frans, “te oordeel na wat jy ons vertel.”

      “Sy is ’n gees. Sy is die gees van die veld,” mymer De Swardt, “sy fluister vreemde en betowerende dinge. Haar verskyning is soos die fluistering van die wind. Sy’s glad nie van die aarde nie.”

      “O, wel,” sê Frans kortweg, “jy kan gerus maar hierdie Uitlander­spookvroue van jou hou. ’n Boerenooi is goed genoeg vir gewone kêrels soos ek en Schalk Lourens.”

      So gaan die dae verby.

      John de Swardt voltooi ’n paar ekstra stukkies klip en droogte-geteisterde kakiebos, en ek slaag daarin om hom te oortuig om die lelikste een “Frans Welman se plaas” te noem.

      Toe, een oggend, kom hy baie opgewonde by my aan.

      “Ek het haar weer gesien, oom Schalk,” sê hy, “ek het haar laas nag gesien. Onvergelyklik beeldskoon. Presies om middernag. Sy het saggies oor die veld na my tent toe aangekom. Die nag was warm en lieflik, en die sterre was dol en singend. En daar was sagte musiek waar haar wit voete aan die gras raak. En soms het dit gelyk asof haar mond lag, en soms was dit hartseer. En haar lippe was baie rooi, oom Schalk. En toe ek my arms uitsteek, gaan sy weg. Sy het tussen die maroelas verdwyn, soos die fluistering van die wind. En daar was ’n gesuis in my ore. En in my hart was daar ’n groen geur, en ek het gedink aan die bleek daglelie wat in die paradysvelde groei.”

      “Ek weet nie van die paradys nie,” sê ek, “maar as so ’n ding in my mielielande groei, sal ek toesien dat die kaffers dit dadelik uittrek. Ek hou niks van hierdie spooknonsens nie.”

      Toe gee ek hom ’n stukkie goeie raad. Ek sê hom om op te pas vir die maan, wat toe amper vol is. Omdat die maan vreemde dinge aan jou kan doen in die Bosveld, veral as jy in ’n tent bly en die volmaan is reg bo jou kop en daar is vreemde skadu’s tussen die maroelas.

      Maar ek weet hy sal hom nie steur aan enigiets wat ek hom vertel nie.

      Verskeie kere daarna kom hy met dieselfde storie oor die nooi van die veld. Ek begin moeg raak daarvoor.

      Toe hy een oggend weer opdaag, sê die uitdrukking in sy oë sommer alles. Ek het jou reeds van daardie kyk vertel.

      “Oom Schalk,” begin hy.

      “John de Swardt,” sê ek hom, “ek wil niks hoor wat jy te vertelle het nie. Al wat ek jou vra, is om jou goed te pak en my plaas onmiddellik te verlaat.”

      “Ek sal vanaand gaan,” sê hy. “Ek belowe ek sal teen moreoggend weg wees. Laat my net nog een dag en ’n nag bly.”

      Sy stem bewe toe hy praat, en sy knieë is baie onvas. Maar dis nie om hierdie redes of ter wille van hom wat ek toegee nie. Dis oor die uitdrukking in sy oë dat ek ordentlik met hom praat.

      “Goed dan,” sê ek, “maar jy moet reguit teruggaan Johannesburg toe. As jy padlangs loop, sal jy die Goewermentslorrie na Zeerust kan vang.”

      Hy bedank my en loop. Ek het hom nooit weer gesien nie.

      Die volgende dag is sy tent steeds daar agter die maroelas, maar John de Swardt is weg, en hy het al sy prente met hom saamgevat. Almal, behalwe die nooi van die veld. Ek veronderstel hy het geen nut meer daarvoor gehad nie.

      En die rysmiere het buitendien reeds daarmee begin. Daarom kan ek wat oor is daarvan openlik teen die muur in my voorkamer hang, en die predikant teken geen beswaar aan nie. Want die rysmiere het feitlik alles behalwe die gesig weggevreet.

      En wat Frans Welman betref, het dit baie lank geneem voor hy opgehou het om die Marico te deurkruis op soek na sy jong vrou, Sannie.

      DIE MUSIEKMAKER

      NATUURLIK WEET EK VAN GESKIEDENIS – sê oom Schalk Lourens – dis iets wat die kinders op skool leer. Juis die ander dag, by Thys Lemmer se poskantoor, begin Thys se seuntjie Stoffel uit sy geskiedenisboek voorlees oor ’n man genaamd Vasco da Gama, wat die Kaap besoek het. Dirk Snyman begin dadelik vir klein Stoffel vertel van die keer toe hy die Kaap besoek het, maar klein Stoffel steur hom nie veel aan hom nie. Wys jou net, merk Dirk Snyman op.

      In elk geval, sê Dirk Snyman toe, wat hy vir klein Stoffel wil vertel, is dat ’n kaffer reg langs hom op die trem kom sit het toe hy laas in die Kaap was. Erger nog, gaan Dirk Snyman voort, niemand het iets daarvan gedink nie.

      Ja, dis ’n vreemde gedoente om deel van die geskiedenis te wil wees.

      Vat nou byvoorbeeld die geval van Manie Kruger.

      Manie Kruger was een van die beste boere in die Marico. Hy het geweet presies hoeveel mampoer om vir die belastinggaarder te skink om seker te

Скачать книгу