Скачать книгу

’n leefwyse geword. As sy so laat uitbly, vererger dit net die ou herinneringe ‒ en vrese.

      Eendag sal Emily aan haar gesin bewys dat haar verslawing iets van die verlede is. Dalk sal haar ma dan snags rustiger kan slaap.

      Hoofstuk 3

      Hoofstuk 3

      Milly Prentiss is besig om haar koffiepot vol te maak toe sy ’n klop aan haar agterdeur hoor. Sy trek haar kamerjas stywer vas en kyk deur die ruit in die deur na die gehawende agterstoep. Die son is net aan die opkom en gee die yl grasperkie ’n ligter grys skynsel. Sy sien niemand nie.

      Toe hoor sy weer die geklop. Toe sy nog ’n keer uitkyk, sien sy die bokant van ’n blonde koppie.

      Milly pluk die deur oop en sien haar bure se vierjarige dogtertjie kaalvoet in ’n lang kamerjas daar staan. Daar is bloed op haar moue en die dogtertjie is wasbleek.

      Milly sak af op haar knieë. “Allie, liefie, wat makeer?”

      “Mamma wil nie wakker word nie.”

      Milly neem die dogtertjie se hande. “Wat is hier aan jou hande?”

      Die kind kyk verdwaas na haar hande asof sy dit nog nie raakgesien het nie.

      “Mamma het in haar bed seergekry. Ek het haar geskud, maar sy wou nie wakker word nie.”

      “Waar’s Carrie?”

      “Sy is in haar bedjie. Sy huil. Mamma wil nie kom nie.”

      Die voel vir Milly asof sy ’n hou op die krop van haar maag gekry het. Sy tel die kind op en hardloop onder die motorafdak deur tot in die huis waar sy die agtien maande oue baba se woedende skreeue hoor. Sy sit Allie voor die bank neer. “Wag net hier, liefie. Ek gaan kyk gou wat met Mamma verkeerd is.”

      Sy los Allie in die woonkamer en draf verby die kinders se kamer na die klein slaapkamertjie aan die einde van die kort gang. Sy sien Devon in die bed, onder die komberse en met toe oë asof sy nog slaap. Milly skakel die lig aan en gaan na die bed.

      Die kussing is deurweek van bloed. Milly snak na haar asem en deins terug. Haar buurvrou se gesig is grysbleek, haar lippe wit. Milly dwing haarself om nader te gaan, aan haar arm te raak. Devon se vel voel koud.

      Milly voel asof haar verstand stilstaan en ’n oomblik lank staan sy verlam. Carrie se gille dring deur haar verlamming.

      Sy moet iets doen.

      Sy gryp die telefoon langs die bed, skakel 911 en stamel ’n paar woorde. “My buurvrou is dood in haar bed. Stuur asseblief iemand.”

      Hoofstuk 4

      Hoofstuk 4

      Dis ’n koue, mistige oggend. Kent Harlan is besig met sy tweede kilometer en sy asem vorm digter wolkies voor sy gesig. Hy het twee jaar gelede begin draf toe hy skielik besorg geraak het oor sy voorkoms. Voor Barbara in sy lewe gekom het, het hy net voortgeploeter en al dikker om die middel geword. Vandat hy begin draf het, het hy al amper nege kilogram afgeskud. Maar hy is nog glad nie in haar klas nie. Hy wil hierdie naweek so goed moontlik lyk. Die dag wanneer hy op een knie voor haar neersak, sal een van die grootste dae in sy lewe wees.

      Hy hoop Barbara sal van die ring hou.

      Die feit dat sy nege maande gelede na Atlanta verhuis het om naby hom te wees, het alles verander. Hy voel lewenslustig en hoopvol, met wonderlike verwagtings vir die toekoms. Hy het nie gedink hy sou ooit weer so jonk kan voel nie. Hy het probeer om ter wille van Barbara en die kinders geduldig te wees sodat hulle eers hier gevestig kan raak voor hy van trou praat. Maar dit lyk asof alles goed gaan. Hy kan nie baie langer wag nie.

      Sy selfoon lui en hy verslap sy pas om te sien wie dit is. Die oproep kom van die polisiekantoor. Hy en sy spanmaat, Andy, is onder oproep, dus moet hy dit beantwoord. Hy begin stap en druk die knoppie. “Kent Harlan.”

      “Kent, ons het ’n moord by East Bailyweg 342. Die slagoffer is ’n vrou wat in haar bed geskiet is, blykbaar tydens ’n inbraak.”

      “Oukei.” Hy is steeds uitasem. “Het jy vir Andy gebel?”

      “Ek gaan hom nou bel.”

      “Goed. Ek gaan dadelik soontoe. Stuur asseblief ’n teksboodskap met die adres ‒ ek kan dit nie nou neerskryf nie.”

      “Sekerlik.”

      Hy beëindig die oproep en sit die foon in sy sak. Hy draf verder tot by sy huis. Hy skat hy moet bly wees hy het ’n nag se slaap agter die rug. Wanneer hy en sy spanmaat aan die beurt is vir die volgende saak, word hy gewoonlik in die nag wakker gemaak.

      Hy stort, trek aan en maak ’n koppie koffie om saam te neem. Daar is geen besondere haas nie. Die eerste polisiebeamptes op die toneel is veronderstel om die terrein af te sper en die liggaam sal nog daar wees wanneer hy opdaag. Hy hou egter daarvan om so gou moontlik ná die noodoproep op die toneel te wees. Hoe meer tyd verbygaan en hoe meer ondersoekbeamptes opdaag, hoe meer leidrade kan versteur word.

      Hy sit sy beursie, kleingeld en motorsleutels in sy sakke. Toe maak hy die boksie met die ring oop en glimlag oor die diamant. Dit is ’n spierwit, vlekkelose steen waarna hy weke lank gesoek het. Hy haal die ring uit en sit dit ook in sy sak. Net om daaraan te raak laat hom glimlag.

      Die rit na die misdaadtoneel duur twintig minute. Dis in ’n buurt waar misdaad volop is en arm mense van betaaldag tot betaaldag oorleef. Hy sien die polisiemotors voor die huis en ’n paar nuuskierige bure voor hulle huise.

      Hy hou so naby moontlik aan die huis stil. Andy is seker nog nie hier nie; hy sien nie sy motor nie. Kent klim uit en loop oor die nat gras na die sydeur onder die motorafdak, waar ’n polisiebeampte met ’n aantekeningboek staan.

      “Wat is die storie hier?” vra Kent.

      “Vrou met die naam Devon Lawrence, dertig jaar oud, van naby in haar bed geskiet. Haar vierjarige kind het vanoggend op haar afgekom.”

      Skielik voel die moord vir Kent tragies eerder as alledaags. “’n Vierjarige? Het die kind die moord sien gebeur?”

      “Dit lyk nie so nie. Sy sê sy het opgestaan toe haar babasussie begin huil het en wou toe haar ma gaan wakker maak. Sy kon haar nie wakker kry nie en het die buurvrou, Milly Prentiss, gaan roep. Dis me. Prentiss wat gebel het.”

      “Waar is die kinders nou?”

      “Nog by die buurvrou, hier langsaan.”

      “En die pa?”

      “By die werk. Me. Prentiss sê hy werk snags by ’n deurnagwinkel. Hy is nog nie in kennis gestel nie, maar ons behoort dit gou te doen, voordat een van die bure hom bel.”

      Kent gaan in en kyk in die huis rond. Klein kombuisie en woonvertrek aaneen, verweerde, vuil blou mat, ’n rusbank en een stoel in die beknopte ruimte. “Kon julle agterkom waar toegang verkry is?”

      “Me. Prentiss sê die agterdeur was nie gesluit nie, maar sy dink dis omdat die kind daar uitgegaan het. Sy het by hierdie deur onder die motorafdak ingegaan. Sy sê dit was ook nie gesluit nie.”

      Kent sien krapmerke om die sleutelgat wat kan aandui dat iemand met die slot gepeuter het. Hy gaan in en kyk rond. Daar lê ’n handsak op die vloer met die inhoud uitgestrooi. Geen teken van ’n beursie nie. Hy kyk na die ander voorwerpe in die vertrek. Speelgoed, ’n doekesak, ’n vuil eetstoeltjie, ’n platskermtelevisiestel.

      “Hoekom sou ’n inbreker die TV los?” wonder hy hardop.

      “Ja, ek het ook gedink dis eienaardig.”

      Kent probeer iets hieruit wys word. Dalk kon die persoon nie die TV wegdra nie. Dalk wou hy net vinnig kontant in die hande kry. Maar hoekom hier? Wat sou hom laat dink enigiemand in hierdie buurt het bondels geld wat rondlê?

      Hy kyk verder rond. Daar is nie juis enigiets wat waardevol is nie. Die huis is verwaarloos, die verf dop af en daar is bruin watermerke aan die plafon. Die vloerplanke is kromgetrek.

      Hy kyk in die gang af

Скачать книгу