Скачать книгу

in die lewe te leer. ’n Man se bankbalans was nog nooit ’n getuigskrif vir die man self nie. Moet nooit ’n mens oordeel na wat hy besit of nie besit nie, Tania. As jy dink aan jou groep vriende ... Hulle is almal kinders uit ryk huise – geërfde rykdom. Maar daar is baie onder hulle wat, as hulle nie ryk pa’s gehad of ryk geërf het nie en op eie inisiatief en in eie krag die lewe moes aandurf, vandag arm sou gewees het. Ek het hulle deurgekyk. Daar is van hulle wat vandag ’n hand-in-die-tand-bestaan sou gevoer het as dit nie was vir wat agter hulle is nie. Daarom is ek so bevrees vir jou, my kind, dat jy ook sal steun op wat ek besit. As daar vandag iets met my moet gebeur, en met my rykdom ... sal jy in eie krag en karakter vir jou ’n eerbare pad in die lewe kan oopkap?”

      Tania sit verslae en luister. Sy het haar pa nog nooit voorheen só hoor praat nie. Sy antwoord fronsend: “Is daar dan ’n moontlikheid ...?”

      “Nee, maar ek sal liewer wou weet dat, wat ook al mag gebeur, my kind oor die inherente krag beskik wat haar staande sal hou, beter as wat my aardse besittings dit ooit sal kan doen. Ek het vir Rocco gesê dat hy sy etes saam met ons moet geniet.”

      Hy staan op en stap weg en sy kyk hom agterna. Dan spring sy op en trek haar skouers ongeërg agteroor. Ag, Paps is maar net nie vandag in ’n goeie bui nie. Dis al. Sy frons effens. Haar pa is blykbaar baie ingenome met die nuwe plaasbestuurder. Sy wens hy het die man liewer nie gevra om sy etes saam met hulle te geniet nie. Daar is ’n onwilligheid in haar om te veel met hierdie nuwe werknemer te doen te hê. Sy kan die gevoel nie afgeskud kry dat hy beslis nie veel van sy werkgewer se dogter dink nie. Om watter rede, kan sy nie sê nie, maar die gevoel bly.

      Ook toe hulle later weer aan die etenstafel ontmoet, is dit sterk op die voorgrond. Gedagtig aan haar pa se prekie van vanoggend, probeer sy vriendelik wees, die man selfs tuis laat voel, sodat hy nie moet voel dat hy in sy meerderes se geselskap is nie. Haar pogings word met ’n koel knik van die kop en ’n enkele blik van die oë beantwoord, en dan word sy heeltemal geïgnoreer. In der waarheid voel dit later vir haar of sy die een is wat nie aan die tafel tuis hoort nie, want die twee mans gesels land en sand oor boerdery, landsake, wêreldsake.

      Sy sit fronsend en luister. Hy weet waarvan hy praat, moet sy toegee. Hy is beslis op die hoogte van elke onderwerp wat aangeroer word. Ook het hy vaste menings oor almal en hy stel dit kalm maar beslis. Een keer verskil hy selfs openlik van haar pa, en tot haar ergernis sien sy hoe haar pa bereid is om na sy standpunt te luister en hoe hy blykbaar ook oortuig word.

      Sy is verlig toe Ewald onverwags binnestap. Sy het net begin voel dat sy maar kan opstaan en loop. Nóg haar pa nóg die nuwe plaasbestuurder sal dit eens agterkom.

      Daarom is haar ontvangs van haar verloofde guller as wat selfs hy verwag het en hy hou haar styf teen hom vas. Dan blik hy na die vreemdeling aan tafel en dis oom Bertus wat hulle bekendstel.

      “Dis nou my dogter se verloofde, Ewald Serfontein, en dis Rocco Roux. Kom sit, Ewald. Wil jy nie saam eet nie?”

      “Dankie, oom Bertus, ek het klaar geëet.” Sy blik keer terug na die man wat ongeërg voortgaan met sy ete. “Kuier u ’n rukkie hier, meneer Roux?”

      Die donker wenkbroue lig. Dan kyk hy op, sy stem kalm. “Nee, meneer Serfontein. Ek werk hier.”

      “Werk?”

      Tania kan nie verstaan nie, maar sy voel meteens senuweeagtig en verduidelik vinnig: “Dis Paps se nuwe voorm- ... ek bedoel ons nuwe plaasbestuurder.”

      “O.” Ewald se belangstelling verdwyn onmiddellik.

      Skielik, onverklaarbaar, het daar ’n gespanne atmosfeer om die etenstafel ingesluip. Ewald en haar pa het albei ’n frons tussen die wenkbroue. Dis net Rocco Roux wat daar sit, so kalm soos netnou.

      Die twee mans wat so lekker sit en gesels het, se gesels het meteens ook opgedroog. Sy kyk onderlangs na haar pa, sien dat hy fronsend sy koffie roer en voel sommer geïrriteerd. Wat is dit nou skielik met hom? Hoekom kan hy nie voortgaan met gesels soos netnou nie? Dit lyk kompleet asof hy nie lus het om met Ewald te gesels nie!

      Sy wend haar tot haar verloofde en vra met ’n breë glimlag: “Is jy op pad êrens heen, of het jy vir my kom kuier?”

      “Ek het jou kom haal om saam te ry. Ek wil inspeksie gaan doen by die naaste motel. Ons sal vanaand terug wees.”

      Sy aarsel ’n oomblik, betrap dan Rocco Roux se blik op haar en sê dadelik: “Dit sal lekker wees! Natuurlik wil ek graag saamry.”

      “Nou maar goed. Hoe gouer ons wegkom, hoe gouer is ek klaar. Kan ons maar gaan?”

      Sy soen haar pa vlugtig op die kop. Net baie vlugtig gaan haar blik na die ander man. Hoewel sy teësinnig is om dit te doen, sê sy tog, bewus daarvan dat haar pa dit van haar sal verlang: “Tot siens, meneer Roux.”

      Toe sy opstaan, het hy beleef op sy voete gekom en hy knik nou weer met sy half koninklike buiginkie. “Tot siens, juffrou Erasmus.”

      “Tot siens, oom Bertus, Roux. Kom, skat.”

      Toe hulle uit is, sug oom Bertus diep en wink met die hand. “Kom sit. Ons drink nog ’n koppie koffie.” Die ander man neem plaas. Vir ’n rukkie is dit stil aan tafel. “Dis nou die motelkoning, soos hy genoem word. Besit ’n hele reeks motelle al langs die kus op. Skynbaar skatryk.” Die ander man antwoord nie, en Bertus Erasmus kyk hom vas aan. “Wat dink jy van hom?”

      Tydsaam word daar eers aan die koffie geproe. “Ek het seker nie die reg om enige mening uit te spreek nie.”

      Bertus Erasmus frons diep. “Dan hou jy ook nie van hom nie.” Hy sug weer. “Ek het ’n gevoel dat my dogter se derde verlowing dieselfde pad as die eerste twee gaan loop. Maar ek is nog banger dat die verlowing op ’n huwelik sal uitloop en dat Tania te laat sal besef dat sy ’n derde keer dieselfde fout begaan het. Ek is bekommerd oor my kind, Rocco.” Die twee mans kyk mekaar aan. “Ek het al dikwels gewens ek was ’n doodgemiddelde man en nie ’n miljoenêr nie, ter wille van my dogter. Daar is baie slaggate op die pad van ’n rykmansdogter.”

      Die ander man is stil, maar dit hinder Bertus Erasmus nie. Sedert sy vrou twee jaar gelede oorlede is, het hy nie iemand gehad teenoor wie hy werklik sy hart kon oopmaak nie, want die meeste van die tyd is ’n miljoenêr ook ’n eensame mens. Jy is nooit werklik seker hoe diep en eg mense se gevoelens teenoor jou is nie.

      Maar snaaks, teenoor hierdie nuwe plaasbestuurder kan hy sy hart oopmaak. Dis asof hulle van die eerste oomblik af mekaar gevind het, en hoewel Rocco Roux nie baie te sê het nie en die meeste van die tyd nog net geluister het, was daar ’n onmiddellik wederkerige gevoel van respek en vriendskap tussen hulle. Bertus Erasmus is ’n fyn mensekenner, en van die eerste oomblik af het hy aangevoel dat hierdie man geen gewone werknemer is nie. Rocco Roux is ’n man met ’n B.Sc-landbougraad. Hy het agtergrond en opvoeding. Die ouer man is oortuig dat hierdie jong man beter gewoond was, maar natuurlik is hy te goedgemanierd om hom direk daarna uit te vra. Wanneer hulle mekaar beter leer ken het, sal hy wel die verhaal hoor.

      Intussen is dit ’n verligting om sy probleme teenoor iemand wat begryp, te kan lug. Sy vorige plaasbestuurder was reeds ’n ou man wat ’n rukkie gelede die tuig weens swak gesondheid moes neerlê. Dis heerlik vir Bertus Erasmus om nou weer iemand jonk op die plaas te hê, want hoewel hy lankal gevoel het dat oom Martiens nie meer alles kon bybring nie, kon hy dit ook nie oor sy hart kry om die ou man af te dank nie.

      Maar hierdie jong man het nog inisiatief, kan nog sien waar verbeter kan word, waar reggeruk kan word. Meer nog, hy het nou weer iemand met wie hy kan praat. Daarom het sy aanstaande skoonseun onwetend nog ’n swart kruisie teenoor sy naam gekry toe hy Rocco kortaf as Roux gegroet het. Toe Ewald onder die indruk was dat Rocco ’n gas in die huis is, het hy hom as meneer Roux aangespreek, maar toe hy hoor hy is maar net ’n werknemer, toe word hy sommer net Roux, en Bertus Erasmus het hom in sy hart geskaam vir die ryk man.

      Hy kyk nou na die stil, sterk gesig hier langs hom en sê reguit: “Ek is jammer oor Ewald se gedrag netnou, Rocco.”

      Die donker oë flits omhoog en sy mond word grimmig. “Ek het geleer om daardie soort ding te

Скачать книгу