Скачать книгу

kan nie glo sy’s terug by DAG 1 nie, sy’t dan so mooi uitgehou tot die aand van DAG 2. Boonop het dit gewerk vir Nataniël … dié 7-dae koolsop-dieet.

      Dit word ook die Sacred Heart Memorial Hospital Diet genoem. Dis glo ontwerp vir oorgewig pasiënte wat vinnig gewig moet verloor voor hartchirurgie. Ook bekend as die Miracle Soup Diet of T.J.’s Miracle Soup Diet – wie T.J. ook al is (seker so ’n vet pokkel met sy hart op sy mou). Daar’s ook die British Heart Institute Thréé-day Diet, wat op dieselfde beginsel werk.

      Sy’t dit by ’n vriendin gekry, maar dit kom natuurlik van die internet af.

      Jy gaan doen so ’n bietjie jou eie navorsing op die internet. Dit blyk die Britse Hartstigting (nie Instituut nie) weet niks van so ’n dieet nie, die oorsprong is obskuur. En die Sacred Heart-dokters sê dis ook nie hulle s’n nie, trouens, hulle waarsku …

      “Ek wil dit nie hoor nie!” sê sy.

      Sy gaan verf ’n muur in die spaarkamer om nie aan ongesonde honger te dink nie. Jy neurie your saaacred heaaart! op die wysie van ’n ou Elvis-liedjie. Sy maak of sy nie hoor nie, swiep die verfkwas.

      DAG 3 en sy eet soveel vars, rou of ingelegde groente soos sy wil – en nog sop. Sy bly weg van droëbone, ertjies en koring, soos die dieet voorskryf. Geen vrugte vandag nie. Maar vanaand kan sy haarself beloon met ’n gebakte aartappel en botter!

      “Ag, nee,” sê sy, “ek was so lus vir die aartappel en nou kry ek net die helfte opgeëet.”

      DAG 4: Dis al weer nét sop vandag. En die sop smaak nie meer so lekker nie. Sy gooi dit in die versapper (versopper?) sodat dit minstens anders lýk.

      “Dink jy ek kan ’n bietjie Mrs Ball’s bysit?” vra sy, want sy voel weer flou.

      “Kom ek sit vir ons mooi musiek op,” probeer jy troos. Maar toe Elvis begin sing: Your cheatin’ heart will tell on you, sê sy sit dit af! sit dit af! Die hoofpyn van DAG 1 is terug.

      DAG 5: Minstens drie piesangs en soveel afgeroomde melk soos sy kan drink. A! die afwisseling – en nog sop. Die deursettingsvermoë laat haar goed voel. Honger maar goed.

      Sy gaan klim op die skaal en kom staan voor jou: “Sien jy iets anders aan my?” Sy draai in die rondte. Jy kyk, maar sien niks.

      “E … e … jy’t jou hare gesny. Net die punte?”

      “Nee. Ek het 2 kg VERLOOR!” sê sy.

      Wragtie, kan ek voel? vra jy.

      Sy ignoreer dit en maak reg vir DAG 6. Hiervoor het sy gewag: ’n stewige steak van 283 tot 366 g (of twee lekker hoenderborsies, weliswaar sonder vel), asook 6 tamaties, 6 tot 8 glase water – en nog sop.

      Toe val daar nog ’n kilogram van haar af.

      “Kyk!” sê sy. “Ek pas nou in my jeans! En hierdie romp – onthou jy hom? – kon ek vir jare nie dra nie en kyk hoe mooi sit hy nou.”

      Sy loop aanmekaar yskas toe waar die dieetvoorskrifte opgeplak is. Sy wil kyk of hulle nie dalk ’n fout gemaak het nie, dit gaan dan nou so goed. Êrens moet daar tog plek wees vir ’n bakkie jogurt?

      DAG 7: Die dag breek stadig. Die einde is in sig. Nog steak – twéé as sy wil – en groen groente na hartelus, cranberry-sap, tee of koffie (swart) en water. Geen stysel nie – net nog sop.

      Jy hoor haar skaal toe sluip. Sy praat met die skaal.

      “So amper, so amper …”

      Sy klim af, stel aan die skaal. “Ek verstaan dit nie.”

      Toe trek sy al haar klere uit en klim weer op. Daar staan sy: kaal op die skaal.

      “Yes! Yes! Yes!” sê sy. “Ek het 5 kg verloor!”

      Dis heerlike lente.

      “Jy lyk fantasties!” sê jy. “Soos ’n advertensie.”

      Sy kyk jou eers om te sien of jy nie net haar been wil trek nie (jy wil) – voor sy jou omspring so lig soos ’n veer.

      *Dis ses weke later, liewe leser. En daardie 5 kg …?

      “Moenie dit skryf nie!” tjip sy in. “Los daardie rubriek nou net so en kom slaap.”

      September 2004

      Binnelandse Sake

      Sy kom uitasem by die huis aan, en kwaad.

      “Ek’s nou so kwaad. Om te dink ek’s getroud!”

      Jy sou so hoop, ja.

      “En ek ken nie eens die man nie!”

      Hoe nou? Sy ken jou al van vóór julle getroud is. Sy was persoonlik saam met jou op julle wittebrood en nou ken sy jou nie.

      “Kalmeer,” sê jy. “Wat het ek nou weer gedoen dat jy my nie ken nie? Of nie wil ken nie …”

      “Ek praat nie van jou nie,” verduidelik sy. “Ek’s getroud met ’n Keniaan!”

      Jy sluk ’n hoop wind.

      “En wat dan van my?!” vra jy. Êrens het jy iets vreesliks gemis. Het jy haar soveel afgeskeep die laaste tyd? Al waaraan jy kan dink om te sê is: “Weet jou ma hiervan? Wag tot ek haar vertel!”

      Dis Binnelandse Sake, sê sy. Als net omdat sy vir ’n nuwe ID-boekie aansoek gedoen het. Toe sê hulle vir haar sy’s mev. Awori of iets, nou wôrie sy baie. Hoe meer sy vir die man agter die toonbank sê sy’s klaar getroud en kan nie eens daardie arriewarrie-naam uitspreek nie, hoe meer wys hy haar haar nuwe ID. Hy vra ewe vir haar of sy nou eerder wil aansoek doen vir ’n Keniaanse ID. Sy sê gee terug my ou ID, maar dit help nie.

      Dit blyk sy’s een van ’n paar duisend vroue wat onwetend getroud is. Korrupte amptenare reik al jare vals huweliksertifikate uit – vir R500 – aan buitelanders wat ’n vaste verblyfpermit in Suid-Afrika wil hê. Dit was in die koerante.

      Sy bel die tolvrye nommer wat hulle gee om uit te vind of sy werklik (weer) getroud is. Sy kom nie deur nie en gaan kyk by www.home-affairs.gov.za onder verify your marital status online.

      Dit sê sy’s getroud.

      “Ek’t mos gesê ek sal so hoop, ja.”

      “Maar die datum is heeltemal verkeerd! Ek het daardie man by Binnelandse Sake gesê!”

      Jak, sug jy. “Om te dink ons het aangetroude familie in Kenia. Miskien moet ons gaan kuier, hulle sê Kenia is so ’n mooi land, al is die paaie sleg.”

      Sy ignoreer dit.

      “Hoekom gebeur sulke goed altyd met my?” Jy sê jy dink dis omdat sy op daardie snaakse dieet van sop was. (En hoekom gebeur sulke goed nooit met my nie? vra jy.)

      Sy ignoreer dit.

      “Nou moet ek in toue gaan staan en vorms invul en beëdigde verklarings aflê en twee of drie getuies saamneem om te sê ek is wie ek sê ek is!”

      Toe sy bedaar het, wonder sy hoeveel het die ou van Kenia vir haar betaal. R500 klink darem min, sê sy. (Vir jou is R500 nogals baie geld …)

      “Ek wonder hoe lyk die man,” mymer sy. “Keniane is mos baie atleties gebou, so trots, regop, sterk en styf, fier en ferm.”

      Hoe bedoel sy nóú? Jy wil liewer nie vra waar sy aan al daardie byvoeglike naamwoorde kom nie … jy gaan trek onkruid in die tuin uit.

      “Miskien is hy nog ryk ook!” roep sy agterna.

      Later sê jy so in die verbygaan jy wonder hoe’s die weer in Kenia.

      Dink só daaraan, sê jy: “Jy’s getroud met ’n man wat jou nooit pla of kla nie, hy sit nooit sy voete op die koffietafel as hy bier drink voor die TV nie, hy druk nooit die tandepastabuisie van bo af uit nie, sy klere lê nooit op die vloer nie en hy kom nooit laat by die huis aan nie. Die perfekte man!”

      Jy’s

Скачать книгу