Скачать книгу

redelose geluk sal die meter ook stukkend wees, en sal hy vry en verniet ure lank sy motor kan laat staan sonder dat ’n kaartjie-aasvoël hom bykom.

      Dis ook daardie soort ou wat die naaste karretjie in die kettingwinkel sal gryp en die ding se voorwiele sal reg loop.

      Dis nie ek nie. Ek moet ver parkeer, en in supermarkte is daar altyd fout met die voorwiele van die stootkarretjie wat links of regs in die rakke wil inneuk, of wil vasskop, of skreeu, of klakke-klak, of iets.

      Dit was toe Saterdag, die einde van die maand, en ek sukkel, met pynlike druk op my een arm, om die betrokke karretjie te laat draai. Dié een wil toe net reguit. Ek sukkel om by “Pet’s Food” te draai na waar die kerse lê, en ek wonder of die slim bemarkers van supermarkte nie dalk die goed se voorkant so befoeter dat klante uit radeloosheid onverantwoordelik begin koop nie.

      Ek staan dus by “Pet’s Food”, die ding wil nie draai nie, en ek verseg om voor om te loop en sy voorlyf op te tel om hom in sy volgende knaende koers te plaas.

      Toe kom sy en sy skop die voorwiel allemintig.

      Ek sê dankie en ek draai. En anderkant skop sy die wiel weer reguit, gangetjie af.

      Haar oë het die glimlag van oorwinning in hulle: twee skoppe. ’n Presiese draai-en-’n-reguit-maak.

      “Jy’s ’n merkwaardige skopper,” sê ek vir haar.

      “Ja,” sê sy met volle aanvaarding van haar kuns.

      Sy’s êrens onder tien. Sy’t ’n T-hempie en ’n kort broek aan, haar knieë is knoppe, haar kaalpoot-tone begin rank word, haar hare is lank en baie swart. Haar oë ook.

      Sy dra ’n nuwe pop.

      Haar eie naam is Sarina, sê sy, en of Saar maar op my karretjie kan ry?

      Saar is die pop, neem ek aan. Ons kom tot ’n ooreenkoms: sy sal my deur die winkel skop, en ek sal Saar op die karretjie laat ry.

      So laai ek dan die negosie – met Sarina wat my deur draaie skop. Groente, brood, melk, meel, suiker, koffie, toiletware en -papier en wyn.

      Saar ry voorop en kry baie aandag. Tussen Sarina se onderwysinge oor watter “specials” koopbaar is en watter sommer verneuk is, word daar omgesien na Saar. Sy sit daar met haar groot pop-oë, bruines, sien ek, en sy moet hoor hoe lief sy gehê word, hoe soet sy is, hoe sy nie moet afval nie.

      In supermarkte kom die oomblik wanneer jy die uitgang soek, probeer kyk by watter kassier jy die vinnigste kan deur.

      Toe ek by die toustaan-tou wil draai, kyk ek ’n oomblik weg, en Sarina en Saar is skoonveld. Ek skop my maar self om die laaste draai.

      Nou is betaaldag die einde van die maand en dan moet ek in elk geval dorp toe. Dié dat ek einde-van-die-maand in kettingwinkels land.

      Ek klak-klak die volgende maand met my trollie deur die rakke toe hulle skielik daar is. Sy plak Saar sonder verlof voor op die trollie, vermaan haar tot stilsit, trek die rokkie reg, doen moederlike dinge en daar trek ons.

      Daar’s “specials” wat ek moet sien, daar word geredekawel en gepraat, tamatiesouse word teen mekaar opgeweeg en die voordele word bepraat van baie koffie koop bo min koffie koop.

      Haar bruin oë is ernstig oor aankope en oor Saar. Ons loop baie draaie deur die winkel, en ek weet ek rek die oggend en die praat, omdat Saar en Sarina ’n nabyheid word, en ek dink met stygende opgewondenheid dat sy ook die inkope rek – vir die praat en die saamstap. Ek en Saar en Sarina begin deur die onpersoonlikheid van die kettingwinkel beweeg soos mense wat van mekaar hou.

      Tot die man kom en Sarina aan die arm gryp en sê: “Is jy al weer hier?”

      Ek verstaan te laat, want toe hy my vra of ek die pop gaan koop, sê ek: “Nee, dis hare. Dis Saar.”

      “Hy wou haar koop, regtig, hy wou haar koop,” sê sy.

      Toe ruk sy los en haar skraal lyfie met die swart hare bo-op skarrel deur die mense, oor die verkooppunt. En sy verdwyn.

      Die winkelman kom terug met Saar in sy hand. Hy maak verskoning, vertel van die ewige sonde wat hulle met haar het. Sy kom as die plek oorvol is en dan het sy ’n pop wat iemand kammaliel wil koop.

      “Speel die goed vuil,” sê hy.

      Ek gaan soek haar. Ek wil vir haar sê ek het haar nie verraai nie. Ek het net nie geweet nie.

      Sy’s weg en ek gaan terug. Verneem. Hulle sê my al wat hulle weet, is dat haar naam Saar is, die Sarina is sommer nonsens. Haar mense bly êrens verkeerdekant van die spoor.

      Ek wil ’n pop koop. Hulle is verleë en gaan haal self een. Maar dié se oë is blou en hulle verstaan nie hoekom dit juis bruin moet wees nie.

      Ek dra swaar aan my verraad, want iets het in my oopgegaan oor steel-besit en verbeelname wat omruil en die kammaliel-wonder van kortstondig liefhê.

      Nee, die oë moet bruin wees, al was hare bruiner.

      Vaarwel, geliefde vyand

      Jy kry nie ’n grens nie of daar word oor die ding gebaklei.

      Bakens, en penne diep onder die grond, landmeters, énigeen kan vir twee strydende partye met jota, tittel en onverstaanbare driehoeksmeting kom bewys dis só en nie anders nie, maar een van die twee gaan kwaad daar weg oor die onregverdigheid van die wiskunde, die omkoop van regeringsamptenare, die dinge wat hy gehoor het toe hy gekoop het, of wat sy pa hom nog persoonlik uitgewys het.

      Hy sal sy eie landmeter kry as hy weer een kan bekostig …

      Elke keer as ek sien hoe gooi John McEnroe sy rakette rond, of as ek verneuk voel oor ’n lynbeslissing in die muurbal, dan besef ek weer: jy sien dinge in jou guns maklik raak, en dié waar jy dalk verneuk kan word, nog makliker. Maar in albei gevalle sien jy meestal verkeerd. Jy sien wat jy wil sien. John sien letterlik die bal wat uit is, in, al is daar met sy oog kennelik nie veel verkeerd nie – vandaar sy raket-gooiery.

      Strepe is ook maar grense.

      Maar hier by ons het die oumense ’n ding gehad waar die middel van die rivier ’n grens vorm. So van buite af bekyk, ’n heel verstandige manier van afbaken. Wat hulle nie in gedagte gehou het nie, is dat riviere hul lope kan verander en dat ’n aanduiding soos byvoorbeeld ’n boom in die middel van die rivier ’n ding is wat kan vrek, of oorwoeker kan word deur ander bome wat later kom opslaan.

      Naas erfporsies en liefde deur die draad, is riviergrense die grootste oorsaak van familietwiste, broederhaat, naaste-veragting en slegte buurskap.

      Dis soos dit gebeur het dat ons hier by ons ’n merkwaardig permanente en hewige vyandskap beleef het. Dit was ’n bekende feit dat twee voorbeeldige mense meer Nagmale oorgeslaan het oor siedende woedes as wat behoorlik is.

      Oom Koos en sy vyand, meneer Sandvliet, sê ding het glo begin oor ’n stukkie vlei.

      In die dae voor Waterwese alles kom beduiwel het met sy verbiedinge, het die oumense leivore uitgehaal. Dan vat hulle dit al hoe verder van die rivier af weg tot hulle naderhand in die rivierlandjies kan lei.

      Maar nou het van die leivore hulself mettertyd te buite gegaan. Hulle is so hier en daar met ’n graaf aangehelp, en naderhand loop hulle sterker as die rivier, en hulle begin met elke vloed hul eie pad groter vreet, tot hulle naderhand oorneem en soos die rivier begin lyk. Soos aangetroude familie.

      En dan laat so ’n leivoor tussenin ’n vlei, of ’n stukkie land. ’n Nabotsmorgie of twee.

      Dan sal oom Koos nou een aand ná huisgodsdiens weer die kaart en transport onder uit die hangkas haal en die ding bekyk, en die strepe sal hy sien, en die omskrywings, en die middel van die rivier soos dit daar staan, en hy sal vir sy vrou sê hy dink daardie draad van meneer Sandvliet is bietjie optimisties gespan.

      Dan sal hy meneer Sandvliet nader, en dan sal dié sê hy’s laf, die draad staan al daar van hy sy verstand het, en dis een woord oor die ander, en volgende maand gebruik

Скачать книгу