Скачать книгу

my jeug is in hierdie stadion deurgebring. Vir ’n outjie van Breda was die oproerige Amsterdam van die vroeë tagtigerjare ’n enorme ervaring. So dikwels ek kon, het ek op ’n Sondag die trein Amsterdam toe gevat om dan die Maandag op skool te vertel van die opstootjies by “Ojox!!!” en die vandalisme in die nommer nege na De Meer of die nommer sestien na die Olimpiese Stadion. Self het ek ver weg daarvan gebly, omdat ek toe, net soos die voorafgaande jare op die NAC se B-pawiljoen, byna my broek bevuil het van bangheid. Maar daarvan hoef my skoolpelle nie te geweet het nie.

       Frenk hou van mooi goed en ek van Ajax. Daarom is ons kantoor – skuins onder vlak TT, waar die F-Side altyd gestaan het wanneer Ajax in die Olimpiese Stadion gespeel het – die resultaat van ’n kompromis. Ek het dit beding dat daar oor die volle breedte van die symuur ’n foto van sewe by anderhalf meter hang. Hierop sien jy die spelers op die veld draf voor die laaste Kampioeneliga-wedstryd in die stadion[3], omring deur ’n see van fakkels en rooi rook. Die kantoor van Merk in Uitvoering lyk soos die slaapkamer wat ek gehad het toe ek vyftien was, net tien keer so groot, en ontelbare keer so cool. Dit is die geesteskind van Frenk en die ontwerper, ’n Engelse moffie met ’n te cool bril. Die ontwerper het gedink my sokkerfetisj pas nie lekker by die geheel in nie. Ek het gesê dit is nou maar jammer; hy kan sy kreatiewe gang gaan solank hy sy hande van my foto afhou. As dit om sokker gaan, het ek my beginsels. Hy het brommend ingestem, op voorwaarde dat hy vrypas het vir die res van die kantoor. “Met liefde,” het ek gesê, en hy het ingeklim. Hy wou in die oop ruimte van ons kantoor drie gekleurde Plexiglas-skerms van twee meter breed by anderhalf meter hoog hê – ’n rooie, ’n gele en ’n bloue. Verder het hy besluit om pienk titaanlig van agter die kaste te laat skyn, om ’n vyf meter hoë muur appelgroen te laat verf en ’n ander muur met pers viltkussings te bedek. ’n Bont spul. En begrotingsgewys heeltemal onverskillig. Frenk het gesê ek moet nie daaroor staan en kerm nie; ek het tog met die Ajax-foto my sin gekry.

      Agterna beskou was Frenk en die moffie tog nie heeltemal so koekoes nie. In die paar weke dat ons nou hier sit, het Frenk my grinnikend kom vertel van die besoek van Het Parool, drie internasionale tydskrifte, alle bemarkings- en reklamevakjoernale, ’n tydskrif oor monumente, twee groepe argitekte (een daarvan van Denemarke met ’n girl wat so lekker op die oog was dat ek besluit het om nie meer oor die begrotingsoorskryding te bly sanik nie, dis gedane sake) én ’n nuwe kliënt. Dit is tog nie so sleg nie, ’n eie bemarkingsonderneming.

      “Heit,” sê ek toe ek binnekom. Almal is al daar. Ek loop dadelik na die koffiemasjien in die kombuisie, waar niemand my kan sien nie. Die res van die kantoor in die stadion is so oopplan dat jy beswaarlik ongemerk in jou neus kan krap. Die koffiemasjien is een van Frenk se aankopies, die koffie is dus ’n deurdagte uitgawe, en ná die druk van ’n knop duur dit skaars ’n halfminuut en jy het jou koffie. Vandag kan dit nie lank genoeg duur nie. Toe my koppie vol is, bly ek nog ’n rukkie staan. Ek skraap al my moed bymekaar en loop by Maud se lessenaar verby. Ek vermy dit om na haar te kyk.

      Frenk kyk my ondersoekend aan toe ek gaan sit.

      “Nou ja … sy is dus in die hospitaal,” probeer ek so lakoniek moontlik sê. Maud het ook nader gestaan. En ek voel die ander se oë op my rug.

      “Jip. Nou ja, ons moet maar sien wat gebeur, nè?” sê ek en skakel my rekenaar aan. Ek kan my trane beswaarlik terughou. Maud sit ’n hand op my skouer. Ek sit my hand op hare en staar deur die venster na buite. Was ek maar ’n kind. Dan kon ek myself wysmaak dat alle ellende verdwyn deur maar net nie daaroor te praat nie.

      8

      It ought to be easy ought to be simple enough, man meets a woman and they fall in love, but the house is haunted and the ride gets rough …

      Bruce Springsteen, uit “Tunnel of Love” (Tunnel of Love, 1987)

      Die middag vyfuur kry ek Carmen op die lyn. Ek het pas in my motor geklim om crèche toe te ry. Ek hoef nie eens te vra hoe dit met haar gaan nie, net aan haar stem hoor ek dit al.

      “Die dokter was by my … Dit lyk nie goed nie, Steyn.”

      “Ek is op pad. Net Luna oplaai en dan kom ek.”

      Ek durf nie nog iets vra nie.

      Met ’n kloppende hart en Luna op my arm loop ek in ’n gang van die onkologie-afdeling. Ek loop die kamer binne waar ek Carmen vanoggend alleen agtergelaat het. Sy is weer aangetrek en sit met ’n verfrommelde tissue in haar hand op die bed en staar by die venster uit. Haar oë is rooi en geswel. Langs haar lê nog twee tissues, in dieselfde toestand. Sy sien ons binnekom en slaan haar hand oor haar mond – dit is die gebaar wat sy maak as iets baie ergs gebeur het. Sonder ’n woord loop ek na haar en omhels haar. Sy druk haar kop teen my skouer en begin onbedaarlik huil. Ek durf steeds niks vra nie. Ek kán niks vra nie. Ek kan nie ’n woord uitkry nie. Sedert ons die hospitaal binnegekom het, het Luna nog nie ’n geluid gemaak nie.

      Carmen gee Luna ’n soen en kry dit sowaar reg om gedwonge te glimlag.

      “Hallo, my liefste lief,” sê sy en streel Luna se kop.

      Ek maak keel skoon. “Vertel ’n bietjie,” sê ek. Dit moet tog gedoen word.

      “Kanker. ’n Baie gevaarlike soort. Diffuus, noem hulle dit. Nie ’n knoppie nie, maar ’n soort ontsteking, en dit is al in my hele bors.”

      Boem.

      “Is hulle seker?” Ek kan aan niks méér dink nie.

      Sy knik en snuit haar neus waarin daar tog nou g’n vog meer kan wees nie.

      “Dit word mastitis karsidinges genoem …” – ek knik asof ek presies weet waarvan sy praat – “… as jy wil, kan jy gou by dokter Walters ’n draai maak, het hy gesê. Sy kantoor is ’n paar deure verder.”

      Walters. Net die naam al. Ons het hom die afgelope week doodgeswyg. Die vrae van Thomas en Anne en Carmen se ma is sommer net so weggewuif, so asof daar nie ’n halfjaar gelede ’n moerse fout gemaak is nie. Miskien was dit toe al daar en was dit toe ook al te laat, was ons antwoord. Einde van die gesprek. Net die gedagte dat Carmen weens ’n mediese bokkerop kon doodgaan …

      Walters sit agter sy lessenaar. Ek herken hom dadelik van ons ontmoeting ’n halfjaar gelede. Hy herken my nie. Ek klop aan sy oop deur.

      “Ja …?” sê hy fronsend.

      “Middag,” sê ek kortaf. Sodat hy nie vergeet dat hy die oorsaak van alles is nie. “Ek is Carmen van Dyk se man.”

      “O, jammer, middag, meneer Van Dyk,” sê Walters en hy staan vinnig van sy stoel op om my die hand te gee. “Sit gerus.”

      “Ek staan sommer. My vrou wag.”

      “Natuurlik. U kom vir die uitslag van die biopsie, neem ek aan.”

      Nee, vir dié van NAC-Ajax, nie waar nie.

      “Ja.”

      “Tja. Dit lyk nie so goed nie.”

      “Nee. So hoor ek,” sê ek met ’n sinisme wat hy waarskynlik nie eens opmerk nie. “Kan u dalk verduidelik wat presies fout is?”

      Walters vertel waarom dit dié keer wél kwaadaardig is. Ek luister met ’n halwe oor na wat hy sê en verstaan nog minder daarvan. Ek vra hom hoe seker hy is.

      “Taamlik seker … Ons moet dit nog ondersoek, maar dit lyk asof dit mastitis karsinomatose is. Meer kan ons nie nou doen nie.”

      Ek knik. Walters gee my weer ’n handdruk.

      “Ek wil maar net sterkte sê, hoor. Dokter Schoeman sal u môre help. Dis die internis wat u sal vertel wat u alles nou te wagte kan wees. Goed?”

      Ek knik weer. En ek pluk hom nie oor sy lessenaar nie. Meer nog: Ek sê niks nie. Niks. Ek het toegeslaan. As ’n klient die vinger na een van my strategieë wys, moet jy keer of ek kap daai vinger af, maar nou, voor hierdie poephol wat deur ’n fout ’n halfjaar gelede

Скачать книгу