Скачать книгу

bors te visualiseer …” – my jare lange oefening om sonder om ’n spier te verroer die onnoselste voorligtingsessies en die eindelose bemarkingstront van kliënte aan te hoor lewer nou dividende – “… Jy kan dit saamdoen, Steyn, stel jou gewoon net die tumor in Carmen se bors voor …” – gewoon – “… en dan teken jy hoe die chemo die tumor in die bors aanval …” – Jiskefet![13] Ek is in Jiskefet! – “… en dit visualiseer jy met wat dan ook al by jou opkom …” – dat ek hier vir die gek gehou word, dit is wat by my opkom.

      “Klink dit vir jou na iets, Carmen?”

      “Ja, ek, ’m … dink so.”

      “Jy ook, Steyn?”

      “Ja, dit klink vir my na ’n heel goeie idee.”

      “Dan sien ons mekaar volgende week.”

      “Ja, tot volgende week.”

      Sy gee ons albei die hand.

      “Tot siens, Carmen! Tot siens, Steyn.”

      “Tot siens,” roep ons oor ons skouer.

      In die hysbak kyk ek Carmen versigtig ondersoekend aan. Sy begin kliphard lag.

      Wat ’n geluk. Haar kop werk nog.

      19

      Seem kinda funny, Sir, to me, that at the end of every hard earned day, people find some reason to believe …

      Bruce Springsteen, uit “Reason to Believe” (Nebraska, 1982)

      Ek moet tog toegee dat die gesprek met Gerda ons goed gedoen het.

      Ek en Carmen het daardeur die briljante ingewing gekry om mekaar ’n ietsie meer op die hoogte van ons gevoelens te hou. So het ek dit gewaag om Carmen te vertel dat ek gatvol is daarvoor dat ons dié somer skaars in Bloemendaal sal kom, dat ek graag sal wil sien dat dokter Walters die vlieënde Arabiese tering aan sy linkerhartklep kry en dat dit vir my heerlik is om elke dag by Merk in Uitvoering ’n kankervrye sone binne te stap. En Carmen vertel eerlik as sy ’n wyle moed verloor, en dat sy dae voor die chemo al opsien teen die naald in haar aar.

      Die onderwerpe wat taboe bly, is alles wat ná die chemo’s werklikheid sal kan word – uitsaaiings, borsamputasie en dood, om maar ’n paar te noem. Ek kry hierin steun uit ’n onverwagte oord: Negatiewe denke het ’n ongunstige uitwerking op die ontwikkeling van die siekte, skryf dr. O. Carl Simonton in sy boek. Simon, soos Carmen hom gedoop het, duld geen teëspraak nie; met hoofstuktitels soos “Mental forces can influence cancer”, “Take charge of your health” en “The scientific proof for our approach” is Simonton die Louis van Gaal van die mediese wetenskap.

      Maar soms is die lewe eenvoudig: As alle statistieke teen ons is, en alle statistieke en oorlewingspersentasies vir Simonton soos water op sy Amerikaanse eend se rug is, dan is Simonton aan ons kant. Daarom het ons die afgelope week aan enigeen wat wil hoor, vertel dat Simon se metode om kanker met positiewe denke, meditasie-oefeninge en visualiseringstegnieke te bestry wetenskaplik bewese is (al het ek eerlikwaar niemand van Gerda se tekenopdrag vertel nie). En as iemand die vaandeldraer vir positiewe denke is, dan is dit Carmen.

      Dit is tog so duidelik soos daglig, sê almal.

      As iemand dit kan regkry, is dit Carmen.

      Ons sê aan almal die gees kan sterker as die liggaam wees. Wat praat ek – is sterker as die liggaam! Ons gaan voluit! Almal wat ons liefhet, is saam met ons in die stryd teen beterwete en gryp saam met ons na hierdie strooihalms. Halleluja, Simon!

      20

      Blonde haren, blauwe ogen, uit een sprookjesboek geslopen …

      Bloem, uit “Even aan mijn moeder vragen” (Vooral jong blijven, 1980)

      Carmen se hare begin nou kwaai uitval. Wanneer sy soggens opstaan, is haar hele kopkussing vol. Sedert gister kan sy, sonder dat dit seermaak, klosse uit haar kop trek.

      “Kyk,” sê sy saans wanneer ek tuiskom, haar wysvinger ernstig omhoog, “heeldag daaraan geoefen …” Sy gaan staan voor my, trek ’n gesig asof sy haar buite weste geskrik het, kyk my grootoog aan, byt op haar lip om ’n gemaakte skreeu te onderdruk en trek met twee hande ’n klos hare uit haar kop. ’n Nuwe grap in haar Mr. Bean-repertoire.

      “Dis goed, nè?” sê sy skaterend.

      Saans staan sy in die badkamer in die spieël en kyk, haar kop effens omlaag.

      “Dit word nou erg yl, nè?”

      “Nja. Dis nog nie te sleg nie, hoor.”

      “Nee, dis nou regtig te erg. Kyk hier,” sê sy en trek ’n hand vol hare bo-op haar kop opsy. Ek sien ’n kaal kol van so ’n sentimeter.

      “Ja, as jy dit so wegtrek, sien ’n mens dit wel, ja …”

      Sy luister skaars.

      “Dis nou te erg. Ek is so bang dat mense dit een van die dae sien wanneer ek by die werk of in ’n kroeg is.”

      Sy is vasgevang tussen woede en trane. Mr. Bean has left the building.

      “Wat wil jy doen?” vra ek.

      Die oomblik waarvoor ek weke al bang is, kom nou angswekkend naby.

      “Sal ons dit maar afskeer?” vra sy huiwerig.

      “Sal ek dit vir jou doen?” sê ek en kyk in die spieël na haar.

      Sluk. Bedoel ek dit?

      “Sal … sal jy dit wil doen?” vra sy aarselend, byna verleë.

      Ek weet nie hoe ek dit regkry nie, maar ek knik en glimlag.

      “ ’Tuurlik doen ek dit vir jou.”

      Sy kyk nog ’n keer na haarself in die spieël, en sê dan ná ’n ruk: “Doen dit maar.”

      “Goed,” sê ek en kry my skeergoed uit die kassie langs die spieël.

      “Hoe wil jy dit doen?” vra sy onseker.

      “Eers met die knipper en dan die skeermes?”

      “Ja. Ek dink dit is seker die beste, nè? Dit moet glad wees. Dit moet nie onder ’n pruik jeuk nie.”

      Ek neem ’n wit handdoek en hang dit oor haar skouers. Sy bly na haarself in die spieël kyk. Soos ’n wafferse haarkapper beweeg ek my kop van links na regs en van bo na onder om vinnig na die bo- en agterkant van haar kop te kyk. Waar moet ’n mens in godsnaam begin, kan iemand my dit sê? Dan maar die agterkant, sodat sy nie sommer dadelik haar kopvel sien as ek die knipper gebruik nie? Ja, die agterkant.

      “Daar gaan ons dan, skat.”

      Ek sug diep, skakel die knipper aan en skeer van onder in haar nek ’n strook van so vier sentimeter breed. Dadelik soen ek haar op haar wang. Sy sien in die spieël die lang hare op die handdoek val, slaan haar hand oor haar mond en begin huil. Ek sluk, maar gaan onversteurbaar voort, soen haar elke paar sekondes op haar kop. Ons sê niks nie.

      Tien minute later is Carmen se kop kaal.

      Конец ознакомительного фрагмента.

      Текст предоставлен ООО «ЛитРес».

      Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.

      Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro,

Скачать книгу