ТОП просматриваемых книг сайта:
Diep spoor. Jeanette Stals
Читать онлайн.Название Diep spoor
Год выпуска 0
isbn 9781485904304
Автор произведения Jeanette Stals
Жанр Историческое фэнтези
Издательство Ingram
’n Kreun klink op van die toeskouers, maar Jabu glimlag net effens toe sy hom só as haar bruidegom uitwys.
Die fees duur twee volle dae. Nog beeste word geslag en vleis sowel as bier word elke keer oornag in die hoofhut gelaat vir die voorvaders wat nie soos mense eet nie, maar net aan die vleis lek en klein slukkies van die bier geniet.
Lungile se mense gaan hulle kos by hulle kampplek gaarmaak, eet en drink ook die bier daar. Jong mense van die twee families kom wel bymekaar om te kuier, maar die ouer mense behou meestal hulle afstand en sodoende ook hulle waardigheid. Lungile bly nog afgesonder in die hut wat vir haar uitgehou is en eet slegs die kos wat van haar ouerhuis af saamgebring is.
Die oggend van die derde dag gaan Thabisa en die ander kinders saam met die vroue wat nog gereeld hulle bloed sien langs die kraalheining staan. Die mans staan binne by die spesiale bees wat, kop omlaag, wag om geslag te word.
Die voorvaders is sekerlik gelukkig met hierdie mooi dier. Beeste behoort aan almal, van die verste voorgeslagte tot by Thabisa, haar broers en hulle kinders. Hulle voorsien die mense van kos, skuiling en klere, maar dis ook die band wat families deur geslagte heen saambind.
Eindelik kan die oudste begin. Hy verduidelik aan die voorvaders dat Lungile deel van hierdie kraal word en vra dat hulle haar hier aanvaar. Toe herinner hy hulle daaraan dat Jabu hitte van hulle nodig het sodat hulle ’n kind in sy water kan skep.
Hy lig sy benerige ou hand. Die lem flits in die oggendson en die bees se voorbene sak met ’n gesmoorde bulk onder hom in.
Bloed borrel by sy bek en neusgate uit.
Jabu se jong vriende wag in spanning terwyl die karkas oopgesny word en toe die oudste die galblaas vir hulle gee, ruk hulle op na die hut waar Longile en haar bruidsmeisies skuil. Die opening is met stokke en matte toegemaak, maar onder toejuiging van omstanders en benoude gille vanuit die hut forseer die mans hulle pad binnetoe.
Die bruid se vriendinne probeer nog keer, maar die mans slaag daarin om die gal oor Lungile te sprinkel: medisyne teen maagdelike malheid. En omdat sy met dié gal by hierdie kraal ingelyf word, sorg hulle dat nie ’n druppel op een van die ander meisies val nie. Die leë galblaas, met lug gevul, word aan Lungile se arm gebind. Vanaand sal sy Jabu se vrou word.
’n Sustertjie sal hier agterbly om vir Lungile met haar werk te help. Hierdie umuzi is nou haar plek en haar kinders sal aan hierdie familie behoort.
3
Stellenbosch
KATRIEN SIT MET NAALD EN GARE by die kombuistafel. Piepklein babaklere vorm onder haar hande terwyl sy na Gerrit se rustige stem uit die voorhuis luister. Dit word ’n waterstroom waarop sy dryf, wat soms oor klippe druis, vir ’n oomblik verdwyn en dan weer voortborrel. Hier en daar herken sy die rympies en ander lesse uit Trap der jeugd waarmee sy ook skoolgegaan het. Wanneer die kinders agter Gerrit aansê, praat haar lippe geluidloos saam.
Vir die afgelope vyf jaar is dit Gerrit se stem wat haar vir rukkies bo daaglikse sloerwerk uitlig en wanneer hy sing, vlieg sy steeds hoër. Sal hierdie kind wat in haar groei ook ’n seuntjie wees of dalk ’n dogtertjie? En sal dié mensie Gerrit se helderblou oë hê? Belangriker nog, sal die kind welgeskape wees?
Soveel vrae en net die tyd kan dit beantwoord.
Dina hang wasgoed buite op die draad. Sy sien uit na Katrien se nuwe baba. Maar sal die geboorte so goed afloop soos met Fransie? Sy onthou daardie nag asof dit gister is, hoe benoud sy was. Hoe sy in die kombuis water aan die kook gehou het tot die mure nat was van die stoom. Tussendeur het sy vir Gerrit koffie aangedra na die voorhuis waar hy op sy viool gespeel het.
Die ganse nag het hy gespeel, net vir kort rukkies opgehou wanneer hy die koffie drink en sy vingers ’n bietjie strek. So gevoelvol en rustig het sy hom nog nooit hoor speel nie, vir Katrien, omdat dit die enigste manier was waarop hy haar kon bystaan.
Syself het vir rukkies daar op die bank gaan sit om te luister en te kyk hoe die lang vingers van sy linkerhand gly en druk oor die viool se nek. Hy was in homself gekeer, skynbaar heeltemal onbewus van haar.
Katrien is gelukkig, sy het ’n baie goeie man. En nou is daar ook ’n tweede kind vir hulle op pad.
4
Land van amaZulu
THABISA STAAN EN KYK hoe Jabu en sy jonger broers aan ’n nuwe hut werk. Hulle oupa het vir Jabu ’n stuk grond naby die rivier gewys waar hy landerye aangelê het vir Lungile om te bewerk en nou kry sy vrou ook haar eie hut.
Dis einde somer, maar die mans sweet van die harde werk en hulle sing liedjies om krag aan hulle arms te gee. Die twee jonger broers kom kort-kort regop om te rus, ’n bietjie te lag en gesels, maar Jabu se rug bly krom. So is haar broer. Hy draai nie uit as hy ’n pad gevat het nie. En nou wil hy sy vrou se hut klaarmaak.
Jabu wys dit nie maklik nie, maar Thabisa weet hy is lief vir Lungile. Sy is koel water wat die vuur blus wat Shaka se oorloë in sy ingewande aangesteek het. Haar broer begin eindelik weer met ’n glimlag na die wêreld kyk.
Die stokke is geplant en die mans buig die punte oor na mekaar toe.
“Nie so ver daar nie,” beduie Jabu aan Msengi. “Dit trek skeef.”
Ná ’n paar verstellings is hy tevrede en bind die punte met grastoue aan mekaar vas. Toe staan hy terug om die ronde struktuur te bekyk. “Dis reg so. Nou vir die dwarslatte en dan die binnekant.”
“Môre is nog ’n dag,” protesteer Fana, hulle ander broertjie.
“Kom! Jy wat een van die dae ’n kryger wil word,” terg Jabu. “Kom maak sterk jou spiere, anders maak Shaka van jou ’n dooie man. Die gras wag al om gesny te word.”
Die hele familie gaan uit om dekgras te maak. Mans doen die snywerk, vroue bind dit in bondels saam en die dogters en kleiner kinders dra die bondels aan. Seuns bly rustig teen die rant in die son lê met een oog op die beeste.
Die Oudste se hutte sal eerste opgeknap word en daarna moet die res ook diggemaak word vir die reënseisoen.
Lungile moet haar nuwe hut klaarmaak en Thabisa sit hand by. Sy en haar skoonsuster werk goed saam, gesels lekker en lag ook baie. Toe hulle klaar is met die dekwerk, gee hulle die hut ’n vloer van fyngestampte miershoop. Dit kan nog nie met beesmis gesmeer word nie, want Lungile mag nie aan enigiets van hierdie kraal se beeste raak nie, nie die melk of die mis nie. Eers wanneer sy ’n kind het, sal dit verander en dan sal Thabisa haar weer help, want die reuk van mis lê diep in haar, soos gedagtes waarvan net die hart weet.
Hulle is klaar met die vloer en Lungile vee die los stukkies klei met ’n grasbesempie bymekaar. Thabisa gaan gooi dit weg. Toe sy terugkom, hurk sy langs Lungile en hulle kyk na hulle handewerk. Die vloer is glad en netjies.
Lungile sit haar hand op Thabisa se arm. Vreugde en dankbaarheid straal uit haar sagte oë. “Ngiyabonga, dadewethu.”
“Ek is bly ek kon jou help.” Dit is so. Sy gee baie om vir Lungile en sal enigiets doen om haar gelukkig te sien.
Met die volgende volmaan word Thabisa die oggend wakker en sien vir die eerste keer haar bloed. Sy hardloop die veld in en kruip weg tot haar susters haar kom haal, van kop tot tone in ’n vel toedraai en terugneem na haar ma se hut. Hier gaan sy met haar kop op haar elmboog agter die afskorting lê wat haar pa van stewige latte gevleg het.
“Ek bring netnou vir jou die kos om jou sterk te maak,” sê haar ma en gaan uit sonder om op ’n antwoord te wag.
Thabisa mag in hierdie tyd nie praat nie, net fluister as dit noodsaaklik is. Heelwat ander taboes sal ook van nou af in hierdie paar dae geld.
Saans