Скачать книгу

vir die res van haar lewe alleen aansukkel nie.”

      “Ja, sy is ’n sagte mens,” het Ou Dominee se vrou geantwoord. “’n Besonderse mens wat dinge ter harte neem.” Ná ’n rukkie het sy bygevoeg: “Stefaans is ’n sterk man. Mens hoop net dit gaan goed met hulle twee vorentoe.”

      ’n Sterk man, ja, maar nie klip nie. Nee, beslis nie klip nie.

      Hy is vanoggend vroeg weg om sy ooms en tantes in die Wagenmakersvallei te gaan besoek. Sy het gehoor hy vertel vir Katrien hy was vyftien toe hulle getrek het en sy ouers daar in die Oos-Kaap sal wil weet hoe dit met almal gaan en wat die nuus is. Maar hy gaan ook ’n wa haal wat hy met sy besoek verlede jaar by die wamaker bestel het.

      Het Stefaans tóé al geweet hy sou sy nuwe vrou terugneem huis toe?

      En sê nou Katrien het intussen met iemand anders getrou?

      Dina sug en vat die stoflap om binne te gaan netjies maak. Langs die boekrak bly sy staan en kyk na die dik boeke, haal ná ’n rukkie een uit die rak. Sy het haar lanklaas tyd gegun. Op ’n stoel voor die venster gaan sy sit en vee oor die goue letters op die omslag. Vreemde woorde wat haar herinner aan Gerrit se vertellings van skepe uit ver lande wat op hulle handelsroetes hier by die Kaap aandoen.

      Miskien kom ’n handelaar met ’n skip uit Spanje of iewers. Hy sien haar hier in Stellenbosch. Toe hy agterkom sy kan lees en sien hoe pragtig sy kan skryf, smeek hy haar om saam met hom op die skip terug te vaar, vir sy klein kindertjies te gaan skoolhou. Hy is natuurlik ’n wewenaar wat slegs sy eie, vreemde taal kan lees. Nou sit hulle hier op die bank en met oë vol passie vra hy sy moet vir hom uit hierdie boek voorlees.

      Sy slaan die dik boek oop op haar skoot en draai haar kop effens skuins. Haar lang, goudbruin hare vorm ’n sagte gordyn langs die kant van haar gesig, nes Katrien s’n. Sy is reg om te begin lees, maar dis sulke lang, moeilike woorde.

      “Dina?”

      Sy klap die boek toe en laat dit amper val. “Ja?” Hees geskrik.

      “Iets verkeerd, Dina?”

      “Nee! Ek stof net af.”

      Katrien lag. “Ook binne-in die boeke?”

      Sy grinnik. “Ek probeer lees, maar kan nie ’n woord uitmaak nie.”

      “Sekerlik wil jy dit ook nie lees nie, Dina. Dis doktersboeke.”

      “Ek weet, ja.”

      Katrien bly voor die boekrak staan en laat gly haar vingers oor die netjiese rye, huiwer kort-kort by een van die titels. “Dit sal hier moet bly,” sê sy ná ’n rukkie. “Niemand sal dit lees nie, behalwe miskien Fransie, eendag wanneer hy groot is.”

      “Gaan jy niks boeke saamvat nie?”

      “Net skoolboeke vir later. Die alfabet kan ons self vir kinders leer. Maar die Trap der jeugd en Onderhoudend geschenk voor kinderen moet saamgaan; dit het mooi prente vir kinders om te kyk. En natuurlik een of twee boeke vir ons om te lees.” Kwelling kom in haar oë. “En jy? Kom jy saam, Dina?”

      “Ek weet nie.” Sy skud haar kop en kyk weg.

      “Jy kan bly.” Katrien praat huiwerend. “Dis nou as jy wil.”

      As ek wil? Sy kyk om haar rond, na die blinkgepoleerde meubels, die tafel waarby sy ook saam met Katrien en Fransie aansit. Sy dink nou al dae aaneen en weet nog steeds nie wat om te doen nie. Hulle gaan baie ver weg, hierdie suster van haar en hulle seun.

      As sy saamgaan, sal haar lewe ander draaie maak. Hoeveel anders? Katrien weet niks en sy nog minder van wat daar vir hulle wag. Maar wat bly hier vir haar oor? Terug plaas toe? Om weer een van die slawe te word?

      “Ek sal baie bly wees as jy kans sien om saam te kom,” sê Katrien.

      “Ek moet eers met my ma daaroor praat,” probeer Dina tyd wen.

      “Dis reg so.”

      Sy vlug kamer toe, waar sy haar gesig met koue water afspoel tot haar gedagtes helder is. Toe tel sy die handspieëltjie op wat sy laas Kersfees by Katrien gekry het en kyk daarin. Haar gesig staar strak terug.

      Sy vat aan haar wang. Ma sê hierdie mooi ligbruin vel kom van haar ouma wat uit Java gebring is. Die groot, bruin oë ook. Maar hierdie kroeserige hare kom van wie weet waar.

      Ongeduldig vee sy die voorste hare wat weerbarstig langs haar ore uitkrul plat. Haar hare is lank genoeg om dit in ’n rol te maak en vas te steek, maar die voorste kort hare spring regop en gaan hulle eie koers.

      “So lyk jy,” sê sy vir haar beeld. “Jy kan vergeet van lang, gladde hare.”

      Sy sit die spieël neer en gaan op die bed sit, kyk om haar rond. Die klere, die handspieël met die satynblom daarop geplak, dis al wat aan haar behoort. En die man van haar drome? Hy sal haar mos nooit by haar ma op die plaas kry nie.

      Daar in die Oos-Kaap? Sy twyfel. Almal sê dis ’n harde wêreld. Die droom sal hier in Stellenbosch moet agterbly, saam met haar kleintyd.

      Daar het ’n man van ver gekom, maar hy het nie vir haar kom haal nie.

      Later staan sy op en gaan kombuis toe om die wasgoed te was. “Ek dink ek sal saamgaan,” sê sy in die verbygaan en tel die wateremmer op om die balie vol te maak. Sy kyk nie na Katrien nie, want dié mag nie weet hoe sy voel of wat sy dink nie. In hierdie huis het sy die kans op ’n beter lewe gekry en sy mag dit nooit vergeet nie.

      “Ek is so bly, Dina!”

      Sy sug en kyk om na waar Katrien in die middel van die kombuis staan, haar kop so vol verlief, sy weet nie mooi wat om met haarself aan te vang nie.

      Sy gaan my nodig kry daar in die vreemde en dit moet my enigste rede wees om saam te gaan.

      12

      KATRIEN EN STEFAANS SIT SAAM met haar familie in die kerk en toe die diens verby is, vra Ou Dominee dat hulle voor die kansel kom staan vir die huweliksbevestiging.

      Sy het gewone kisklere aan en sy ervaar nie dieselfde afwagting en meelewing by die familie en gemeentelede as wat destyds die geval met haar en Gerrit se bevestiging was nie. Dina het darem gesê die ligblou rok pas mooi by haar grys oë en sy voel goed. Stefaans kan ook nie sy oë van haar afhou nie.

      “Ons is hier vergader om die weduwee Katriena Margaretha de Lange in die eg te verbind met die geskeide man …” haar peetpa se ou stem sak weg, maar hy kyk op in Katrien se gesig en beur weer voort, “Stefanus Gerhardus du Toit.”

      Familie en vriende is weer vir ’n middagete plaas toe genooi. Daar is minder mense en die atmosfeer is byna gedemp, maar Katrien loop op ’n wolk tussen die gaste deur terwyl hulle haar soen en geluk toewens. Hier en daar is ’n gesig met bedenkinge: So ver weg, en nogal met ’n geskeide man? Maar hulle sê niks, want Ou Dominee het sy seën daaroor uitgespreek.

      Tant Aletta sit eenkant op ’n stoel omdat haar bene nie meer wil staan nie. Sy wink vir Katrien nader. “Ek het vir jou iets gebring.” Sy haal die verfkissie onder haar tjalie uit. “Dis nou joune. Ek het nie meer nut daarvoor nie.”

      “Tante!” Katrien is sprakeloos. “Ek kan mos nie—”

      “Natuurlik kan jy. Ek gee dit vir jou, Katrien. En ek hoop jy sal dit goed benut. Daar is rolletjies papier bo-in. My laaste paar stukkies.”

      Katrien het nie woorde nie. Sy buk en slaan haar arms om die vrou aan wie sy alreeds soveel verskuldig is. “Baie, baie dankie, Tante,” kry sy dit met moeite uit.

      “Ag, my kind, dis sommer niks.”

      Katrien knip trane uit haar oë; die tante het haar siel hier aan háár toevertrou. Toe sy regop kom, staan Gerrit se ouers gedwee ’n entjie weg. Hulle wag om haar ook geluk te wens.

      Met die knop nog in haar keel loop sy na hulle toe.

      Gerrit se pa soen haar en sy ma hou haar lank vas. “Ons hoop jy sal baie gelukkig wees,

Скачать книгу