Скачать книгу

se eerste woorde toe hy die volgende oggend in die kombuis kom. “Ons gaan by Ouma-hulle kuier.”

      Dina los die paplepel in die kastrol en swaai om. “Ek dag … Hy’t dan gesê hy gaan vandag terug.”

      “Nee, die weer moet eers opklaar om oor die berge te kan kom.” Hy kyk gretig na haar. “Gaan jy saam?”

      Sy vat weer die lepel en skep van die pap in ’n bord, plak dit voor hom neer. “En die skool dan?”

      “Aag, twee dae is mos niks. Kom jy saam?”

      “Nee.” Haar stem is dik in haar keel en sy draai terug na die vuurherd. “Daar’s nie plek in ’n kapkar nie.” Hulle sal my nie vra of ek wil gaan nie, is wat sy eintlik wil sê. Katrien het gisteraand gelyk asof sy nie daaraan sal dink dat ek ook ’n ma daar op die plaas het nie.

      “Wat ’n verrassing!” roep Katrien se ma toe sy op die voorstoep van die plaashuis uitkom en sien wie die besoekers is.

      “Dit is Stefaans du Toit, Moeder. Hy’s ’n vriend van dokter O’Flinn. En dis my ma.” Katrien is verlig om goedkeuring op haar ma se gesig te sien toe sy Stefaans se hand skud.

      “Bly te kenne, Stefaans. Johannes is iewers buite besig en sal seker netnou hier wees. Maar kom nader, ons kan solank iets drink.”

      “Dit sal lekker wees, dankie, Tante.”

      “Julle bly seker oor as ek so na die koffers kyk?”

      “Vir een nag, as dit reg sal wees met Moeder en met Maria?”

      “Natuurlik, hier’s oorgenoeg slaapplek.”

      “Ek gaan vir Sultan opsaal,” sê Johannes toe hulle van die etenstafel af opstaan. “Dalk tyd geword dat Fransie ’n ordentlike perd ry.” Hy lag moedswillig toe Katrien ontsteld na hom kyk. “Of sal ek liewer ’n koei opsaal, noudat die mak Bessie gevrek het?”

      “Vir Sultan,” sê Fransie vinnig en voeg sagter by: “Ek wil hom leer ry.”

      “Gerrit se perd was ook hondmak!” bars Katrien uit.

      “Moenie jou so ontstel nie, Katrien,” kom haar ma tussenbeide. “Fransie is nie van porselein gemaak nie.”

      Katrien gryp die stapel vuil borde en vlug daarmee kombuis toe, want sy wil nie voor Stefaans aan die huil gaan nie. Sê nou iets gebeur met Fransie? Sultan is ’n beneukte hings, Johannes het self al so gesê. As Dina maar net hier was. Ma en Maria sal nooit verstaan nie.

      Sy sit die breekgoed op die kombuistafel neer en gaan staan by die venster, kyk uit. Johannes sit die saal op Sultan se rug en Stefaans staan langs Fransie. Verbeel sy haar of distansieer hy hom van Johannes se dinge?

      Johannes is klaar en hou die perd se teuels na Fransie uit. Haar seun lyk klein en weerloos. Moet sy uitgaan en loop keer? Nee, Stefaans het reeds die teuels by Johannes gevat en sit sy hand op Fransie se skouer, praat met hom. Dit lyk asof Fransie meer moed kry. Hy klim op. Stefaans stap eers ’n entjie saam, sy hand op Sultan se halter voor hy laat los en wegstaan.

      Dankie, Stefaans. Dankie, dankie.

      Met ’n vinnige skietgebed vir haar kind se veiligheid draai sy weg en gaan terug voorkamer toe.

      Dit duur nie lank nie voor Stefaans hulle roep. “Kom kyk gou hier buite!”

      Hulle gaan staan by hom op die stoep en kyk hoe Fransie met bloedrooi wange aangery kom. Reg oorkant hulle waai hy vinnig met een hand.

      “Sien jy nou, Katrien. Jy bekommer jou verniet oor alles,” sê Maria.

      Haar ma maak ’n handgebaar om dit te beaam.

      Dankie, liewe Vader, dankie dat Stefaans vandag hier was.

      “Ons saal vir jou ook ’n perd op, dan wys ek vir jou die plaas,” sê Johannes toe Fransie afklim en Katrien besef dat Stefaans vir die res van die middag deur Johannes in beslag geneem sal word. Sy sal haar teen wil en dank saam met haar ma en Maria met ditjies en datjies moet besig hou.

      Die son hang al skuins toe die twee mans weer op die werf aankom en onder die groot boom gaan sit. Katrien skink koffie om vir hulle te neem.

      Stefaans staan op toe sy naderkom, vat een beker by haar en bied sy stoel met ’n handgebaar vir haar aan.

      “Dankie. Maar waar sit jy dan?”

      “Moeg gesit, al die pad vanaf die Oos-Kaap.” Hy gaan leun met sy rug teen die boomstam.

      Johannes sluk sy koffie af en staan op. “Nou ja, ek gaan gou kyk waar hulle melk.”

      “Ek loop saam,” sê Stefaans.

      “Toemaar, ek’s nou weer terug,” keer Johannes. “Ek wil net seker maak Herklaas sit salf op Blommie se spene voor hy melk.”

      Stefaans gaan op Johannes se stoel sit. Hy lyk gretig om hier by haar te bly.

      ’n Voël skel tussen die boomtakke bokant hulle koppe.

      “Dis ’n mooi plaas. Jou broer weet wat hy doen.”

      “Ja,” lag sy effens, “ek sien dit seker nie meer aldag raak nie. En jy? Hoe lyk dit daar waar jy vandaan kom?”

      Stefaans se donker oë bly op haar. “Baie anders,” sê hy versigtig. “Dis mos beeswêreld.”

      Sy kyk af, intens bewus van die man hier langs haar. Die geur van sy klere gaan nie net na haar longe toe nie, maar ook na haar kop. Sy kyk na die spore voor hulle op die grond, volg dit tot by Stefaans se stewels en hoër op. Sy hand rus op die stoel se armleuning. ’n Mooi hand. Lang vingers met senings wat styftrek waar hy die hout vasvat. Hy is baie gespanne.

      “K-katrien …”

      Sy oë staan intens op haar stil en dit voel asof sy in warm water gedompel word. Soos botter begin sy smelt.

      “Ek moet met jou praat.” Sy diep stem raak aan die senupunte van haar lyf en haar mond word kurkdroog terwyl sy wag.

      “Katrien!” roep haar ma uit die huis. “Kom sny gou vir ons die brood.”

      Stefaans maak sy oë toe en sy mond trek skeef, maar dit lyk eerder na pyn as na ’n glimlag. Hy staan op. “Die mens sal van brood alleen nie lewe nie.” Hy stap weg in die rigting wat Johannes ingeslaan het.

      Katrien se bene is bewerig toe sy huis toe loop. Kon Ma nie net ’n rukkie langer gewag het nie? Wat wou Stefaans sê wat vir hom so moeilik is?

      8

      DIS OGGEND EN DIE SON SKYN al by Katrien se venster in. Geen wonder sy het verslaap nie, sy het gisteraand laat nog wakker gelê. Die twee mans het bly sit toe die vroue bed toe is en sy kon nie help om te wonder waaroor Johannes en Stefaans tot so laat in die nag praat nie.

      Waarom is alles nou so stil? Waar is almal?

      Sy leun teen die kussing terug en glimlag. Stefaans sal sekerlik nie ver wees nie. Daardie aand met hulle heel eerste ontmoeting het hy reeds iets vir haar gevoel, was daar ’n soort verbintenis. En sy het hom daarvoor kwalik geneem, want dit het haar bang gemaak. Nou weet sy hulle is twee helftes wat van mekaar losgebreek is en herstel moet word. En sy hoop Stefaans wag nie te lank nie.

      Sy kom vinnig regop en skud haar kop.

      Nugter bly, Katrien. Die man bly ver en jy moet aan Fransie ook dink.

      Sy lê weer terug teen die kussing. Fransie kom goed met hom oor die weg, sien selfs op na hom. Ook Ma was gister baie danig met Stefaans. En sy self kan aan niks anders as dié man dink nie. Haar hele wese reik uit na hom.

      Half verleë vlieg sy op uit die bed en gaan na die wastafel, gooi water uit die lampetbeker in die skottel en begin was.

      Sy kies sorgvuldig haar klere vir vandag. ’n Ligblou rok met opnaaisels oor die bors en ’n romp wat tot op haar voete hang. Terwyl sy voor die spieël staan en hare borsel, kyk sy met ander oë na haarself. Die vrou met die skraal

Скачать книгу