Скачать книгу

by die informaliteit van die Report Squad. Sy sit agter haar rekenaar, om kwart voor nege, besig om haar eerste News This Week te lees, die brokkies uit Limpopo en Mpumalanga. Daar is ’n afwagting in die kantoor. Oom Theunie, een van die twee bleskoppe, het gesê daar kom iets groots, want Bigfoot het vir Moeder ingeroep, ’n besliste voorteken.

      Oom Theunie met sy byname. “Moeder” is mev. Killian. “Bigfoot” verwys na Rajkumar, die gesette Indiër, vir wie hy ook “A.S.” noem, ’n afkorting vir “Abominable Snowman”, of “The Incredible Bulk”, of soms net “The Bulk”.

      Vir Milla noem hy “Carmen”, vir Jessica “Freia” (of “The Goddess” as hy in die derde persoon na haar verwys), vir Don MacFarland, die ander omie in die span, “Mac” of “Mac the Wife”.

      “Hoekom ‘Mac the Wife’?” het sy gevra.

      Toe antwoord Don haar self. “Because I’m gay, my dear.”

      Om kwart oor nege kom mev. Killian haastig in, roep hulle byeen met ’n klompie dun lêers in die hand.

      “The Bulk has spoken,” sê oom Theunie.

      “Theunie, jy gaan die executive summary skryf, the rest of you will be doing addendums. Sy gee vir Milla ’n lêer aan. “Jou onderwerp is Johnson Chitepo. Kyk wat hierin is, kyk of jy enigiets meer onlangs op die internet kan kry, en laat Theunie vir jou verduidelik hoe die formaat werk. Jess, you will be doing Sayyid Khalid bin Alawi Macki …”

      “Who?”

      “It’s all in here, but it’s badly dated. Interesting man. Don, I’m giving you the important stuff.”

      “Of course you are.”

      “Qibla, the Supreme Committee, Al-Qaeda, and a brand new subject – a Mister Julius Nhlakanipho Shabangu, a.k.a ‘The Bull’.”

      “Because he has such a big horn?”

      Sy lag nie. “It’s big and it’s urgent. Let’s get going.”

      * * *

      Op haar rusbank, met die dag se adrenalien wat nog deur haar bruis, die genoegdoening van die kameraderie en die leerkurwe en kollegiale kwinkslae nog vars in haar gedagtes, besluit sy impulsief om haar seun te bel.

      “Hallo?” sê hy, tiener-agterdogtig vir ’n nommer wat hy nie ken nie.

      “Barend, dis ek.”

      “Ma?” Verstomming.

      “Ek wou net jou stem hoor.”

      “Waar is Ma?”

      “Ek is by my nuwe huis. Hoe gaan dit met jou?”

      “Ma … Jissis, Ma …”

      “Barend …” Sy is spyt sy het gebel; die insig dat haar euforie net hare is.

      “Ma het ’n huis?”

      “Dit is ’n klein woonstelletjie. Kan ons net gesels?”

      Haar seun wat huiwer voor hy antwoord, ’n tentatiewe “O.K.”

      “Hoe gaan dit?”

      “Ma … Wil Ma regtig weet?”

      “Ja, Barend, ek wil regtig weet. Jy weet ek is baie lief vir jou.”

      “Nou hoekom het Ma weggeloop?”

      Weggeloop. “Het jy my briewe gekry?”

      “Is ons dan só sleg, Ma?”

      Iets in die woorde, die trant daarvan, laat haar vermoed dit kom uit Christo se mond. Sy wil skielik nie meer praat nie, maar het geen keuse nie. Sy sit regop, konsentreer. “Ek het so mooi vir jou probeer skryf, dat dit nie julle is nie …”

      “Ma …”

      “Gee my net ’n kans, asseblief. Ek moes wegkom, juis omdat ek vir jou lief is, Barend, ek weet nie of jy dit sal kan verstaan nie.”

      Hy sê niks.

      “Kan ek jou iets vertel? Ek het werk gekry, ek het vandag hierdie ongelooflike dag gehad, ek het gevoel ek beteken iets …”

      “Ma kon gebly het en ook ’n werk gekry het. Hoekom moes Ma wegloop?”

      Sy is op die punt om in die ou groef te verval, bedink haar betyds. “Hoe gaan dit met jou skoolwerk?”

      “Hoe dínk Ma gaan dit? Ons het nou ’n meid, ek moet huis toe kom na ’n mei …”

      “Barend!”

      Hy mompel iets.

      “Waar leer jy dit?” Maar sy weet waar. Christo, die koverte rassis. Christo, wat voor sy seun sy lot sou bekla: “Nou moet ons huis toe kom na ’n meid toe. Dís wat jou ma gedoen het.” Sonder om vir een oomblik te wonder of hy skuld daaraan het.

      “Wat gee Ma om?”

      Milla trek haar sigarette nader. Sy moet haar kalmte behou. “Ek het gehoop ons kan gesels. Sonder verwyte. Ek het gedink as ons gereeld kan gesels, kan ons probeer om ons verhouding weer te herstel.”

      “So dit was ék wat Ma weggejaag het.”

      “Barend, ons verhouding was heeltemal stukkend. Ek is bereid om dit te probeer regmaak. As jý is.”

      “Sal Ma terugkom?”

      “Miskien moet ons nie nou al praat oor die toekoms nie. Kom ons vat dit dag vir dag. Kom ons probeer net eers regmaak. Wat dink jy?”

      Hy bly ’n ruk lank stil. “O.K.”

      11

      (8 September 2009. Dinsdag.)

      In Rajkumar se kantoor sit Janina Mentz die Report Squad se verslag voor die gesette Indiër neer en sê: “It’s not good enough.”

      En dan vertel sy vir hom van die veranderinge wat sy wil hê, die groter klem op moontlike wapentransaksies. Sonder om vir Raj in te lig oor die bron van haar inspirasie. Want ’n uur vroeër het sy die jongste berig in Die Burger gelees, die een wat sê ’n parlementêre storm het losgebars oor die DA-LP wat beweer die ANC-regering verkoop wapens aan sogenaamde muishondlande. “Nasionale veiligheid is op die spel geplaas. Maynier kan strafregtelik vervolg word,” het ’n lid van die regerende party gesê.

      Janina Mentz is verheug oor dié wending, oor die hele kwessie van wapentransaksies wat opnuut in die kollig is. Sy weet dit is die laaste ding wat die president sal wil hê, gegewe die stigma wat ook kleef aan Mo Shaik, wat dalk die nuwe intelligensie-superstruktuur moet lei, al is dit net deur assosiasie met sy veroordeelde broer.

      As sy dit reg hanteer, bied dit ’n hefboom.

      * * *

      (9 September 2009. Woensdag.)

      D-dag vir Operasie EAM Quinn sit voor die drie monitors, met die kommunikasie-kopstuk op. Net hy, want hulle soek nie getuies as dié ding verkeerd neuk nie. Gespanne, want die operasie is sy idee, en dit is riskant. ’n Klein mislukking kan hulle nog toesmeer, bestuur as ’n tydelike terugslag. Maar as dinge lelik skeefloop, is die hele Supreme Committee-projek in sy maai.

      Die doelwit is om ’n elektro-akoestiese mikrofoon (EAM) in die muur van Chamberlainstraat 15 te plant – ’n toestel wat ook bekend staan as ’n “beton”-mikrofoon en soms deur loodgieters gebruik word om na waterlekke in mure te soek.

      Hy het self ’n week gelede met die oplossing gekom: Gebruik die bestaande struktuur om die mikrofoon diep in die beton en steen van no. 15 se voorste muur te plant – die TV-satellietskottel, wat deur ’n vorige eienaar aan die buitemuur vasgeskroef is, net links van die voordeur.

      Die tweede stap was die voorbereiding. Die PIA se tegniese afdeling, onder leiding van ’n geesdriftige Rajkumar, het ’n identiese replika van die skottel en stut-arm gemaak, gebaseer op foto’s wat van oorkant deur die venster geneem is. Een van die vier skroewe

Скачать книгу