Аннотация

’n Skenkerhart gee Mienke Langeveldt ’n tweede kans op die lewe. Maar sy kan dit nie ten volle geniet nie, want sy het per ongeluk uitgevind wie die vrou was wat moes sterf sodat sy kon lewe: geliefde aktrise Sheralize Myburgh wat saam met haar man, Franco Greeff, in ’n gewilde sepie gespeel het. Mienke wil haar dankbaarheid teenoor Franco en sy kind, Audrey, betoon sonder dat hulle uitvind wie sy is. Toe sy die geleentheid kry om vir Audrey skool te hou in Franco se kasteel by Noetzie, gryp Mienke dit aan, ondanks ’n gegis dat Sheralize se dood nie ’n ongeluk was nie. Is Franco net so ’n skurk soos die karakter wat hy in die sepie vertolk? Enersyds weet sy nie of sy Franco kan vertrou nie, maar andersyds voel sy sterk tot hom aangetrokke, al vreet die skuldgevoel haar op. Hoe moet sy haar hartsbegeertes verstaan? Is daar werklik iets soos sellulêre geheue? Voel sy net wat Sheralize gevoel het weens die hart wat in haar lyf klop? Of is Franco regtig die man wat Mienke wil hê?

Аннотация

Isolde Harmse is desperaat om te vlug nadat haar obsessiewe eksman, Reghardt, weereens uitgevind het in watter dorpie sy wegkruip. Dan daag Hugo Barnard, die beroemde kletsrymer wat onder die verhoognaam Adonis optree, by haar masseerpraktyk op en toe hy hoor hoe Reghardt haar oor die foon dreig, bied hy vir haar ’n uitkoms aan. Hy sal haar beskerm en met hom saamneem tot in die Kaap as sy sal voorgee om sy meisie te wees ter wille van reklame vir sy nuwe album. Hugo meen hulle moet Reghardt uitlok sodat die polisie hom eens en vir altyd kan vastrek.En Isolde stem in, want sy kan nie so aangaan nie. Buitendien sal dit nie ’n straf wees om aan dié vuurwarm man met die sagte hart se arm te verskyn nie – al het hy tatoes en ‘n oorbel! Dalk kan sy Hugo ook help, want hy dra blykbaar onnodig swaar aan skuldgevoelens. Of steek daar waarheid in die sinistere stories wat Isolde oor Hugo se verlede hoor? Kan sy haar hart aan hom toevertrou, of is sy al weer met ’n gevaarlike man deurmekaar?

Аннотация

Vroedvrou Anouk doen dinge op háár manier. Sy maak al jare lank haar dogtertjie alleen groot, so al rondreisend van die een Overstrandse kampeerterrein na die ander, en selfs as Anouk snags moet uitgaan na ’n geboorte kom sy en klein Skyla goed reg, dankie. Sy’t g’n ’n man nodig nie. Maar wanneer ’n geboorte skeefloop en Anouk in ’n regsgeding betrokke raak, kom hy weer oor haar pad: Die groot tienerliefde vir wie sy nie goed genoeg was nie, wat haar as net nog ’n jol beskou het . . . wat haar swanger gemaak en toe weggedryf het. Of so onthou Anouk sake. Rossouw is nou ’n spesialis in die mediese reg en moet haar wanpraktyksaak hanteer, en hy het ’n heel ander interpretasie van wat jare gelede tussen hulle twee gebeur het. Toe hy leer Skyla is syne, is hy vuur en vlam om dinge tussen hom en Anouk weer te laat werk. Maar hulle’t albei soveel bagasie oorgehou, en boonop raak Skyla net toe baie ernstig siek. Anouk en Rossouw het reeds ’n swaar pad gestap, maar daar lê nog langpad voor . . .

Аннотация

Carli het die werk by die mobiele kliniek bitter nodig. Haar suster en swaer se dood beteken sy moet baie vinnig werk en goedkoop blyplek vind, en die Karoo bied albei. Dít en herstelkans van die trauma van haar suster se “ongeluk”. Maar op die plaas Sielerus aangekom, loop dinge dadelik skeef. Dodelik aantreklike dokter Eben Greyling was ’n manlike kollega te wagte en wil absoluut nié ’n vrou daar hê nie. Boonop kom daar ’n onwelkome oproep van die fertiliteitskliniek waar Carli voor die ongeluk as surrogaat wou optree vir haar suster. Sy móét hierdie werk behou, en teen sy beterwete bied Eben ’n proeftydperk aan. Sal Carli die skanse rondom sy hart afbreek en haarself onmisbaar maak – in sy kliniek én sy lewe? Of gaan haar geheim ’n wig tussen hulle indryf?

Аннотация

Toe Bella du Toit haar “skaduwee” sien, sak haar moed in haar tekkies. Sy het so gehoop dokter Markus Cameron van die Kaap is ’n gawe, vaal omie met ’n boepens en ’n bril. Dis erg genoeg dat sy hom vir die volgende maand moet saamsleep na al die geboortes wat sy hanteer en dat sy hom moet mentor in die kuns van natuurlike bevallings. Moes hy nou boonop so ’n aantreklike blikskottel wees? Bella vertrou mooi mans net so ver as wat sy hulle kan gooi. Haar ma het met ’n mooi man getrou, en kyk net waar dít hulle gebring het. Renier, Bella se universiteitsliefde, was ’n beeld van ’n man, en sy sit nou nog met die letsels. Nee, van Markus wil Bella niks weet nie. Maar omstandighede dwing haar om nou saam met haar skaduwee te werk en sy begin dieper kyk as die modelmooi uiterlike wat haar so ontstem. Is dit waar dat mens nie ’n man op sy baadjie moet takseer nie? Of was haar eerste instink tog reg: Moet sy vlug van Markus en van die gevoelens wat hy in haar wakker maak? Bella moet die donker plekke van haar siel ondersoek om einde ten laaste lig van skaduwee te kan onderskei.

Аннотация

Haar Aktiewe Geboorte-eenheid is vroedvrou Mila Mouton se hele hart en siel. Sy’s darem nog liewer vir haar kleintjie, Melissa, maar sy stort elke bietjie energie wat ma-wees vir haar oorlaat, in haar kraamkamer en haar dienste as bemagtigende vroedvrou. Vir mans het sy nie juis tyd nie ná sy deur haar eks met ’n kleine babatjie gelos is, maar haar nuwe buurman, Derek . . . sjoe, hy’s net onweerstaanbaar! En hy hou van kinders . . .Wanneer die hospitaal waar sy haar geboorte-eenheid se perseel huur, besluit dat haar deure moet sluit ter wille van iets meer winsgewends, moet Mila egter agterkom dat haar buurman betrokke is by dié plan. Gaan haar geboorte-eenheid oorleef? En wat van haar verhouding met die aanloklike maar verraderlike buurman?

Аннотация

Jemma het niks lus om haar vakansie op te offer om vroedvrou vir die sterre te speel nie en sy weier volstrek toe dokter Reuben Stiller haar nader om pop-ikoon Kaydee se eersteling op haar bosveldplaas te vang. Jemma is geen dokter se handlanger nie, dankie, daarvoor is sy gans te onafhanklik. Sy het egter nie rekening gehou met die mooie Reuben se oorredingsvermoë nie. Teen haar beterwete stem sy in om Kaydee se tuisbevalling te hanteer en om vir ’n maand lank nou saam met Reuben te werk en te leef. Dit word ’n maand vol verrassings, waarin Jemma haar innerlike staal sowel as gevoelens vir Reuben ontdek.Maar wat voel hy vir haar? Waarom is hul verhouding so ’n wipplank-affêre, een oomblik op en die volgende af? Behoort sy hart dalk nog aan sy oorlede vrou? Of steek hy ander, meer duistere, geheime weg?