Скачать книгу

lyk lelik omgekrap. “Jy moenie elke woord glo wat die spoke kwytraak nie, Otto!” Amper gly een van die agurkiebottels uit sy hand uit.

      Otto kan nie help om te glimlag nie. Toe hy die ge­raamte met die mantel en die onpaar tekkies vir die eerste keer hier in die sitkamer ontmoet het, het hy amper ’n glips gehad. Maar dis iets van die verlede. Die Griesel­gryper is net té liefdevol om grusaam te wees en boonop het hy ’n goeie sin vir humor. Dis nie sy skuld dat hy dié soort werk doen nie.

      Harry stuur elke nag die agurkiebottels met die nuwe siele wat hy bymekaargemaak het na die Oorkant. Die ingang na die Oorkant is in tannie Sharon se sitkamer; nogal in die ou staanhorlosie.

      “Ek sê maar net …” mompel Sir Tony. “Elke spook wat spook, sit mos net op aarde vas omdat een van julle Grieselgrypers hom nie betyds gevang het nie.” Hy snuif betekenisvol. “Jy is immers verantwoordelik vir hierdie deel van die stad.”

      Harry sit die agurkiebottels op die tafel neer. “Jy’s heeltemal reg.” Hy vou sy skoenlappernet toe en stap na die vreemde spook. “Maar met dié een het my Spaanse kollegas duidelik drooggemaak.”

      Die Torero kyk uitdagend na hom. “Wat daarvan? Ék bly nou in hier­die villa,” hou hy vol en kyk in die sitkamer rond. “Ek hou van die atmosfeer hier. Die klomp horlosies laat die casa so … huislik voel.”

      Harry tik met sy benerige wysvinger teen sy slaap. Dit klink hol. “Huislik? Met die alewige getiktak? Die vent het nie al sy varkies op hok nie.” Toe vra hy die spook: “Hoe lank is jy nou eintlik al dood?”

      “Lank genoeg,” blaf die Torero.

      “Is dit al langer as die laaste volmaan?” vra Harry.

      Otto luister gespanne. Harry het hom vertel dat die siele van dooie mense elke keer net tot die daaropvolgende volmaan na die Oorkant gestuur kan word. Daarna is hulle verdoem om as spoke op aarde te bly.

      “Ek dink hy is al langer as dit dood,” onderbreek Sir Tony hulle. “Hy lyk al soos ’n regte spook.”

      “Dis waar,” stem Otto saam. As iemand so pas die hede met die hiernamaals verwissel het, sweef sy siel soos ’n gloeiende rooi bal bokant sy kop rond. Hy het dit self gesien toe sy buurman, meneer Olsen, oorlede is.

      Harry dink ’n rukkie oor alles na. “O wel, dis maklik om vas te stel of ons nog van die ou ontslae kan raak.”

      “Ai-jai-jai! Wat de guacamole …” skel die klein spook, maar op daardie oomblik vou Harry sy skoenlappernet oor sy kop. Met ’n geoefende hand druk hy hom in ’n leë bottel en skroef die deksel styf toe. Al wat Otto kan hoor, is ’n dowwe geskel in Spaans van die spook se kant af.

      “Kom ons kyk of die Oorkant hom nog gaan vat,” mompel Harry, terwyl hy na die staanhorlosie se kant toe stap. Nadat die horlosie dertien slae geslaan het, maak hy dit oop en sit die bottel op die vervoerband. Dit duur net ’n paar sekondes voordat die vervoerband Harry se agurkiebottel weer uitspoeg. ’n Klein notatjie verskyn in die gleufie onder die horlosie se gesig.

      Harry hou die nota so dat Otto dit ook kan lees.

      FOUT! Afleweringstyd oorskry. Siel kan nie meer aanvaar word nie.

      Die spook in die bottel grynslag parmantig.

      “Deksels,” sê Harry vies en vat die bottel ’n bietjie teë­sinnig terug. Hy kyk na die inhoud. “Wat gaan ek nou met die ou maak?”

      “Hy kan onder geen omstandighede hier bly nie,” sê Sir Tony vasberade en vou sy arms.

      Otto stem saam met hom. Drie spoke, ’n pratende vlermuis en ’n chaotiese Grieselgryper is meer as genoeg vir hom. Hy sien nie ook nog kans vir ’n bakleierige Torero wat daarvan hou om met die horlosies se tyd amok te maak nie.

      “Wag so ’n bietjie.” Otto het ’n blink idee. “Daar is ’n ou, vervalle villa in Pampoenstraat, reg langs Stian-hulle se huis. Stian is in my klas.”

      Harry begin lag. “Stian? Die outjie wat van pure bang­heid ’n glips gehad het toe hy my sien? Die een wat jou altyd so kwaad maak?”

      Otto knik. Stian is ’n regte pes. Maar die windskeef huis op die bure se erf is die perfekte plek vir die spook. En as Stian met die spook deurmekaar raak … is dit mos ’n bonus.

      “Ek kan hom soontoe vat en daar vrylaat,” bied Harry aan en steek die bottel in die sysak van sy mantel. “Gee vir my die adres, Otto.”

      Otto dink eers. “Pampoenstraat 16. Nee, wag so ’n bietjie, ek dink dis nommer 14. Ja, dis reg … Pampoenstraat 14!”

      “Is jy seker?” vra Harry nog ’n keer.

      “Um … ja.”

      Toe Otto met die trappe terugsluip kamer toe, is hy tog nie heeltemal seker of dit die regte adres is nie. Maar hy besluit om nie langer daaroor te tob nie.

      As die horlosie by die trappe die regte tyd aanwys, is dit eintlik nou eers twee-uur in die nag en die vooruitsig om nog vyf uur te kan slaap, laat hom onmiddellik doodmoeg voel. Voordat hy weer in die bed klim, haal Otto ’n paar oorpluisies uit sy bedkassie; net vir ingeval. Hy wil môreoggend uitgerus voel. Hy hoop in die stilligheid hy kan die droom wat so woes onderbreek is, voortsit. Hierdie keer gaan g’n astrante vlermuis of ongenooi­de spook hom pla nie.

      Archibald se groot geheim

      “Uiteindelik,” sug Emily en gaan sit op oom Archibald se afgeleefde leerstoel wat in die geheime biblioteek staan. Mens kom deur ’n versteekte valdeur in Otto se kamer daar. Hy vermoed sy oorlede oom het die plek so ingerig. Hy en Emily kom baie keer hiernatoe as hulle met die spoke wil gesels, en seker wil maak hulle word nie gepla nie. Of sommer vir die lekkerte. Die kamer het ’n rustige atmosfeer.

      Emily is poegaai en vou ’n deurmekaar haarstring agter haar oor in. “Ek het gedink skool gaan nooit end kry nie. Die onderwysers is almal mal!”

      Otto moet met sy beste vriendin saamstem. Die hele lot onderwysers van die Sybrand Swaelkop Skool het vandag baie snaaks opgetree. Meneer Schreiber, die Duitse onderwyser, het byvoorbeeld die oggend met donker kringe onder sy oë die klaskamer ingestrompel en gesê hy maak al nagte lank nie ’n oog toe nie en daarom kan hy nie klas gee nie. Toe het hy die hele klas vyftig bladsye van hulle Duitse handboek alleen laat deurkou. Otto het nie eens die helfte daarvan verstaan nie.

      In die wiskundeklas was dit nog erger. Die wis­kunde-onderwyser, meneer Phillips, is gewoonlik die rustigheid vanself, maar vandag was hy senuweeagtig en op ’n ander planeet. Hy het vier keer ’n berekeningsfout met ’n enkele vergelyking gemaak. Hy was glad nie sy gewone self nie.

      “In my tyd was skool ook g’n grap nie,” preek Sir Tony vir Emily, hoewel sy hom nie kan sien of hoor nie. “Skoolwerk was baie uitputtend. Ons moes ure lank op aandag staan en die onderwysers het soos drake straf uitgedeel.”

      “O ja,” weerklink ’n klokhelder stem vanuit die hoek. Dis Molly, die enigste vroulike huisspook in tannie Sharon se villa. Sy sit gehurk op die reuse-aardbol en draai al in die rondte. “En jy het hulle maniere goed onthou en dit op jou huispersoneel toegepas, nie waar nie?”

      “Pfff!” Sir Tony is glad nie beïndruk nie. Toe hulle nog geleef het, het Molly en haar beste vriend, Bert, in die villa se kombuis gewerk. Hulle het nou nog nie vir Sir Tony, die voormalige eienaar van die huis, heeltemal vergewe vir die swak manier waarop hy hulle behandel het nie.

      Otto sug en gaan sit op die stoel se armleuning. “Drake, nè? Ek is verlig hulle is nie meer so in vandag se skole nie. As mens konstant in die moeilikheid

Скачать книгу