Скачать книгу

was hulle verstom oor hulle geen inligting oor dié ses kon kry nie, al het hulle oor die name beskik. Hulle het egter gekonsentreer op die ander vier-en-negentig, op wie hulle kon toeslaan via die FBI en die wetstoepassers van verskeie Westerse lande.”

      Hy tik met ’n vlesige vinger op die lêer. “Die ses onbekendes was dus lank onder hulle radarskerm, totdat drie van hulle die afgelope maand hier in Suid-Afrika vermoor is. Toe eers het die CIA besef daar is ’n verband tussen die mans. Hulle het al drie van ander lande hierheen gevlieg en is kort ná hul aankoms in Kaapstad vermoor. Nou glo die CIA – en ek is geneig om met hulle saam te stem – dat die moorde dui op iets van internasionale belang. Moontlik ’n globale misdaadsindikaat wat dié ses se bedrywighede dringend wil toesmeer.”

      “En hulle vermoed die oorblywende drie gaan dieselfde paadjie as die vermoordes loop?” vra Carl.

      O’Reilly knik. “Als dui daarop.”

      “Is die SAPD bewus van die verband tussen die vermoordes?”

      “Gelukkig nie. Behalwe dat hulle nie insae het in die name op die Switserse banklys nie, is die moorde op verskillende maniere en plekke gepleeg, wat ek glo die moordenaars met voorbedagte rade doen. Kry die polisie egter snuf in die neus dat daar ’n verband is, sal dit in ’n japtrap wêreldnuus wees en in die proses ook die moordenaars waarsku dat die gereg op hulle spoor is. As hulle dan hulle modus operandi verander, bedonner dit ons kanse om agter die kap van die byl te kom.”

      “Hoe het julle die inligting oor die moorde bekom? Net gesteun op mediaberigte?”

      O’Reilly glimlag. “Nee, ons het ’n kontakman by die polisie. Hy is op Mercurius se betaalstaat, verdien meer by ons as by die polisie. Hy werk by die mediaskakelafdeling in Kaapstad en ontvang afskrifte van die polisiedossiere en forensiese verslae van elke enkele moord wat in die land gepleeg word, wat hy, indien ons dit versoek, vir ons aanstuur. Die enigste nadeel is dat hy die inligting nie altyd dadelik kry nie. Maar omdat hy die name van ons ses mans het, is hy heeltyd op die uitkyk vir hulle. Hy moet egter baie versigtig wees met navrae om nie agterdog by sy kollegas te wek nie.”

      Hy staan uit sy stoel op. “Dis kortliks die agtergrond, maar vanmiddag sal jy ’n meer volledige prentjie kry. Nie nodig om nou al jou kop daaroor te breek nie.”

      Hy kyk op sy horlosie. “Amper twaalfuur. My voorstel is ek en jy gaan eet iewers. Hier om die draai in Breestraat is ’n paar uitstekende restaurante. Dan kan ek sommer hoor of jy tevrede is met jou blyplek en of jy nog ander behoeftes het.”

      Toe Carl saam met hom uit die kantoor stap, kan hy die ongemak in sy gemoed beswaarlik afskud. Dit lyk of O’Reilly vir geen oomblik daaraan twyfel dat hy hierdie saak vinnig gaan uitpluis nie.

      15

      Donderdag 8 Julie 2004 – DRK

      Nie Baako óf sy luitenante het hulle sien kom nie. Hulle was nog besig om register te neem van die werkers toe die swaar gewapende soldate geluidloos uit die bosse verskyn.

      Baako eien hulle dadelik aan die kentekens op hul uniforms as soldate van die FDLR – Forces démocratiques de libération du Rwanda.

      Hy en die vier luitenante word beveel om plat op die grond voor die groot tent te gaan sit. Die soldate praat nie, hou net hulle wapens op Baako-hulle en die werkers gerig.

      Pêrels sweet slaan op Baako se voorkop uit. Hierdie is nie goeie nuus nie. Awax, sy baas, het genoem dat die FDLR deesdae hier in die ooste van die Kongo bedrywig is, maar hy’t nie gedink dit hou ’n bedreiging vir hulle myn in nie. Volgens hom is daar baie groter myne in Suid-Kivu waarop die FDLR sal toeslaan.

      Boonop het Awax die steun en beskerming van die Rwandan Patriotic Army, die militêre vleuel van die Tutsi’s. In ruil daarvoor moet hy amper dertig persent van die myn se wins aan hulle afstaan.

      Maar Baako het gerugte gehoor dat die Hutu’s van die FDLR die oorhand kry oor die Rwandan Patriotic Army. Dié twee groepe het bly voortveg ná die Tweede Kongolese Oorlog verlede jaar beëindig is. Die feit dat ’n mens nooit meer die Rwandan Patriotic Army se soldate in die dorp of omgewing sien nie, moet beteken dat die gerugte waar is. En blykbaar steun Joseph Kabila, die DRK se president, self lankal die FDLR.

      Awax was aan die verkeerde groep lojaal.

      En nou gaan Baako die prys daarvoor betaal.

      Hy kan sien die soldate wag op iemand, want hulle kyk gereeld in die stofpad se rigting.

      Ná ’n ruk hoor hulle die dreuning van ’n voertuig aankom. Dis ’n Land Rover met drie insittendes.

      Die viertrek stop langs die groot boom. Twee wit mans klim uit, albei met blou kortmouhemde, maar met dieselfde kamoefleerbroeke as die soldate. Daar hang ’n rewolwer aan die een se sy. Hy is fors gebou. Die ander wit man is skraler en ouer, hy loop voor en lyk soos die leier. Hy word gevolg deur ’n offisier van die FDLR met ’n AK-47 oor sy skouer.

      ’n Soldaat loop die drie tegemoet en beduie na waar Baako en die luitenante sit.

      Die ouer man kom nader en vra op Frans of Baako in beheer van die myn is.

      “Ja,” sê hy, voeg dan vinnig by: “Maar ek werk vir ’n baas, Awax Makidi. Hy bly in die dorp.”

      Die ouer man glimlag, maar sê niks.

      Die offisier agter hom praat: “Makidi wás jou baas. Hy’s vanoggend in sy bed doodgeskiet.”

      Baako se lyf begin onbeheers bewe. Gaan dit ook sý lot wees?

      Die drie mans praat fluisterend met mekaar. Dan tree die fors kêrel vorentoe. Hy kom staan voor Baako en die luitenante, sy hoekige gesig uitdrukkingloos. Baako staar beangs na die letsel wat van onder sy oog tot op sy ken loop.

      Die man trek sy rewolwer stadig uit die holster en rig dit op die luitenant op die verste punt van Baako.

      Sy vinger krul om die sneller.

      Die luitenant begin histeries skree.

      ’n Skoot klap.

      Baako voel die bloedspatsels teen sy wang. Hy kyk met verstarde oë hoe die luitenant omkantel en die grond met ’n dowwe slag tref.

      Die volgende luitenant hou sy hande voor sy gesig, maar hy val soos ’n afgekapte boom agteroor toe die skoot klap. Ook die volgende een word sonder seremonie in die voorkop geskiet, sy bloedstollende kreet halfpad gesmoor.

      Warm urine loop teen Baako se bene af. Hier word hy vandag soos ’n hond doodgeskiet. En daar is geen uitkomkans nie. Nie eens sy voorvadergeeste sal hom kan red nie.

      Langs hom maak Akva fyn kermgeluidjies toe die man die rewolwer op hom rig.

      Dan roep ’n stem hard op Frans: “Ék wil hom skiet!”

      Die man met die rewolwer draai in die rigting van die stem.

      Baako sien die roering tussen die stilgeskrikte werkers. Tot sy verbasing is dit Imani wat na vore tree.

      “En wie’s jy nogal om so ’n verwaande versoek te rig?” vra die offisier smalend.

      “Imani Mutsinzi,” sê die seun met die lang, lenige lyf. “My pa was ’n onverskrokke Hutu-kryger wat sy lewe verloor het in die Eerste Kongolese Oorlog.”

      Die offisier rig sy AK-47 op Imani, wat nie terugdeins nie. Sonder ’n sweempie vrees gluur hy terug.

      Die offisier laat sak die geweer. “Hy’s nie ’n bang een nie,” lag hy.

      Die ouer man wys na Akva. “Hoekom wil jy hóm juis skiet?”

      “Want hy’s ’n lafaard,” spoeg Imani die woorde uit. “Hy het sy mag as luitenant misbruik om ons te mishandel. Kyk hoe sit hy nou daar en kerm. Hy’s g’n ware man nie.”

      “Gee hom die rewolwer, Richter,” beveel die ouer man.

      Imani neem die wapen.

Скачать книгу