Скачать книгу

/section>

      RUDIE VAN RENSBURG

      VLOEK

      Queillerie

      1

      Woensdag 6 Maart 2002 – Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK)

      Spoke besoek Baako snags as hy op sy katel in die groot tent slaap. Hulle kom in sy drome na hom.

      Dis lyke wat deur die jare teen die berg ingespit is wat dan uit die dode herrys.

      Ray, Paterne, Régis, Faustin … en die baie ander wie se name hy nooit geken het nie, maar wie se gesigte hy nog onthou. Hulle praat met hom. Soebat soms om genade. Maar beskuldig en verwyt meestal.

      En dan begin hulle smartlike krete in sy ore weergalm. Skril en uitgerek soos loeiende sirenes. Dis dié sirenes wat hom elke oggend klokslag om drieuur in ’n poel sweet laat wakker skrik.

      Dan sit hy maar koffiewater op die gasstofie, want slaap kan hy nie weer nie.

      Waar hy nou agter sy lendelam lessenaar sit, sug hy diep oor hierdie kruis wat hy moet dra. Daaraan kan hy niks verander nie. Dis die pad wat sy voorvadergeeste vir hom aangedui het.

      Dit moet amper vyfuur wees, besef hy, want hy hoor die werkers se gedempte stemme en die trae geskuifel van hulle voete buite die tent. Die oggend is reeds snikkend warm. In die staanspieël op die lessenaar sien Baako die pêrels sweet op sy gesig. Hy vee dit met sy voorarm af en swets onderlangs. Afrika se versmorende hitte gaan vandag weer sy tol van die werkers eis. ’n Twaalfuurskof tussen troostelose grys stofwalms is seker die naaste wat aardlinge aan die hel kom.

      Maar hulle produksie móét verbeter, hoor Baako gereeld. Dis ’n voortdurende refrein van “meer geld”, al beteken dit dat mense teen hierdie berg letterlik in hulle grafte gewerk word.

      Daagliks sien Baako die spore van die onmenslike toestande by die werkers. Ingesonke, glasige oë sonder ’n sprankie hoop op ’n beter toekoms. Benerige koppe op uitgeteerde lywe. Die kenmerkende boepensies van die ondervoede kinders wat deel uitmaak van die werkerskorps. Die hele spul is geklee in smerige vodde wat ander mense nie eens as vloerlappe sal oorweeg nie.

      Baako kyk op toe die tent se flap oopgaan. Dis Akva, een van sy luitenante.

      “Ons vermoede was reg,” sê Akva. “Die bliksem steel.”

      Baako kreun. “Sot! Die bleddie klein sot. Aan wie dink hy gaan hy dit verkoop?”

      Akva trek sy skouers op. “Vier kleinerige sakke onder sy bed by sy huis gekry. Nie eens twintig dollar werd nie, want dis nog nie gesif nie.”

      “Twintig dollar is ’n fortuin vir hulle,” sug Baako.

      “Hy weet nog nie ons het dit gekry nie. Ek het eers gewag dat hy en sy ma uit die huis is. Sy werk vroegoggend by die mark.”

      “Ons het seker nie ’n keuse nie?”

      Akva knik. “Hoeveel gee ek hom? Tien?”

      “Sewe … nee, maak dit vyf.”

      “Net vyf?! Jy sê gereeld dit moet as waarskuwing vir die ander dien.”

      “Hy’s nog ’n kind, Akva. Veertien, op die meeste vyftien.”

      “Jy raak sag.”

      Baako ignoreer die opmerking. “Vyf is genoeg,” sê hy beslis.

      Voor hy opstaan, strek hy om die sambok onder die lessenaar uit te haal. Hy oorhandig dit aan sy luitenant.

      Hulle stap uit, met Akva wat die sambok agter sy rug wegsteek.

      Die honderdstuks werkers is in twee lang rye voor die tent aangetree. Die staanligte aan weerskante van die tent skyn skerp op hulle afgeremde gesigte. Drie van die ander luitenante is besig om hulle name op die registerlys af te merk.

      Baako wag geduldig dat die luitenante klaarmaak. Sy oë skeer oor die werkers.

      Die seun staan in die voorste ry, amper op die punt. Dis ’n mooi kind met groot, onskuldige oë en hoë wangbene, die skraal, seningrige lyf sonder die magie van die jongetjies om hom. Nog altyd ’n harde werker gewees, maar ongelukkig nou ook ’n gulsige een.

      Akva het die seun ook gesien, want hy beduie vir die luitenante om naby hom te gaan stelling inneem.

      Baako skraap sy keel voordat hy praat. “Hier’s ’n dief in ons midde.”

      ’n Gebrom wat klink soos ’n swerm bye breek onder die werkers uit.

      Baako merk die angstige uitdrukkings van die werkers naaste aan hom. Hulle weet so goed soos hy dat die luitenante soms ’n diefstal versin om lyfwegstekers te straf.

      “Imani Mutsinzi,” sê Baako luid.

      Die seun se kop ruk verskrik op toe hy sy naam hoor.

      Die luitenante is blitsig op hom. Twee gryp hom aan sy arms en ’n derde aan die bene. Hulle dra hom protesterend en spartelend na die boom langs die hooftent.

      Daar is sugte van verligting onder die ander werkers, innig dankbaar dat hulle die foltering vryspring.

      Die luitenante maak die seun se gewrigte bo sy kop aan ’n laaghangende tak vas. Hy bewe soos ’n riet. Sy gepunte tone raak beswaarlik die grond.

      Een van die luitenante gaan haal die vier sakke erts en kom sit dit voor Baako neer. “Ons het dit vanoggend onder Imani se bed by sy huis gekry,” sê hy en beduie na die sakke.

      Die werkers kyk swygsaam en afgetrokke na die bewysstukke.

      Imani het nie familielede wat namens hom sal pleit nie, weet Baako. Omdat hy ’n Hutu-pa gehad het wat van Rwanda kom, is daar min simpatie met hom. Dit gaan ’n vonnis sonder versagtende omstandighede wees.

      Maar hy gee tog twee minute kans vir iemand om na vore te kom.

      Niemand nie.

      Die verrigtinge kan voortgaan. Hy gee die teken vir Akva, wat die sambok oplig.

      Die eerste hou sweepslag oor die seun se rug. Hy snak hoorbaar na asem, byt dan sy lip vas om nie te skree nie.

      Dit was bloot ’n losmaker, weet Baako. Nou gaan Akva al sy kragte inspan. Van hier af raak dit net erger.

      Hy maak sy oë toe.

      Die tweede hou klap soos ’n geweerskoot.

      Daar heers ’n kortstondige stilte. Dan skeur die seun se gille deur die lug.

      2

      Donderdag 14 Junie 2018 – Kaapstad

      Die man se stem smeek saam met sy oë. Sy pleitende uitroepe slaan vas teen die klankdigte mure van die hotelkamer en kaats terug na Richter. Hy beur met sy bolyf vorentoe op die stoel, maar die nylontou gee nie skiet nie.

      Richter hou hom uitdrukkingloos dop waar hy oorkant die man sit. Die naakte vrees laat sy oë effe uit hul kasse peul. Daar is ’n sweetglans op sy voorkop. Sy goue voortand flits elke keer as hy sy mond oopmaak om oor sy vlesige lippe te lek. Sy rooi sydas sit skeef en twee hempsknope het in die slag gebly toe Richter hom vroeër oorrompel het.

      Die vent moes iets vermoed het, daarom dat hy aangedring het hulle moet hom in sy hotelkamer kom sien. Het seker gedink hy sal veilig wees met al die veiligheidswagte en sekerheidskameras in die vyfsterhotel.

      “Hy’s nie so naïef en goedgelowig soos die ander nie,” het die baas vooraf vir Richter gesê. “Die gebied waar hy vandaan kom, is van die gewelddadigste in Afrika. Sy oorlewingsinstink sou hom van kleins af geleer het om niemand te vertrou nie.”

      Toe hy die deur vir Richter oopmaak, was hy verbaas omdat die baas nie by is nie. Maar voor hy dit kon bevraagteken, het Richter hom bespring en in ’n kopklem beetgekry. Hy’t hom grond toe gedwing en op sy rug gaan sit, die boeie om sy polse toegeklap en hom toe op die stoel vasgebind.

      Die man dra ’n Rolex-polshorlosie, ’n ring met ’n knoetsige robyn aan sy linkerhand se middelvinger, blinkblou snyerspak, bruin krokodilleerskoene. Duidelik het die lewe hom goed behandel sedert

Скачать книгу