Скачать книгу

was eintlik besig om die stof netjies in die hoeke in te vee.

      En toe jy die kaggelrak afstof – jy stof versigtig tussen al die foto-raampies en potjies en goetertjies af om niks te versteur nie – sê sy jy moet eers alles afpak, dán afstof en weer terugpak. Dit klink vir jou na ’n omslagtige manier van werk, toe laat val jy per ongeluk ’n maer blompotjie met ’n tarentaalveer daarin en die veer fladder sowaar by die venster uit, nou’s dít ook ’n probleem.

      “Sien jy nou?” vra jy gekrenk. Sy sê dit was ’n blompotjie met sentiment, los liewer, sy sal self verder afstof én terugpak.

      Jy gaan sit maar êrens uit haar pad. Maar dis steurend om aanmekaar jou voete voor die TV te moet oplig terwyl sy heen en weer stofsuig (hier kom sy weer).

      Jy’t al geleer, as jy haar wil help – uit pure manlike pligsbesef – moet jy wag tot sy in die winkels is. Wanneer sy terugkom en sien die hele sitkamer is opgeruim en netjies, is die eerste ding wat sy vra: “Het iets gebreek?”

      Eenkeer het jy op jou knieë gegaan – party mans doen dit vir ’n vrou – om die kombuisvloer te was, toe keer sy: “Dis te veel seep, ons gaan gly! En vervat die lap, vervat die lap! Jy smeer net die vuiligheid in die vloer in.”

      Sy vergeet: Jy’s die wandelende blikoopmaker in hierdie huis, die oopdraaier van potjies en flessies, die bringer van iets (soos sjokolade) van die kafee af terwyl jy net gou die koerant wou gaan koop, die uitsitter van vullis elke week (van die kombuis tot die drom tot die straat), die indraaier van skroewe, die gaan-haler van take-aways (die in-die-tou-staner), die gaan-betaler van die TV-lisensie, die insteller van die DVD-speler, die regmaker van muur­proppe en die omruiler van gloeilampies, die verskuiwer van meubels (elke drie maande), die ophanger van portrette, die staner op stoele om goed by te kom wat te hoog is (“Staan nog, ek sien jou beursie!”), die wegjaer van muise, die gaan-kyker elke aand of al die deure gesluit is, die opstaner in die nag vir geluide waar niks is, en soms, die sintuiglike suiger van tone…

      Jy’s so geïnspireerd deur alles wat jy in die huis doen, jy’t dit self nie besef nie, jy gaan was sommer die skottelgoed ook. En oor jou skouer vra jy, jou hand skalks op jou beursie, regterboud:

      “Ek gaan ’n voorskoot aansit. Kom jy kyk?”

      Hoe vrouer hoe mooier

      “Het jy geweet jy raak al hoe mooier?” vra jy.

      Sy glimlag van links na regs en weer terug: “Rêrig? Jy sê partykeer sulke móói goed!”

      Ja, sê jy, dis wetenskaplik bewys.

      “Wetenskaplik? Hoe bedoel jy?”

      Die ding werk só: Wetenskaplikes het bevind mooi vroue het 16% meer kinders as, sê maar, minder mooi vroue, jy weet, lelike eendjies? En die meeste van daardie kinders is dogtertjies, en hulle het hul ma se mooi gene gekry, wat hulle weer oordra aan húl kinders, wat ook meer dogtertjies insluit, en so gaan dit aan en aan. Dis glo oorerflik, in ’n mooi vrou se DNS geprogrammeer.

      Wat beteken, redeneer die wetenskaplikes, dat vroue deur die eeue, van generasie tot generasie, al hoe mooier word.

      “Daar het jy dit!” sê jy triomfantlik. “Dis logies.” Vroue raak al hoe mooier en jy’s die laaste een om te kla. Maar êrens in jou agterkop klink dit – as die wetenskaplikes aan­gaan soos hulle aangaan – of mans een of ander tyd gaan uitsterf omdat mooi vroue meer mooi dogtertjies kry as lelike seuntjies, en wat help ’n mooi vrou jou dan? Die wetenskaplikes sê hoeka mans het deur die jare net so lelik gebly soos toe hulle nog in grotte gewoon het.

      Jy kan sien sy vind dit ’n verfrissende gedagte, sy luis­ter skielik skerper, maar jy maak of jy dit nie agterkom nie.

      Want mans het nog nooit nódig gehad om mooier te word nie, aangesien lelike mans net soveel kinders het as mooi mans, volgens die wetenskaplikes. Gelukkig vir die meeste mans in malls – en Mick Jagger – steur vroue hulle nie veel aan die uiterlike nie. Vir vroue is dit belangriker dat die man haar moet kan beskerm terwyl sy swanger is en borsvoed, tradisioneel tye wanneer sy genoeg kos nodig het en bang is vir roofdiere. Die druk op mans, deur die eeue heen, is dus eerder om sterk en beskermend te wees (wat beteken hy moet geld hê, nè?).

      “Ja, hy moet kan peanut butter en sjokolade aandra!” val sy jou in die rede.

      So iets, oukei, stem jy saam, maar jy kom agter daar’s iets soos skerp naels in haar stemtoon. En dit word dade­lik duidelik: “Toe jy nou net gesê het ek raak al hoe mooier…” begin sy.

      Wat nou?

      “. . . het jy dus bedoel vroue in die algemeen, nie ek spesifiek nie?” Sy voel spesifiek onbeskerm, alleen in die grot, want ’n kompliment is gegee en toe geneem, voel sy.

      “Jy’s mos ook ’n vrou! Dis hoekom ek sê…” verdui­delik jy. “En het jy geweet bier maak ’n vrou ook mooier?” probeer jy die onderwerp verander.

      Seker wetenskaplik bewys, grom sy.

      Is net so, sê jy, hulle noem dit die bierbril-effek: ’n Vrou raak vir ’n man 25% mooier ná ’n bier of twee. En die mooiste is: ’n Man word vir ’n vrou ook mooier ná ’n glasie chardonnay of so – hoe lyk ek? (Hel, hoe baie moes Jerry Hall nie gedrink het nie!)

      Skotse wetenskaplikes het hierdie oeroue aanname korrek bewys, iets wat mans al jare gelede agtergekom het toe hulle nog deur die waas van ’n vuurgloed in ’n grot na ’n vrou in skrapse diervelle gekyk het. En maak nie saak of jy om mee te begin mooi of lelik is nie, jy word 25% mooier en klaar.

      Wat ’n gerusstellende gedagte. (25%? Hoeveel biere sal dit vat om ’n vrou 100% mooier te maak? wonder jy onwillekeurig. Nee, wag, netnou gee dit ’n gelollery af.)

      Jy vat nog ’n klein slukkie en kyk alte fraai na haar. Dis ’n mooi oomblik. Maar sy loop kombuis toe, pluk die yskasdeur oop, gryp ’n bakkie jogurt, ’n teelepeltjie, en tik-­tik-klikketie-klak kom sit sy in die verste hoek.

      Jy’t ewe gedink sy gaan nog bier haal…

      Is jy romanties?

      Natuurlik is jy romanties! Dis immers Februarie, die maand van die liefde, en jy’t onthou.

      Jy onthou intieme aande met warm hande en Julio Iglesias, aarbeie en roomys, sjokoladekoek op die sitkamermat, sjampanje op die strand met kerse in die sand wat jy self daar geplant het.

      En pizza in die bed.

      Julle het eenkeer by Churchhaven op die strandmeer gevaar. Die bootjie het sommer daar op die strand gelê, toe sê jy klim in, ek vat jou vir ’n spin. (As dit nou nie romanties is nie…) Julle het ál om en om gevaar, want daar was net een spaan, en die bootjie was nie juis seevaardig nie. Gelukkig was die water vlak, maar julle moes nogtans kniediep terug wal toe waad. Jy wou haar op die hande dra, maar julle was nog effens vreemd vir mekaar, toe word haar romp sopnat.

      “Kom ons sit hier op die sand om droog te word,” het jy voorgestel.

      Met ’n nat skirt op die sand? het sy gevra.

      “Moet jy nie jou romp liewer uittrek nie? Dan word dit gouer droog, hier’s tog nie ’n mens in sig nie.”

      Dis soos dit moet voel op ’n verlate eiland, het jy ge­dink, net julle twee. Dit was jul eerste date. (Wonder wat daardie ou gedink het toe hy agterkom sy boot met die een spaan is weg.)

      Sy’t in die kar gaan sit, nat skirt en al. “Nou’s my sandale ook geruïneer.”

      Toe gaan eet julle maar kreef op Paternoster.

      Die volgende keer (sy’t weer nie geweet waarheen jy haar neem nie) was dit ’n sjampanje-piekniek met Oros (dit was die einde van die maand) langs die Bergrivier in Du Toitskloof. Tussen muggies, jy kon dit nie voorsien het nie. Op die tamatiesous. Op die hot dogs. Dit was asof die tamatiesous louwarm gestol het.

      Moet sê, jy was half verbaas toe sy jou uitnodiging ’n tweede keer aanvaar. Sy moes iets romanties in jou gesien het waarvan

Скачать книгу