Скачать книгу

is beslis nie naastenby so grieselrig soos jy as jy in die oggend opstaan nie, jou lawwe ou koei,” knor Vincent uit die rugsak.

      “Sjuut,” maak Otto hom stil, maar Madame Olga het hom gelukkig nie gehoor nie. Blykbaar fassineer tannie Sharon se villa haar oneindig baie. Dit is ’n wonderlike ou huis, met gewels en torinkies en baie leë vertrekke. En wat die geheime betref, het Madame Olga heeltemal reg geraai.

      “Hoe ook al …” Die fortuinverteller is nou weer die ene belangstelling. “As julle iets nuttigs wil doen, gaan vertel al julle vriende van die ongelooflike Madame Olga.” Toe sy haar eie naam noem, maak sy weer so ’n swiepende gebaar met haar hande, dan draai sy om en waggel weer terug in haar huis in. “Moet net nie ná donker lawaai maak nie. Weg is julle, julle lasposte!” sê sy ongeduldig en gee Otto en Emily elkeen ’n harde stamp. Emily verloor haar balans en val amper in die roosbedding. “Anders gaan ek ’n paar spoke op julle sit. Hulle sal julle leer om nie sommer ’n fortuinverteller in die middel van ’n sessie te pla nie.”

      Met dié woorde maak sy die deur met ’n harde slag toe.

      “Sjoe, dis vir jou ’n ou suurbek-heks,” mompel Emily ná ’n rukkie en kyk nog steeds na meneer Olsen se voordeur, waar ’n paar windklokke hang en geroeste geluide maak. “Ek begin skielik baie van ons goorste onderwysers hou.”

      “Al wat ons nou nodig het, is iemand soos sy,” brom Otto. “Haai, wag ’n bietjie! Ons kan vir Harry vra om haar behoorlik skrik te maak, sodat sy padgee. Sy sal dalk vir ’n regte egte Grieselgryper bang wees.”

      Emily krap haar neus ingedagte. “Ek dink dit sal eerder andersom wees. Harry gaan baie banger vir haar wees as sy vir hom.” Sy bly ’n rukkie stil. “Maar as Madame Olga rêrig met die Oorkant kan kommunikeer, is dit dalk moontlik dat Harry haar ken en ons iets van hierdie vreemde vrou kan vertel. Dis nogal snaaks dat sy heeltemal anders teenoor jou tannie was as met ons.”

      Otto stem saam. Hoekom was sy so gaaf met tannie Sharon en so aaklig met hulle? Sy is wraggies eienaardig.

      “Ek sal vannag wakker bly en vir Harry wag,” besluit Otto toe hulle terugstap na tannie Sharon se huis toe. “Die hele storie stink. En ek bedoel nie net die aaklige swaelstinkerasie wat uit haar huis walm nie.”

      Die dodelike spioen

      Otto sit en tob amper die hele aand oor Madame Olga. Wat pla hom van haar? Kan sy regtig met spoke kommunikeer? Tot sover het hy nog niemand ontmoet wat dieselfde gawe as hy het nie. Emily het wel al kennis gemaak met sy huisspoke, maar daarvoor het sy ’n spookbril nodig, wat deur oom Archibald ontwerp is. Miskien kan Madame Olga hom help om uit te vind hoe hy sy geheimsinnige gawe gekry het. Maar hoe op aarde gaan hy dit regkry?

      Tannie Sharon is al in die bed en Otto het net in die leunstoel langs die kaggel aan die slap geraak, toe die sitkamer se deur oopgaan. Harry sluip in die vertrek in en sit ’n wankelrige toring agurkiebottels op die koffietafel neer.

      “Goeienaand, slaapkous,” groet hy vir Otto en haal sy mantel se kappie af. “Nou toe, wil jy vandag se oes sien? Ek word al hoe beter; ek het vandag net gemiddeld twintig minute gevat om ’n siel te vang.” Hy vee oor sy benerige voorkop. “Dit beteken, vir tien siele is dit altesaam … um … ag, nee, hoe nou weer?”

      “Tweehonderd minute. Of drie uur en twintig minute,” help Otto.

      “Net so! Dankie. Ek het meer as vyfhonderd jaar laas ’n wiskundeles gehad.” Harry tik met sy vinger teen sy kopbeen. “Mens kan nie meer so lekker sonder ’n brein dink nie. Sal jy my asseblief met die staanhorlosie help? As jy my assistent is, gaan dit sommer voor die wind.”

      “Ag, orraait.” Otto staan sukkel-sukkel van die stoel af op en kyk hoe die Grieselgryper die wysers van die staanhorlosie verstel. Soos gewoonlik tik hy eers sy kode in om die Oorkant se ingang oop te maak.

      “Draai om,” sê hy. “Die kode is hoogs geheim.”

      “Ja, ja.” Otto gehoorsaam en rol in die stilligheid sy oë.

      Kort daarna hoor hy die geluid van die vervoerband wat tot diep in die muur inloop. Harry sit die bottels een vir een op die vervoerband neer, terwyl Otto hom fluks help. Hy sit die bottels met die gloeiende rooi siele in ’n netjiese ry.

      “Hoor hier, Harry, glo jy aan fortuinvertellery?” vra Otto versigtig. Dis die rede hoekom hy eintlik vir hom gewag het. “Dink jy doodnormale mense kan kontak met spoke maak?”

      Harry gaan staan stil en kyk na Otto. “Is dit veronderstel om ’n grap te wees? Jy is die beste voorbeeld van ’n doodnormale mens wat buitengewone talente het. Hoekom vra jy?”

      Otto skud sy kop. “Ons nuwe buurvrou, Madame Olga, beweer sy kan met spoke praat. En sy tree buitendien eienaardig op. Sy was nou die dag baie gaaf teenoor tannie Sharon, maar sy wou my en Emily vandag omtrent verwurg. Fernando is ook bang vir haar. Hy bly nou in die tuinhuisie en kyk sy sepies op tannie Sharon se draagbare TV.”

      Harry bars uit van die lag. “Madame Olga? Ek’t nog nooit van haar gehoor nie. Miskien moet haar spoke aan ’n ander skuilnaam vir haar dink, ha-ha. Madame Olga klink verskriklik.”

      “Jy’s nie snaaks nie, Harry,” maak Otto beswaar. “Ek is seker Madame Olga is net agter tannie Sharon se geld aan. Iets is nie lekker met die vrou nie, dit weet ek vir seker.” Hy bly ’n rukkie stil. “Sê nou sy het rêrig kontakte aan die Oorkant? Stel jou voor, sy en tannie Sharon wil met oom Archibald praat! Dinge kan lelik skeefloop as Madame Olga vir tannie Sharon vertel dat ons nou die dag aan die Oorkant was. Dit sal vir jou ’n gemors wees, Harry!”

      “Ek het nog altyd geweet die uitstappie Oorkant toe was nie ’n goeie idee nie, Otto. Maar niemand luister mos na my nie,” brom die Grieselgryper. Otto sien hoe Harry die kwitansie uit die gleufie in die staanhorlosie trek en kyk wat hy verdien het. “Ag nee, man, nie eens ’n klein ou bonussie van die SBI vir vandag se harde werk nie? Dis pure uitbuitery!” kla hy oor die Siele-Bevorderings-Instituut vir wie hy werk. “Ek is keelvol vir die onderwêreldse fooitjie. Te min om van te leef, te veel om van dood te gaan.” Harry bêre die kwitansie en gaan sit op die voetbankie van tannie Sharon se leunstoel. “En jy, Otto, moenie jou kop oor Madame Olga breek nie. Ek belowe ek sal persoonlik daar oorkant ’n draai gaan maak, oukei? Miskien kry ek ’n idee oor wat sy in die mou voer en of jou vermoede reg is.” Hy klop Otto met sy benerige hand op die skouer. “En as sy weer so ongeskik teenoor jou is, gaan ek so ’n bietjie sports maak. Ek sal in die nag na haar bed toe sluip en haar in ’n hol grafstem vertel haar tydjie is naby.”

      Otto aarsel en sê dan: “Wag ’n bietjie. Ek dog jy kan nie sê wie leef en wie doodgaan nie.”

      “Ek kan nie.” Harry gee ’n lelike laggie. “Maar Madame Olga weet dit nie. Dan sal ons sien wie laaste lag. Ha! Ek is mal oor ’n goeie poets.”

      Otto kry sommer nou al lekker terwyl hy sy pantoffels aantrek, vir Harry nagsê en na sy dakkamer toe loop. Sy vriend is wraggies so mal soos ’n haas. Om mense sommer vir die grap wys te maak hulle laaste uur het aangebreek – dis nou vir jou grieselrig! Gelukkig weet Otto die Grieselgryper sal nie toelaat dat dinge in Radysstraat handuit ruk nie.

      Toe Otto in die bed kruip, besef hy hoe ’n groot voordeel dit is dat Harry homself onsigbaar kan maak. Op dié manier kan hy op Madame Olga spioeneer sonder om gesien te word. Hy moet net nie vergeet om Harry te vra wat hy kon uitvind nie. Hy is seker Madame Olga steek iets weg. Doodseker.

      Boodskap van die Oorkant

Скачать книгу