Скачать книгу

net as hy nou gaan werk.

      Hy bel vir Mbali, en ry om haar te gaan ontmoet by ’n Groentemarkplein-straatkafee.

      Hy is voor haar daar, sien die Zoeloe-speurder tussen die toeriste deur aangestap kom. Die kort, ronde, koddige lyf met die houding wat sê “moenie met my mors nie”. Sy is, soos altyd, in ’n swart broekpak geklee. Die groot swart handsak oor haar skouer, die Beretta 92FS aan haar heup, die SAPD-eieningskaart aan ’n band om haar nek vir die wêreld om te sien. Die oordadige donkerbril. En deesdae die wit serp, om die littekens te verbloem.

      Hy voel ’n deernis vir dié vrou. Dalk omdat sy ’n sekere heldeverering vir hom het. Sy glo vas hy het haar lewe gered, maande gelede, toe sy geskiet is en hy die verskriklike wond aan haar nek toegedruk het tot die ambulans opgedaag het. Maar ook omdat daar heelwat SAPD-lede in die Kaap is wat ’n renons in haar het, want sy is uitgesproke en feministies, sonder skroom krities, pedanties en tydsaam. Sy hou haar mond vir niemand nie en haar selfvertroue grens soms aan die onaanvaarbare. Hy dink dit het alles te doene met die byna eksklusiewe manswêreld van die speuromgewing, en haar voorkoms. As dié persoonlikheid in ’n skraal, aantreklike pakkie gekom het, sou hulle tou gestaan het om saam met haar te werk. Sou hulle gesê het sy verdien haar bevordering na die Valke. Miskien is dit omdat hy ’n alkoholis en ’n fokop is dat hy met haar kan identifiseer. Omdat hy weet hoe dit voel as mense agteraf vir jou lag. Miskien is dit sy ervaring – ná ses-en-twintig jaar in die Mag weet jy goeie, betroubare speurders is skaars, dit maak nie saak in watter vorm hulle kom nie.

      “Hi, Bennie.”

      Hy staan op, groet haar, wag dat sy sit.

      Sy doen dit met ’n sug, plaas haar handsak op die stoel langs haar. Sy vroetel daarin, bring ’n dun dossier te voorskyn, trek ’n enkele vel papier daaruit en plaas dit voor hom.

      “This is for you.” Dan skuif sy haar donkerbril tot op haar voorkop en haar oë soek fronsend na ’n kelner.

      * * *

      Die Groenpunt-polisiestasie is stiller as wat die sluipskutter verwag het. Daarom wen die veer van spanning stadigaan stywer in hom: Hoe lank kan hy hier sit met die oop skietgat, die geweer in sy hande, voor iemand iets opmerk – iemand wat verbystap, ’n motor wat hier reg voor hom van die M6 aftrek? Dit is die onvoorspelbaarheid, die toevalligheid, die dinge waarvoor niemand kan beplan nie, wat die grootste risiko meebring. Hy weet dit. Hy het in sy voorbereiding, sy navorsing, sy herdink en deurdink elke keer by dié waarheid uitgekom. Die oplossing is om die invloed van die noodlot ten alle koste te beperk. Moenie oorgretig of te selfversekerd raak nie. Moenie hulle onderskat nie. Moenie talm nie. Moenie enige kanse vat nie.

      Hy soek na die euforie van gistermiddag, daardie lighoofdige hutspot van verligting en genoegdoening en selftevredenheid – hy het hulle uitoorlê, hy het weggekom, hy het teruggeslaan. Toe het hy geweet sy strategie is meesterlik, onfeilbaar. Maar nou vreet die twyfel weer. En die vrees om betrap te word.

      ’n Wit SAPD-sedan ry by die hek daar oorkant in.

      Nog adrenalien.

      Hy leun met sy wang teen die geweer, kyk deur die tele-skoop.

      * * *

      [email protected]

      Sent: Sunday 27 February. 06:57

      To: [email protected]

      Re: Aan Kaptein Bennie Griessel

      Ek het die berig in die Weekend Argus gesien. Kan jy reg laat geskied (Spreuke 21:15)? Is jy ook kop in een mus met die kommuniste? Ek hoop nie so nie, want dan sal ek moet eskaleer.

      Dit is ek wat gister die polisieman in Claremont geskiet het. Vandag sal daar nog een wees. Elke dag, tot jy die moordenaar aankla.

      Julle weet wie dit is.

      Griessel kyk op. Mbali sê vir hom genl. Afrika het dit vanoggend vir hulle al twee aangestuur, en gevra sy moet dit vir hom bring.

      Hy bedank haar, en vra of sy iets in Claremont gekry het.

      Sy tel die probleme een vir een, afgemete en stadig, op haar pof-vingers, haar gesig vol frustrasie. Een: Daar is geen ooggetuies nie. Niemand het die skoot gehoor nie, niemand het iets eienaardigs opgemerk nie. Twee: Die koeël wat konstabel Brandon April se knie verbrysel het, het heeltemal gedisintegreer. Drie: Die aard van die wond maak bepaling van trajek baie moeilik – hulle weet steeds nie van waar die skoot geskiet is nie. “If you take into account the parking area’s possible field of vision, it could have been from the school, or from a block of flats, but he would have had to be inside, or on the roof. All access was locked, and there is no sign of forced entry anywhere. It doesn’t make sense.” Dan kom staan die kelner langs haar en sy sê streng: “Coca Cola, but bring the ice separately, no half a glass monkey business.”

      Die man lig sy wenkbroue, kyk na Griessel, wat wys hy wil niks hê nie. Dan loop hy.

      “So we have no real crime scene,” sê Mbali. “And today he is going to shoot again.”

      * * *

      Luitenant-kolonel Bevan Dlodlo trek die deur van die Groenpunt-polisiestasie aan die aluminium-handvatsel oop.

      Op daardie oomblik, met ’n dawerende klapgeluid, ontplof die glas hier reg voor hom.

      Sy hele lyf ruk van die skrik, die brand van ’n glasskerf teen sy voorkop. Uitroepe van binne, geklingel van glas wat op die beton reën en breek. Sy instink is om te buk, om muur toe te beweeg, weg van die deur af. Sy hand reik na die dienspistool op sy heup.

      Met sy rug teen die muur, met die pistool in sy hand, op sy hurke, sy kop na die deur toe gedraai, wil hy na binne skree om te hoor wat aangaan. Hy voel die warm krieweling van bloed wat teen sy voorkop afloop. Dan ruk iets aan sy enkel, met soveel geweld dat hy omval, op sy linkersy.

      Hy kyk verstom na sy onderbeen. Hy sien die blou polisie-stewel is aan flarde, die bloed wat daardeur sypel en stadig in ’n groeiende plas op die beton uitdam.

      Hy kyk deur die parkeerterrein. Daar is niemand nie.

      Hy kyk na die straat buite. Daar is niks.

      Dan eers voel hy die intense pyn.

      11

      Met die dossier oop voor haar tik Mbali op die e-posse en sê: “I don’t get this guy. Is dit omdat my Afrikaans so sleg is?”

      “Nee,” sê Griessel. “Ek verstaan hom ook nie. Last night I thought … it’s like he’s trying to sound like a crazy. I think … if you read the e-mails, he looks a lot like a wacko. But then he actually goes and shoots someone … I’ve never seen that before. If you look at that one e-mail, he said: You have two weeks to catch the killer. He was planning, back then. He was preparing. He’s … different. And he’s not … everyday crazy.”

      Sy knik instemmend. “You think he knew Sloet?”

      Dit is ’n goeie vraag, een waaroor hy al sedert gisteraand tob. Hy skud sy kop stadig. “I don’t know. Maybe. If he was part of her life, he must have known that it could lead us to him, eventually. So I have my doubts.”

      “Unless he’s crazy.”

      “Yes.”

      “No candidates,” sê Mbali, ’n stelling.

      “No.”

      “No communists?”

      “I don’t think he means a real communist. It’s a …” Sy Engels versaak hom.

      “A metaphor?”

      Hy is nie seker wat dit beteken nie. Sy sien dit. “Like he’s using a figure of speech. Maybe he means black people?”

      “Something like that. As if he does not want to sound like a racist.”

      “But he doesn’t mind sounding like a religious nut.”

      “Yes.”

      “So, any black suspects?”

Скачать книгу