Скачать книгу

>

      

      Suster Lilian se

      Babasorgboek

      Human & Rousseau

      Die uitleg van hierdie digitale uitgawe van Suster Lilian se Babasorgboek mag verskil van dié van die gedrukte uitgawe, afhangende van die instellings op u leestoestel. Die uitleg vertoon optimaal indien die standaardinstelling op u leestoestel gebruik word. Lesers kan egter eksperimenteer met die instellings vir verskillende perspektiewe op die teks.

      Inleiding

      Ouerskap kan soms ’n duiselingwekkende vooruitsig wees. Jy mag selfs oorwel­dig voel by die gedagte daaraan om ’n ouer te word; daar is per slot van rekening nie meer omdraaikans nadat jy daardie splinternuwe klein mensie in die wêreld gebring het nie. As jy egter meer dikwels op die silwer randjie van die donker wolk konsentreer en ’n tydjie afknyp om die vele positiewe oomblikke in ’n ouer se lewe te koester, sal die uitdaging dadelik meer haalbaar lyk. Ons leef in ’n tyd van dramatiese veranderinge. Die samelewing het ’n radikale transformasie onder­gaan en situasies en houdings is nie meer wat hulle in ons ouers se dae was nie. Dink maar aan die volgende ontwikkelings:

      •Die feit dat dit nodig geword het dat albei ouers buite die huis werk

      •Die gebrek aan onmiddellike ondersteuning

      •Die talle eksterne invloede waaraan ons kinders blootgestel word omdat ons nie meer so ’n hegte gemeenskap is nie

      •Die dissiplinedilemmas eie aan ’n era waarin rigiede gesagsfigure afgekeur word, maar liberalisme ook nie die oplossing blyk te wees nie.

      Dit mag dalk alles vreeslik teoreties klink, maar dit kom daarop neer dat ouers daagliks bekommernisse, kwellings en ’n werklas waarteen geen normale mens op­gewasse sou wees nie, die hoof moet bied. Wat maak jy as jou kind siek is, maar die crèche weier om siek kinders toe te laat, of as jy dringende werks­ver­pligtinge het en Ouma sit in ’n ander stad? Hoe reageer jy as jy ’n enkelouer is en die ander ouer verwerf “Kersvaderstatus”, terwyl jy ná elke besoek met ’n dissi­pline­probleem opgeskeep sit? Gaan jy ooit die eindelose onderbroke nagte en die druk wat die klinieksuster, jou ma en jou skoonma op jou plaas om jou kind sover te kry om in sy eie kamer deur te slaap oorleef? Is daar darem die geringste kans dat jy ooit weer ’n naastenby normale verhouding met jou lewensmaat gaan hê?

      Wanneer jy sulke oorweldigende uitdagings in die gesig staar, is daar net een oplossing: kreatiewe laterale denke, innovering – en soms doodgewone ouderwetse wysheid. As julle, Ma en Pa, hiertoe bereid is, kan ek julle verseker dat die proses sommer baie minder pynlik gaan verloop. Die geluk waarmee dit julle harte gaan vervul, sal vir julle energie gee en julle bybly as ’n erfenis van vreugde en ’n oorvloedige bron van wonderlike herinneringe aan hierdie spesiale fase in jul lewe.

      Moet dus nie die babajare verbywens nie, en moenie probeer om elke moontlike nuanse van ouerskap te ontduik nie. Herinner jouself eerder aan die baie ander ouers wat al die ondervinding oorleef het. Hierdie gids wil jou metgesel wees en jou help om die uitdagings van ouerskap blymoedig die hoof te bied, van die babadae tot diep in die peuterjare.

Lilian%20Teken.tif

      Suster Lilian

      Een

      Ma en Baba se eerstejaar in breë trekke

Mom%20and%20newborn.tif

      Die eerste twee weke

      Dit is heeltemal normaal om oorweldig en angstig te voel gedurende die eerste paar dae van jou lewe saam met ’n baba. Dit is ’n uitdagende taak, maar jy sal dit wel baasraak as jy na jou innerlike stemmetjie luister – dit is jou skakel met die mensdom se eeue oue wysheid en jou moedersinstink. Voor jy jou oë uitvee, sal dinge vlotter begin verloop en sal jy jou skaars kan indink hoe jy ooit voorheen sonder jou baba geleef het!

      DAG EEN

      Die eerste 24 uur van ’n baba se lewe is ’n grootse en betowerende tyd. Al wat jy wil doen, is om na dié klein skepseltjie te staar en elke besonderheidjie in te drink, terwyl jy in verwondering toekyk hoe hy ontluik en die kollerige velletjie daardie perfekte voorkoms kry. Baba sal haar ogies oopmaak en na jou terugstaar, mits die lig nie te skerp is nie. Jy mag moontlik nog op ’n hormoonwolkie rondsweef en glad nie lus voel om te slaap nie, al het jy voor die geboorte soveel daarna uitgesien! Beleef bloot elke oomblik, rus met Baba styf teen jou en klop jouself op die skouer dat jy jou so goed van jou taak gekwyt het.

      Meer oor Baba

      •Baba se geslagsdele en borsies mag dikwels tot ’n week of langer ná die geboorte geswel bly. Dit is geen rede tot kommer nie, maar bloot ’n reaksie op die swangerskapshormone.

      •Baba sal vandag óf baie slaap óf verwonderd na die wye wêreld staar.

      •Baba sal ’n paar taai, groenswart stoelgange passeer – dit is die mekonium wat die spysverteringskanaal gedurende die swangerskap gevul het. Gebruik baba­olie om dit af te vee en was daarna die boudjies met seepwater.

      •Tensy jy of Baba nie gesond is nie, sal jy jou baba gouer beter leer verstaan as julle sommer van die begin af in dieselfde kamer slaap.

      Borsvoeding

      •Sit Baba so gou moontlik ná die geboorte aan die bors om die beste moontlike grondslag vir borsvoeding te verseker – as dit binne die eerste 2 uur kan gebeur, sal dit alle toekomstige voedings vergemaklik.

      •Melk ’n druppel of twee uit sodat Baba kan ruik waar om vas te suig.

      ’N SEUN OF ’N DOGTER?

      Ek gebruik deurgaans in hierdie boek die vorme “hy” en “sy” om die beurt om aan te dui dat ek na seuntjies én meisietjies verwys. Dit word gedoen om die omslagtige formulering “hy of sy” en “sy of haar” te vermy.

      •Sorg dat Baba behoorlik vassuig om seer tepels te voorkom. Hou haar lyfie so dat sy na jou kyk – nie op haar ruggie nie, want dan moet sy haar nek teen ’n hoek draai om by te kom. Raak met jou tepel aan haar lippe en wange om die soekrefleks te prikkel en druk haar ken met jou vinger af sodat haar mond groot genoeg oopmaak.

Low%20Gi23155.tif

      •Die eerste paar suigbewegings mag dalk pynlik wees, maar dit behoort gou verby te gaan en dan behoort jy geen pyn te voel nie. As die pyn voortduur, kan jy jou vinger by die mondhoek indruk en met ’n draaibeweging die suigkrag ver­breek. Plaas Baba dan opnuut in posisie.

      •Moenie die horlosie dophou tydens voe­dings nie en laat Baba toe om na hartelus te drink solank jy nie pyn het nie, en jy sterk, ritmiese bewegings van die kakebene sien en slukgeluide hoor.

      •Baba mag vandag dikwels of selde drink. Dit hang van baie faktore af, soos of jy medikasie ge­kry het gedurende die kraamproses, die duur van die kraam en Baba se grootte.

      •Moenie bottels water of melkformule aanbied tensy dit medies noodsaaklik is nie (byvoorbeeld as jy ’n diabeet is), en dring aan op ’n oortuigende verduideli­king as jy aangeraai word om aanvullende voedings te gebruik, aangesien dit die sukses van borsvoeding kan beïnvloed.

      •Raadpleeg die afdeling oor borsvoeding vir meer uitgebreide bors­voedings­wenke.

      Wenke vir Ma

      •Rus vandag kort-kort, maar wikkel jou tone en voete om die bloedsomloop te stimuleer.

      •Bad of stort ’n ruk ná die geboorte en trek ’n mooi nagrok aan om jou selfver­troue ’n hupstoot te gee.

      •Drink vandag elke 2 uur Rescue Birth & Recovery-tablette en homeopatiese Arnica D6-tablette om swelling te verminder ná vaginale en keisersneegeboorte.

      •Dra die eerste dag of twee ’n “pasgebore”-weggooidoek of spesiale sanitêre kraam­doekie in ’n stewige, gemaklike

Скачать книгу