Скачать книгу

gewoonlik nie sin maak nie.

      Maar die blanke konstabel se uniform is vars en nuut en sy geesdrif nog aangevuur deur die kollegedosent wat gesê het die Polisie dien almal in Suid-Afrika.

      Hy dwing hom om nie instinktief weg te beweeg van die reuk van ongewaste liggaam en gehersirkuleerde brandspiritus nie en kyk Hercules Jantjies vol in die gesig – na die klein, bruin ogies wat been en weer flits, die blou-rooi vel wat miljoene krake van die lewe wys, die tandlose mond, die stoppelbaard.

      “Kan ek help?”

      Hercules Jantjies strek sy hand van onder sy verslete, kleurlose baadjie uit. Hy hou ’n stuk koerantpapier daarin vas. Hy sit dit op die tafel neer en stryk dit met ’n vuil hand plat. Die konstabel sien dit is die voorblad van die Cape Times, ’n paar dae oud. Die opskrif lees MAFIA KILLING? in groot letters. Hercules Jantjies druk ’n voorvinger op die letters.

      “My kroon, ek het gekom oor dié ding.”

      Die konstabel verstaan nie mooi nie. “Ja?”

      “Ek wil evidence gee, my kroon.”

      “Ja?”

      “ ’Cause why, ek was daar.”

      “Toe dit gebeur het?”

      “Net so, my kroon, net so. ’n Eyewitness report. Maar ek soek police protection.”

      Hy hang aan die kant van die swembad. Sy asem jaag en sy longe brand. ’n Lamheid pols deur sy ledemate en sy hart is ’n rukkende bekommernis in sy borskas. Hy het twee lengtes voltooi. Hy hoor ’n stem en lig sy kop, sy mond steeds oop om die lug vinniger te teug.

      “Meneer, meneer, daar binne is ’n bieper wat vreeslik biep.” Dit is die opsigter. Hy lyk besorg.

      “Ek kom,” sê Joubert en druk met sy palms op die wal om uit te kom. Hy vorder halfpad en lê dan, halfin en halfuit die water, te moeg om verder te gaan.

      “Is meneer orraait?”

      “Ek weet nie,” sê hy, verras deur die agteruitgang van sy liggaam. “Ek weet wragtig nie.”

      Hercules Jantjies het die volle aandag van drie senior polisiemanne in die kantoor van Nuweland se stasiebevelvoerder, adjudant Radie Donaldson. Joubert en Donaldson sit teen die een muur, op ou bruin houtstoele. Bennie Griessel staan aangeleun teen die muur. Jantjies is ’n ongure eiland teen die ander muur.

      Donaldson is nog van die ou skool van misdaadbekampers wat sonder handskoene werk met alle potensiële oortreders van die wet, ongeag ras, kleur of politieke oortuiging. Daarom rig hy ’n waarskuwende vinger op Hercules Jantjies en sê: “As jy kak praat, is jy dood.” Dan, meer agterdogtig: “Is jy gesuip?”

      “My kroon, my kroon,” sê Jantjies senuagtig, asof die oomblik groter geword het as wat hy verwag het.

      “Dié manne is van Moord en Roof. Hulle sny jou knaters uit as jy kak praat. Verstaan jy?”

      “Ja, my kroon.”

      “Nou toe – praat, en praat vinnig.”

      Die bruin oë flits oor die drie polisiemanne, sy kop effens omlaag gehou. “Ek het die hele ding gesien, my kroon. Maar ek soek police protection.”

      “As jy nie oppas nie, kry jy police brutality,” sê Donaldson.

      “Waar was jy? Toe die ding gebeur,” vra Griessel.

      “Ek het in die bosse gelê, my kroon, tussen die parking en Main Road.”

      “Was jy gesuip?” vra Donaldson.

      “Nei, ek was net moeg, my kroon.”

      “En toe?”

      “Toe sien ek haar appear, my kroon.”

      “Haar?”

      “Die een met die gun, my kroon.”

      “En toe?”

      “En sy wag daar in die skadu’s en toe kom die deceased, God rest his soul, en hy sien haar en hy skrik en hy keer só met sy hand, my kroon. Maar sy skiet hom, lat hy dáár val.”

      “En toe?”

      “Toe is dit alles verby, my kroon.”

      “Waarheen is die moordenaar toe?”

      “Nei, sy’t net gedisappear.”

      “’n Vrou? Wil jy vir my sê dit was ’n vrou?”

      “Nie sommer enige vrou nie, my kroon.”

      “Hoe bedoel jy?”

      “Dit was die angel of death, my kroon.”

      Daar heers ’n stilte in die kantoor.

      “ Cause why, ek soek police protection, my kroon. Want nou gaan sy my kom haal.”

      “Die angel of death,” sê Donaldson in ongeloof.

      “Hoe het sy gelyk?” vra Joubert, maar sy stem verraai sy teleurstelling.

      “Hierdie lang swart cloak, soos Batman. En swart boots en swart hare. Die angel of death. Sy was laas nag by my, en sy roep my, so met haar vinger. My kroon, I know my rights in the new SA. Ek soek police protection.”

      Hulle ken die visioene van die Blou Trein, elkeen van die dienaars van die gereg, nie uit eerstehandse ondervinding nie, maar uit die monde van tallose vorige getuies en beskuldigdes. Ondanks dié voorkennis het hulle bly hoop, tot nou toe.

      “Bliksem!” sê Donaldson en pyl op Hercules Jantjies af. Joubert keer die stasiebevelvoerder net betyds.

      Sondagoggend vroeg bel luitenant Leon Petersen. “Ek dink ek het die verpestings wat die meisie verkrag het, kaptein. Ek is hier by Mitchells Plain se stasie. Maar dis ’n bende-ding. Veertien van hulle. En hulle wil nie praat nie.”

      Joubert ry om te gaan help, om te ondervra, alibi’s te vergelyk. Ure van leuens aanhoor, skerm met tienerbravade en blatante uittarting. Maar om 17:22 raak luitenant Leon Petersen se geduld eindelik op. In ondervragingskamer nommer twee van die Mitchells Plain-stasie verloor hy sy humeur en slaan die jongste bendelid met die vuis teen die neus en oog. Bloed spuit op die tafel.

      Die bruin seun begin huil. “My ma gaan my doodmaak, my ma gaan my doodmaak,” snik hy en begin dan met ’n bekentenis wat stotterend uitkook. In die hoek sit konstabel Gerrit Snyman en hy skryf so vinnig as wat hy kan.

      Tien

      “Drie en twintig fokken kilogram, Mat. Hy’s mal in sy kop. Weet jy wat sê hy vir my? Ek het ses maande vir elke vyf kilogram. Hy is fokken mal.” Kaptein Gerbrand Vos se ronde wange is rooi van verontwaardiging. Joubert skud net sy kop in medelye. Hy wag nog vir sý fisieke gesondheidsgesprek met De Wit.

      “Jissis, Mat, ek was nog altyd dik. Dis deel van my. Waar kan ’n maergat ’n poliesman wees? Kan jy dink? Buitendien, De Wit se moer. Hy kan dit nie afdwing nie.”

      Joubert glimlag. “Hy kan, Vossie.”

      “Se moer.”

      “Polisiewet. BO moet sorg dat sy mense altyd fiks, gesond en reg vir aksie is. Dit staan daar. Jy kan maar gaan kyk.”

      Vos is vir ’n oomblik stil. “Ons is Moord en Roof, Mat, nie ’n klomp konstabels by ’n afshow-eenheid nie. Hoe fiks moet ’n mens wees? Ek sal nou wel nie die Comrades kan doen nie, maar hel …”

      Joubert onthou sy swemsessie van ’n paar uur gelede. Dit was nie beter as Saterdagoggend s’n nie. Die miltsteek ná vyftig meter stadige vryslag, die sigaretneerslag in sy longe wat vlam vat en brand. Ná honderd meter het hy weer snakkend na asem aan die kant vasgeklou. Hy sê niks.

      “Drie en twintig fokken kilogram. Ek sal my bek moet laat toewerk.”

      Hy skuifel in by die deur van Premier Bank se tak in die Heeren­gracht. Stadige, doelbewuste treë, die kierie

Скачать книгу