Скачать книгу

Die Vermoede.

      Dat die Supreme Committee meer weet van die binnewerking van die Ravens as die Presidensiële Intelligensie-agentskap.

      Dat dit nie Tweetybird de la Cruz se besluit was om Terror Baadjies vir onderhandeling met die Committee te stuur nie.

      Dat dit alles van belang is, op die een of ander manier.

      Dat hulle sal moet uitvind.

      * * *

      Janina Mentz en Rajhev Rajkumar sal die dag onthou omdat Raj se mense die e-pos onderskep het.

      Masilo is besig om in haar kantoor vir Mentz in te lig oor die Shabangu-Hendricks-gesprek. Die Indiër stoom in met ’n vel papier in sy hand. “You won’t believe this, you just won’t believe this …”

      Mentz is eers net gesteurd. “What, Raj?”

      “One of these apes made a mistake. He forwarded an unencrypted mail with the date in it.”

      “You’re not serious,” sê Masilo.

      “Look at this.” Rajkumar plak die e-pos tussen die twee neer. “The original e-mail came from the Supreme Committee, all secure and encrypted. And then one of the recipients had a brain freeze …”

      Mentz lees stadig deur die baie kort e-pos, kyk op na die opgewonde man voor haar lessenaar. “It’s a date?”

      “23 Shawwal 1430 is the Muslim calender date for 12 October 2009.” En dan, asof sy dit nie vir haarself kan uitwerk nie, voeg hy by, “That’s less than a month away.”

      “I know that, Raj. But what does it mean?”

      “It’s when the thing is going to happen.”

      “Which thing?”

      “You know, the transaction. The weapons.”

      “According to Ismail Mohammed that’s happening in September.”

      “Maybe they’ve changed … Shit. You think it might be the day of the attack? The act of terrorism?”

      “We had better find out, don’t you think?”

      * * *

      (19 September 2009. Saterdag.)

      Tau Masilo is van nege-uur af op kantoor, waar dit stil is. Net die kernpersoneel is hier.

      Hy lees eers die verslag van Reinhard Rohn, hul man in Namibië. Niks nuuts nie. Kommer kom lê in hom.

      Dan kyk hy weer na sy notas van die vorige dag, oor die Restless Ravens. Ervaar dieselfde ongemak.

      Hy kyk na Rajkumar se verslag. 23 Shawwal. 12 Oktober 2009.

      Skuif alles eenkant, sit sy hande oor sy skootrekenaar se sleutelbord. Maak sy webleser oop, dan Google se webblad. Hy tik: 12 October 2009, Cape Town.

      Sy oë loop af teen die moontlikhede. Die sesde inskrywing trek sy aandag. Hy klik daarop. Dit is ’n storie uit ’n plaaslike dagblad, en sy hart word koud.

      Kaapstad. – Die Amerikaanse sokkerspan wat aan die Wêreldbeker-toernooi in 2010 sal deelneem, bring aanstaande maand ’n blitsbesoek aan die nuwe Kaapstad-stadion in Groenpunt.

      Die kuiertjie val saam met Fifa se inspeksie van bouwerk op 12 Oktober, wanneer mnr. Sepp Blatter, grootbaas van Fifa, en ’n afvaardiging van sowat sestig ampsdraers ’n sooispit-seremonie sal waarneem.

      “Jesus,” sê Masilo.

      Hy staar lank na die skerm, druk dan die berig uit, en bel vir Janina Mentz.

      Boek 2: Lemmer

      (Die Swart Swaan)

      September 2009

       The art of tracking involves each and every sign of animal presence that can be found in nature, including ground spoor, vegetation spoor, scent, feeding signs, urine, faeces, saliva, pellets, territorial signs, paths and shelters, vocal and other auditory signs, visual signs, incidental signs, circumstantial signs and skeletal signs.

      – The Basics of Tracking: Spoor Identification (Liebenberg, L.W.)

      19

      Territorial boundaries may be scent-marked with urine, faeces or scent transferred to bushes from special scent organs.

      – The Basics of Tracking: Classification of Signs

      Ek gaan soek nie moeilikheid nie, dit kom na my toe aan.

      Dis elfuur op ’n Saterdagoggend aan die stertkant van September. Ek en Emma le Roux is in die Rooi Granaat, my wêreld op hierdie oomblik heel, byna perfek: Loxton se lui dorpsgeluide, ’n kwikstert se groetfluit as hy knikkend by die restaurantdeur instap, die baan sonlig deur die noordervenster. Ek het my groot ontbyt met genoegdoening afgehandel, die filterkoffie proe ryk en sterk. Emma eet nog stadig en met sigbare genot aan die vars botterbroodjies, room en konfyt; ’n pot tee staan en wag. Haar vel gloei en daar is ’n blos op haar wange, want twee ure gelede was ons verstrengel op die spierwit lakens van my bed. Sy vertel my van die boek wat sy lees, haar stem altyd dieper as wat haar delikate lyf voorspel. Op die volmaakte boog van haar lip is daar ’n spatsel room, soos ’n sneeuvlokkie.

      Dis alles te goed om waar te wees, want ek is Lemmer.

      Asof die gode ontwaak, kom daar ’n vae lawaai, diep, meganies, toenemend hard, totdat Emma ophou praat en haar kop draai. Tannie Wilna, die Rooi Granaat se alles, kom van die kombuis af in en vee haar hande aan haar voorskoot af. “Hoor júlle dit ook?”

      Ons luister hoe die rollende donder groei en rigting kry: ’n inval van Carnarvon se kant af.

      Ons kyk saam uit na die wye verkeersirkel om die kerk. Asof die dorp tot verhaal kom, peul mense meteens by die algemene handelaar en die koöperasie uit. ’n Groepie bruin kinders kom van die kerksaal se kant af aangehardloop tot op die plein, hul uitroepe verlore in die kakofonie. Hulle wys skielik met opgewonde vingers straatop.

      ’n Dramatiese verskyning op die nege-uur-speek van die sirkel: bonkige wonderwerke van chroom en staal en lang swart leerslierte wat van handvatsels en saalsakke af wapper – vier Harley Davidsons en hul ridders met donkerbrille, verspotte valhelms, helder nekdoeke oor mond en neus getrek, bene en arms gestrek om pedale en stuurstange te kan bereik. Hulle verdwyn agter die kerk, verskyn weer, volg die boog tot hier voor die restaurant en hou stil, netjies in gelid, stoot die gatkante na ons toe, voorwiele straatkant toe. ’n Laaste opjaag van die enjins, die lawaai oorverdowend, en dan word staanders uitgeskop en die nekdoeke afgetrek.

      Genadige stilte.

      Klein nommerplate. Ek lees hulle in volgorde: NV ME. BOY’S TOY. LOUD, PROUD. En HELLRAZOR. Almal uit die Kaap uit.

      NV ME klim van sy troon af, gespe sy valhelm los, trek die vingerlose leerhandskoene uit, dan die leerbaadjie met tossels daaraan. Staalgrys hare, duur en stylvol geknip, ’n seunsgesig, baie selfvertroue. Die T-hemp sit ’n bietjie styf.

      Hy laat sy vorstelike blik oor Loxton gaan. “Fokken one-horse town,” is sy uitspraak, vir almal om te hoor.

      Die kinders kom aangehardloop en arbeiders kom van die winkel af nader.

      Al vier ryers is nou op vaste grond; leerbroeke, blinkswart stewels met silwer barok versier. Almal is aan die liegkant van veertig. Nommer twee is groot, seker twee meter; nommer drie is kort en klein met ’n rotgesig; nommer vier is gemiddeld maar sportief.

      “Staan weg! Julle kan kyk, maar julle vat nie!” gebied Staalgrys die kinders.

      Hulle kyk grootoog na hom, hou hul afstand.

      Dan kom die ridders in. Staalgrys voor, gevolg deur Rot en Sportief, met Grote wat die agterhoede dek. ’n Rangorde.

      “Môre,” sê tannie Wilna, “welkom op Loxton,” met die liefdevolle hartlikheid wat sy aan almal bied.

      Hulle inspekteer haar en

Скачать книгу