Скачать книгу

Boer Bester het hom dood gehóés! Het jy dít al gesien? Morsdood gehoes. Dis nie mooi om ’n man te sien doodgaan aan uitasem nie, sê ek jou. Ek dink hy het al die asem wat hy in hom gehad het, uitgehoes, en toe gesterwe weens gebrek daaraan – want hy’t eers rooi geword en toe wit en toe blou. Ek het hom behoorlik begrawe. Langs die pad Harrismith toe. Self die gat gegrawe. Ek moes eers byna die hele dag soek na ’n stukkie groubare grond in daardie droogte. My gewete pla my partykeer oor daardie Boer. Miskien was sy longe so gewoond aan die stof wat hulle ingekry het met al daardie dubbelskofte wat hy vir sy plaasgoed gewerk het en aan die mis- en kolerook van Johannesburg dat hulle nie die vars lug kon staan nie. Maar hoe moes ek nou weet? En hoe op aarde moes ek die kar en perde by sy naasbestaandes kry? Hy’t my nooit vertel waar hulle bly nie, en al het hy, sou ek hom nie kon verstaan nie, want hy kon net daardie skraperige taal van die Boere praat. Maar as énigiemand, en ek bedoel énigiemand, aan my kan bewys dat hy naby-familie van Hans Bester is, kan hy die kar en perde met my komplimente vat en ry. En die Bybel ook, dis in elk geval in Hollands. Die geld wat hy by hom gehad het, het ek saam met hom begrawe. Dit moes seker heelwat gewees het, want met die dubbelskofte het hy baie meer verdien as wat hy kon uitdrink. Maar ek is nie iemand wat ’n lyk se sakke sal omkeer of deurvoel nie. Ek aas nie. Ek het nie eens ’n eerlike loon by die lyk gevat vir die gat wat ek vir hom gegrawe en die begrafniswoord wat ek voor die toegooi oor die graf uitgespreek het nie. Ek dink hy’t sy geld en sy papiere in die voering van sy baadjie rondgedra. Sy spaargeld, dié belowe ek jou, is saam met hom sy graf in – en ek sê dit in alle eerlikheid.”

      En terwyl hy dan in alle eerlikheid die dood, begrafnis en erflating van oorlede Hans Bester beskryf, het Joey die gewoonte gehad om met tussenposes aan sy baadjiemoue te rem. Die baadjie moes oorspronklik vir ’n veel langer man gemaak gewees het. Joey het die moue self korter gemaak, maar die lyf van die baadjie was bo sy naaldwerkkundige vuurmaakplek en het toe maar lank gebly. Die baadjie het aan hom gehang soos aan ’n vreemdeling – ’n half-jas gedrapeer oor ’n veel te smal klerehanger. Maar die baadjie was gemaak van uitnemende Hollandse materiaal en duidelik te waardevol om onsinnighede mee aan te vang. Soos om dit te begrawe, byvoorbeeld.

      By die vlak graf van Hans Bester het Joey besef dat hy verdwaald, indien nie verlore is nie. Die landskap rondom hom het bestaan uit kaal heuwels tot aan byna elke gesigseinder. Die bulte was boomloos en net met vaal wintersgras bedek. Die sagte glooiings het in alle rigtings weggegolf en in die verte verdwyn. Behalwe in die ooste, waar daar ’n paar plat koppe met sandsteenkruine in die middel van die niet gestaan het en heel in die verte ’n bergreeks te sien was. Die effens dieper blou van die berge het aan die ligblou van die wolklose hemel geraak en op plekke daarmee versmelt. Daar was sneeu sigbaar op daardie berge en dit was waar die wind vandaan gekom het – ’n droë, koue wind wat hom afgevee het aan enige bedekking waarmee Joey sy bewende siel en rittelende liggaam probeer bedek het. Dit was dié wind wat sy baard witgeryp en sy komberse styf-geys het gedurende die twee nagte dat oorlede Hans Bester nie die warmte van ’n plaashuis gehaal het nie en hulle in die oopte moes slaap.

      Dit was gedurende daardie tweede nag onder sterre en wind dat die Boer se laaste hoesbui begin het. Hy is later die oggend dood terwyl hy desperaat gespook het om vir Joey iets belangriks aan die verstand te bring. Sy oë was oopgerek, verwilderd en gretig, en hy’t gesukkel met die laaste, byna asemlose woorde wat sy mond van die té min lug uit sy oorgeblewe stukkies long wou vorm. Te min het uit sy bebloede mond gekom – te min en te vreemd voor Joey se onbegrip. Sy sterwende longe het nog bloederig probeer om woorde uit te pers toe sy mond skielik net wyd oopgaan in die oopgesperde gaap van die dood. Net sy oë het nog vir ’n oomblik gretig en blink gebly voor hulle breek en verdof.

      Joey het niks verstaan van wat die Boer probeer sê nie. Hy’t afgekyk op die gestorwene en al wat hy kon dink, was: Hy’t seker iemand liefgehad.

      Joey het hom in sy vuilste kombers begrawe en, denkende aan die koue wat nog voorlê, die ander een vir homself gehou.

      “Dis erg ongeleë om my nou net so te los, bliksem,” het Joey vir die hopie grond op die graf gesê, want hy’t geweet dat hy op daardie moment verlore staan in ’n ongenaakbare landskap, en dat hy van daardie eiland af sal moet wegdryf op ’n see van onbegrip. Want net daardie skraperige taal is gepraat in die plaashuise waarheen Hans Bester hom begelei het. Joey was die hele tyd uitgelewer aan sy gids om die doel van hulle omwandelinge aan die plaasmense te verduidelik en om oor hulle eerlikheid te getuig wanneer die vooruitbetalings vir dienste wat gelewer sou word, in ontvangs geneem is – gedeeltelike betalings vir foto’s wat êrens in die verre toekoms afgelewer sou word. Joey het groot genoegdoening geput uit die indruk wat die voorbeelde van sy fotografiese vermoë op die plaasmense gemaak het. Hy en die apteker het voor sy vertrek uit Johannesburg twee aanvallige ligtekooie na die apteek toe gevlei en daar foto’s van hulle geneem. Joey self het een van die apteker bygeneem. Dit was dié drie foto’s waaruit sy “portfolio” bestaan het, en dit was altyd vir Joey jammer dat hy dié imposante woord nooit behoorlik vir Hans Bester geleer kon kry nie.

      Hans het gesorg dat hulle aan tafels eet, in beddens slaap en in warm water was. Die plaashuise was soms baie myle van mekaar af en die tweespoor-paadjies het van onbruik net so hier en daar ’n middelmannetjie gehad. Soms het die drooggeworde, klipharde en diep kar- en waspore van die vorige reënseisoen Hans se karwiele gevang en moes hy twee nuwe rye spore langsaan aanlê, omdat hy vrees die perde sal skeeftrap. Maar die Boer het elke dag daarin geslaag om die volgende opstal te haal, behalwe by daardie twee geleenthede toe hulle maar moes buite slaap.

      Joey het besluit om wes te hou – weg van die koue wat die wind uit die berge gebring het. Hy’t maar aangegaan en die oorlede Boer se optrede so goed moontlik nageboots. Hy het, soos oorlede Hans, probeer seker maak dat die perde water en rustyd kry. Die tuie het hy ná ’n gesukkel onder die knie gehad, en die kuns om ’n karige maaltyd in die veld aan mekaar te slaan, het die nood hom geleer. Die landskap self het hom gou laat insien dat dit ’n doodsonde is om by ’n stukkie vuurmaakgoed verby te ry sonder om dit op te tel – al was dit net ’n verdwaalde bossietak of ’n stukkie mis. Die kosbare vlammetjies wat dié stukkies vuurmaakgoed kon voortbring wanneer hy hulle, suinig soos ’n vrek, aan sy aandvuurtjie voer, het die nagte effens sagter gemaak, die koffie sterker, die pap minder klonterig en die sop minder waterig. Joey het geleer om vir sy eie perde se mis te stop, dit op te laai en agter op die kar op ’n sak te droog.

      Toe Joey, meer as ’n maand ná sy metgesel se dood, met Hans Bester se kar en teen daardie tyd brandmaer winterhaar-perde deur Danie van Wyk se plaashek ry, was hy al na liggaam en gees ’n gebroke man. Hy het toe reeds te veel smartlike dae en weke lank deur die taalbelemmering moes worstel, en hy was verplig om in stalle, skure, hokke, buitegeboue en soms onder die onvriendelike ope hemel te slaap. Hy is nooit ’n huis binnegenooi nie. Nie eens een keer nie. Hy het in daardie tyd net een foto geneem en so ver as wat hy kon uitmaak, sou die familie eers betaal as hulle die foto in die hand het en goedkeur. Joey het gevoel hy word nie vertrou nie en dat die Boere die man van Somerset, Engeland, as ’n soort nikswerd landloper beskou.

      Hy’t die woning van die Van Wyks met mismoed en bitter voorspooksels benader.

      Die huise waarby hy op sy tog aangedoen het, was almal teen hoogtes gebou, en waar Joey ook al opgedaag het, het die mense lank voor sy aankoms al van hom geweet. Maar by die Van Wyks het die pad ’n ent van die huis af eers om ’n koppietjie gekom voordat jy en die huismense mekaar kon sien. Hy moes maar mik-mik deur die honde voordeur toe.

      Hy’t geklop en Magrieta van Wyk het die deur oopgemaak.

      Vir Joey was Magrieta van Wyk die mooiste vrou wat hy in sy ganse lewe gesien het, en, so het hy die res van sy lewe geglo, wat hy ooit sou sien.

      Sy was skraal vir ’n Boervrou. Joey het teen daardie tyd al bietjie gewoond geraak aan die vollerige posture van die Boere-vroue op die plase en die lang, lenige lyf van Magrieta het hom onkant gevang. Die selfversekerdheid van haar skoonheid het soos ’n waas om haar gehang. Sy het die trotse houding gehad van ’n jong vrou wat diep bewus is van haar blink, blonde hare wat sy in ’n rol op haar kop dra, van haar fynbesnede neus, haar sagte, welgevormde lippe, haar wye oë … en haar vel so smetteloos en glad soos dié van ’n baba.

      Sy het hom in die skraperige taal aangespreek:

Скачать книгу