Скачать книгу

laai. Ek skryf.

      Beste

      Nee, hy is verdomp nie my “beste” nie …

      Geagte meneer

      Wat het Moira nou weer gesê is die vent se naam? Borinson? Kom nou, Lily, jy behoort te weet … Oberon? Ag, bog. Wie gee om? Sommer “Buurman”. Ja. Néé. Dan weet hy waar ek bly.

      Geagte eienaar

      Ja. Dit sal moet deug.

      Neem asseblief hiermee kennis van my eerste klagte rakende u kat.

      So ver my kennis strek, word troeteldiere nie hier toegelaat nie. Indien u nie die dier maniere kan leer en tuis hou nie, sal ek verdere stappe moet oorweeg.

      Die uwe

      Dr. Lilian Beekman

      [email protected]

      083 46

      Nee, wag. Ek gaan nie my selnommer vir die vent gee nie. Ook nie my adres nie. Nee. Nooit ’n goeie idee nie. Wil buitendien nie heeldag en aldag gebel of opgeklop word nie. E-posse kan ek antwoord wanneer dit my pas.

      Toe ek die briefie langsaan in die posbus gaan druk, sit Mister Dikgevrete Kat nog daar binne op die vensterbank. En ek moet maar tevrede wees met die vaste voorneme om anderdag met hom af te reken.

      Ek is net terug in my kombuis en besig om vir my bietjie tee te maak vir die skok, toe hoor ek dit. Iets krabbel fyntjies. Swakkies. Dit kom van agter die spul ou teeblikke bo-op die besemkas. Ek sleep ’n stoel soontoe en klouter op.

      Een van die blikke het op sy sy agter die ander ingerol en die deksel lê eenkant. Binne-in sit ’n patetiese bondeltjie vere. Ek is te bang om aan hom te vat. “Tjorts fedorie,” piep die bondeltjie uit die dieptes van die blik. Naas.

      Ek moet haastig van die stoel afklim, want my bene is heeltemal lam van die skielike verligting.

      * * *

      “En dit?” vra Dricus toe ek ’n paar uur later met Naas, hok en al, by die werk aankom.

      Ek vertel hom die storie terwyl ek die hok ophang aan die haak in die hoek waar daar op ’n tyd ’n potplant gekwyn het.

      “En nou?” wil Dricus weet.

      “En nou? Nou is dit óórlog. Glo my.”

      “Hectic,” merk hy op en loop in die kombuis se rigting.

      Gelukkig kondig die dreamcatcher by die deur die aankoms van ’n kliënt aan, anders het ek dalk ’n paar lelike woorde bygevoeg. Ongelukkig is dit Mevrou Besluiteloos van nou die dag. Om dit als te kroon, storm sy op my af. Met ’n prentjie.

      “Ek is seker iemand soos jy sal dit vir my kan nadoen?” Vreeslik in haar skik hou sy die blaaitjie na my uit. “Onthou jy nog dié?” Toe ek haar stomgeslaan bly aankyk, verduidelik sy geduldig, soos vir ’n kulturele idioot: “Dis Japannees? Uit die seventies?”

      Sy probeer ’n ander aanslag. “Dis Hello Kitty. Verskriklik cute, nè?”

      “Verskriklik,” sê ek en vat tandeknersend die prentjie van die katgesiggie by haar en gaan sit agter by my werkstafeltjie daarmee.

      Uit die hoek van my oog kan ek sien die vrou begin sterk wonder oor die teenwoordigheid van al my varkies, sowel as haar keuse van studio. Ek sou ook. En toe Naas boonop onverwags vanuit sy hoek lostrek met sy gunstelingversie van “Nkosi Sikelel’ iAfrika”, lyk dit asof sy deur se kant toe wil neig.

      Gelukkig kom Dricus agter die kombuisafskorting uit en beredder die saak deur vir haar een van sy nagemaakte leerstoele en ’n voosgevatte Woman & Home aan te bied.

      Maar teen die tyd dat Naas oorgeslaan het na die Afrikaanse gedeelte van die volkslied, net toe Thuli by die deur ingeborrel kom, laat vaar die arme mens alle pogings om te maak of sy lees. Haar oë is wydgesper en sy klou die tydskrif op haar skoot vas met die greep van iemand wat op die vlug wil slaan.

      Ek moet sê, Thuli van kop tot toon in geel-en-swart gestreepte lycra, met ’n kort blonde pruik effens skeef op haar kop, is nogal ’n gesig wat sterk manne oor dinge kan laat twyfel. Soos swaartekrag en wilskrag en ’n hele paar ander goed.

      En om seker te maak dat ons niks van haar bates mis nie, gooi Thuli boonop ’n pirouette in die deuropening wat Tretchikoff se ballerina haar nie sou kon nadoen nie. Sy bly staan en wag vir ons reaksie.

      “Verskriklik cute, nè,” sê sy.

      “Verskriklik,” sê ek.

      Thuli trippel nader en kry my aan die pols beet. Ek wil nog teëstribbel. “Kom,” sê sy en rem my kombuis toe.

      “Ek het dit eintlik vir jóú gekry hier oorkant by Hair by Mona,” sê sy, “want ek weet jy gaan nog cuter as ek lyk daarmee.” Sy pluk die pruik van haar kop af en haar krulletjies spring parmantig orent. Ek probeer keer, maar mens wen nie maklik met Thuli nie. “Nee, komaan, Lily,” sê sy en woel my eie haardos plat. “Dié hairstyle van jou is lankal tired,” hou sy vol terwyl sy die ding op my kop plak en tot by my ore afrem. En ek weet presies hoe ’n lam ter slagting moet voel.

      “Sien? Supercute!” Thuli pluk-pluk aan die kuifie soos ’n trotse mamma. “Dis lankal tyd dat jy ietsie nuuts try!”

      Toe die dreamcatcher aandui daar is iemand wat wil inkom, los sy my net so, spring rats binnetoe en gaan sit op die naaste stoel. Daar gebeur min genoeg hier rond en sy gaan duidelik niks mis nie. Sy draai in my rigting, beduie iets en rol haar ogies vir my om te kom kyk.

      En toe ek om die deur loer, weet ek wat haar so op hol het. Ek bly net daar staan. Haal nie die pruik af nie, want ek weet hoe my eie ou haartjies dán sal lyk, en daar is darem nog standaarde. Want die man wat ingestap het, is nogal iets. Dit kan selfs ek sien, al is my uitsig meestal van sy rugkant.

      Ligte hare, so nie juis my cup of soup nie, maar tall, dark and handsome én onder sewentig is nie aldag hier in Vishoek te siene nie. So. Nie dat ek juis in mans belangstel nie, maar ek is ook nie blind nie, en ons kunstenaars sien mos maar altyd iets moois raak. Ek kan sien Mevrou Besluiteloos neem ook daar en dan ’n besluit om te bly sit net waar sy is.

      Net Dricus staan nader, want die res van ons is vasgenael. Veral toe ons hoor wat die man wil hê.

      “Kyk, ek weet nie of jy my kan help nie. Ek het ’n geweldige fout gemaak,” verduidelik hy. “Ek het iemand se naam op my arm laat aanbring en nou dryf die persoon my heeltemal tot raserny. So. Ek het net kom hoor of ’n mens so ’n tatoe kan verander?”

      “Laat ek sien?” vra Dricus.

      Thuli skuif ongemerk nader en Mevrou Besluiteloos sit die tydskrif neer. Ek onthou die artikel wat ek gelees het van Johnny Depp wat sy tatoe WYNONA FOREVER laat verander het na WYNO FOREVER, en maak of ek my tekkie se veter vasmaak. Nou wil ek ook niks mis nie. Die man begin sy hempsmou oprol, maar dis denim en hy sukkel.

      “Ag, trek maar die hemp uit,” stel Mevrou Besluiteloos voor, “ons gee nie om nie.”

      Vir die eerste keer stem ek met haar saam oor iets, net toe ’n selfoon iewers begin lui. Dricus draf na sy lessenaar, Mevrou Besluiteloos gryp na haar handsak en Meneer Tatoe laat vaar sy pogings met die hempsmou en pluk sy foon uit sy jean se gatsak. Al drie besef gelyktydig dis nie hulle foon nie en kyk verleë rond. Net ek besef wat dit is. Ek probeer my dom hou, maar dis duidelik waar die gelui vandaan kom. Dis Naas. Oom Heydenrych het daardie diedelie-diedelie-die-luitoon.

      Gelukkig hou Naas op met lui.

      Die man vat-vat weer aan sy hempsmou, en besluit dan om te maak soos Mevrou Besluiteloos voorgestel het.

      “Wel … as niemand omgee nie,” begin hy huiwerig losknoop. Ons is vasgenael, maar hy kom net drie knope ver, en net daar ruk Naas geheel en al handuit. Wip op en af op sy stokkie en kwetter soos ’n boom vol vinke. “Oor ons ewige gebergtes!” sing hy luidkeels. Almal draai na hom en daar staan ek soos die ma van ’n kleuter wat amok maak in ’n porseleinwinkel, en met iemand anders se blonde pruik op.

Скачать книгу