Скачать книгу

Israel: almal kla omdat almal se knieë teen almal se neuse is, en as jy nie met die huur kan saamleef nie, slaap jy op straat saam met die onwettige immigrante. Reg?”

      “Ek het darem ook vir haar gevra of sy gelees het wat Esther Pollard in die Jerusalem Post geskryf het oor die algemene misverstand oor Jonathan se outomatiese vrylating op 21 November 2015. Dat dit nie ’n vrylatingsdatum is nie, maar die datum waarop hy aansoek mag doen vir parool.”

      “En …?”

      “Sy beweer daar is nog steeds nie ’n amptelike egskeiding aan haar toegestaan nie, dus is sy en Jonathan Pollard steeds getroud. En sê dat sy nie kans sien om saam met haar pa in die gemeubileerde woonstel in Ramat Gan te bly waarna die eerste minister verwys het in reaksie op haar klagtes nie. Maar hoekom bel jy hieroor? Ek kom mos die berig skryf.”

      “Yiddisher kop, jý,” het hy gesê. “Ek het iets hier voor my, ’n raakpunt.”

      Dit het haar altyd gevlei as hy haar oopkop noem. “Wat is dit?”

      “ ’n Gedig uit ’n bundel van Chava Rosenfarb wat in 2013 gaan verskyn. Gedink jy sal daarvan hou.”

      Haar stilte het hom die feite laat invul.

      “Die Jiddisje digter wat in Auschwitz, Bergen-Belsen en die Lodz-ghetto was.”

      Hy het die gedig vir haar voorgelees. Yachin se foto’s is A-dubbelplus, emosie en siel en hart. Sy voorlesings …o aarde. Maar hy het probeer.

      Tog, sy aanvoeling vir háár geskiedenis het die afstand tussen hulle uitgewis. Die sandsteenwit van Jerusalem was voor haar; die afstand tussen hulle het gekrimp.

       So perhaps I should sew a robe for you, my child,

       out of the cloak of my old-fashioned pain

       and alter my hat of experience for you

       to shelter you from the ravaging rain?

       … So I must leave you outside, my child, and leave you there alone.

       Perhaps dressed in clothing of love you will learn better how to go from home.

      Yachin praat uit Jerusalem. Hy vertel haar dat Eason iets agtergekom het, honde weet wanneer iemand ver weg is. Sy staan voor die tuinhek, woedend omdat daar ’n muur om haar geskiedenis en haar verhaal is.

      Hy praat van ver af, besorg: “Are you okay, Bubbeleh?”

      Sy sê dit. Die muur laat haar dit sê: “Ek weet nie wat ek hier soek nie, Yachin.”

      Hoofstuk 6

Petrusburg.JPG

      Die brandstofmeter wys rooi. Sy draai by die vulstasie oorkant die Ossewatrek-monument in Monumentweg in, dankbaar dat sy kop gehou het op OR Tambo en geld getrek het.

      Sy haal die vyf honderdrandnote saam met ’n paar Israelse banknote uit haar handsak. Die note met die afbeeldings van Yitshak Rabin, Menachem Begin, David Ben-Gurion en die visioenêr Binyamin Ze’ev Herzl daarop is vir haar bekend soos dié van die haredi van Mea She’arim, soos granaatsap en soet dadels. Die Kaapse buffel en die streep sebras op die Suid-Afrikaanse banknote is bloumooi en vreemd.

      Die petroljoggie glimlag haar toe. “Windscreen?” vra hy.

      Sy onthou die ritueel. In Tel Aviv maak niemand die voorruit vir jou skoon nie. In Jerusalem stap jy of ry trein of bus.

      “Asseblief,” sê sy. “En kyk sommer na die olie en water ook.”

      Hy loop nie; hy wip soos ’n impala. Hy spalk sy maer arms ver oor die voorruit en haal dooie motte onder die reënveërs uit. Soms verdwyn hy agter wit seepskuim; soms verskyn sy vrolike gesig waar die lap skoongemaak het.

      Hy hou onverwags op en sit die emmer eenkant neer. Hy kom tot by die motorvenster. “Diederichs?”

      Sy is heeltemal uit die veld geslaan. “Hoe weet jy?” vra sy.

      Hy skud sy kop, sy glimlag breër. “My ma was jou ouma se ousie gewees. Sara?”

      Daar is ’n vraagteken agter die naam, dit vra: onthou jy ook?

      Sy klim uit die motor. “Sara? Is jy Sara se seun? Die slim een?”

      Sara het sewe kinders gehad. Sy het oor almal van hulle behalwe haar slim kind geween en geswets, gebid en gewanhoop. Met haar slim kind het sy net gespog. Vir sy toekoms het sy gely. Van hom het Sara jare lank gepraat: hoe hy mooi punte gemaak het in grade seven; hoe sleg sy voel om vooruit geld by Oumbecca te moet vra vir die toer na die Apartheidsmuseum.

      “Waar’s dié museum?” het Oumbecca gevra. “In Bloemfontein?”

      “In Johannesburg,” het Sara sag gesê.

      “Hulle vra baie geld vir ’n museumbesoek,” het Oumbecca gefrons terwyl sy die note uit haar beursie haal. “Ek hoop daar’s darem iets te sien daar.”

      Sara se slim kind was lief vir sy kerk ook. Maar alles kom teen ’n prys. Weer moes Sara bakhand staan vir ’n voorskot op haar pay. Die kerkkoor sing met mantels om, die conductor laat dit spesiaal by ’n vrou van Botshabelo maak, met tossels en embroidery soos dié van die tabernakelkoor van die Old Testament.

      “Onnodige gedoe,” het Oumbecca daardie dag gesê, maar eers toe Sara huis toe was. “ ’n Mens kan tog in gewone klere ook sing.”

      Op ’n dag het Sara ’n skoen werk toe gebring. “Ek kry so skaam, madam,” het sy gesê. “Maar nou kan ek nie anders nie. Dis matric farewell, hy het ’n meisie gevra, sy is van ’n goeie huis, kerkmense. Maar haar pa kyk af op arm mense. Hy kan nie met dié skoene by hulle aankom nie. Ek moet weer vooruit vra.”

      “Ek sien,” het Oumbecca gesê. “Nee, só kan hy nie gaan nie.”

      Sy het die geld vir Sara gegee. “Ek sal dit nie aftrek nie,” het sy gesê. “Hy het mooi geleer; hy verdien skoene wat na iets lyk.”

      Hoe Sara se slim kind gelyk het, het niemand geweet nie, hy was in Bolokanang se skool aan die ander kant van die Kimberley-pad.

      Die petroljoggie straal haar toe. “As ek nie die kind is wat my ma van gepraat het nie, is dit bad luck. Maar ek het three distinctions gekry.”

      “En toe?”

      Dit ís hy. Alles aan hom sê dat dit hy is, die punt van Sara se hart voordat sy aan die Nuwe Siekte dood is.

      “Nou werk ek hier.”

      Vleispasteie / Meat pies, lees Margo op die advertensiebord langs die deur van die vulstasiekafee. Sy gaan binnetoe en twee vroue staan gelyktydig van hulle stoele op om haar te bedien.

      “Is hier nog vleispasteie, asseblief?”

      Sy is in ’n ander wêreld. Hier word sy vanuit ’n traliehok bedien; hier is alles wat gekoop kan word agter slot en grendel. Die vroue is saam met die winkelware toegesluit.

      “Vars,” sê die een vrou. “Vanoggend se baksel.”

      Die tweede vrou het wakker, helder oë. “Is jy nie Oumbecca Hallman se kleindogter nie? Die een in Israel?”

      “Ek is.”

      Die vrou wat die twee vleispasteie in die mikrogolfoond opwarm, kyk oor haar skouer. “So ’n pynlike dood, maagkanker. En dat sy dit weggesteek het, dat sy nie eens dokter toe was nie. Jou ma was eendag hier gewees, die trane het maar vlak gesit oor jou ouma se aantekeningboeke, alles wat sy daarin geskryf het.”

      Aantekeningboeke?

      Die pasteie is stoomwarm en ruik soos Oumbecca s’n, soos die generasie van egte dinge s’n.

      “As ’n mens jou trots het, het jy jou trots,” sê die vrou. “Jy onthou vir oom Stander,

Скачать книгу