Скачать книгу

Lubbe het volledig skadeloos gelyk. Lagkreukels om die oë, ’n maag soos al die mans in die saal, bleskop en beursie in die boudsak. “Of het Steve Hofmeyr en Dozi dalk toevallig al aangekom, Margo?”

      Dit was etenstyd; hulle het saam potjiekos uit polistireenbakkies geëet. Ma Chris het drie bestel: een vir Pa en een vir die man van die skilderye. Die derde een het sy en Ma gedeel, te veel vir een mens.

      “En wat sê julle jongklomp van die Aartappel-en-Wildfees, Margo?”

      “Jis, oom, Petrusburg het so iets nodig.”

      “Alles word teruggeploeg in die gemeenskap,” het Pa gesê. “Hier is baie bejaardes en die subsidies het opgedroog.” Hy het die pryse van die skilderye een vir een met die oë deurgegaan. “Jy kan vir jou ’n prent hier uitsoek, Christina.”

      Ma se oë het wyd gerek. “As dit room reën …”

      Vier jaar en sewe maande later sou sy verduidelik: “Ek was net so verskriklik eensaam in daardie tyd, Margo. So getap, altyd net rusie in die lug. En onredelikheid. Jou pa …ek het hom as onredelik beleef, ek erken dit was verkeerd. Hy het sy eie gesig gehaat, ek sou ook as dit ek was. Dit het hom moeilik gemaak. Ek het vasgekeer gevoel, was seker weerloos op ’n manier.”

      Pa wou haar behou: haar lyf, haar hart.

      Of nee: Pa wou haar lyf en hart terughê. Maar harde rusies en smeulende agterna-emosies oor die ongebreidelde wreedheid daarvan, het albei van hulle swak en lam gelaat. Teen die tyd dat Lukas Lubbe vir Ma Chris ’n toffieappel aangedra het – oop en bloot by haar aartappelkebab-stalletjie op 6 April 2002 in die Landbousaal regs van die ou rugbypaviljoen – het hulle nie geweet dat haar hart en lyf onbereikbaar geraak het nie. Hulle was gedreineer; hulle kon nie meer op hulle spore teruggaan nie. Daarom het hulle met elke verdere rusie net vorentoe beweeg, nader aan die ravyn.

      Boonop het Ma in daardie tyd laat elke Vrydagaand reeds begin om twee rye spore te loop.

      Hoofstuk 10

Dagmaan.JPG

      Die vrou daag sonder afspraak of vooraf-reëling op. Voordat enigeen van haar weet, draai sy aan die deurknop.

      Michael spring teen die voordeur op, grommende derduiwel, aartsengel se voet. Evangeline staan in die middeldeur tussen die kombuis en die gang; die hond se geblaf en gegrom sny stukke van haar mededeling uit: “Die tee­sakkies is klaar, juffrou. Meneer se kinders wou nie gaan nie, ek het hulle gevra.”

      Margo kan haar hare uit haar kop trek.

      “Ani tzricha ezra, Yachin!” Ek het hulp nodig!

      “What is the matter, Bubbeleh?”

      Hy noem haar nog steeds sy skat en hy praat opgewek in haar oor, sy kantoorvensters waarskynlik oop, die hemel blou en herfsstil op hierdie Sondag in Augustus.

      “Daar’s iemand by die deur. Ek bel jou later. Hoor die hond, dís hoe dit in my ma se huis klink.”

      “Wow, some bark. Eason is wagging his tail like mad.”

      Die vrou met die toonknobbels, ongeknipte toonnaels, sproete en droë vel het ’n tuisverpleërsak by haar, maar sy ruik na kerrie kook. Sy ken die huis; sy wag nie om ingenooi te word nie.

      “Verskoon die sandale; my bunions baklei vandag teen toe skoene. Gelukkig het ek ’n Foley in my sak, dit was nie nodig om te gaan oopsluit nie. Ek het so half en half verwag sy gaan die kateter uittrek. Is jy …jy’s seker haar dogter van Israel af?”

      Michael ken die vrou; hy spring teen haar op. Sy stoot hom weg. “Kry die ding tog van my af, Hugo.”

      Die man op die drumpel doen dit reeds. Hy sleep die hond stoeptrappe toe, motorsleutels in die hand, gestreepte das skeef oor die skouer. Die hond verset hom intelligent: hy maak hom dooiegewig op die sementstoep.

      “Moenie jou stunts met my uithaal nie, Michael!”

      Die hond kom met fyn tjankgeluidjies orent, stert tussen die bene. Hugo frommel sy ore en gee hom ’n paar vrywe op die kop. “Oukei, ons maak vrede. Weg is jy.”

      Evangeline bring die boodskap soos ’n duif wat deur ’n oop venster ingekom het en benoud tussen mense vlerke klap en ’n ontsnapopening soek.

      “Antie Bettie sê ek moet vir juffrou sê as juffrou wil by wees, kan juffrou by wees. Maar juffrou hoef nie, dis juffrou se ma, so miskien wil juffrou nie.”

      Margo skud haar kop. “Dankie, Evangeline.”

      Die hond neem sy kans waar en pyl gang-af en trap-op om voor Ma Chris se kamerdeur te gaan weeklaag terwyl die kateter ingesit word.

      Margo nooi die man binnetoe. Hy is gesandaal soos sy ma, en dit onder ’n formele grys broek. Hy lyk ook na sy ma: blasserige vel met sproete oor die neus, dieselfde plattelandse seningrigheid as sy.

      Hy steek sy hand na haar uit. “Hugo van Niekerk.”

      “Margo Diederichs. Christina se dogter.”

       “In our culture shaking hands and thus touching a woman is seen as a sexual act, Bubbeleh. A handshake between a man and a woman does reveal feelings, don’t you think so?”

       Vroeër, in my eerste lewe, sou ek gelag het, Yachin. Nou nie meer nie.

       Toe dit gebeur het, was dit nie bladskud nie. Dit was ’n toevou, sagter en meer sensueel as enigiets wat ek my ooit in die bloekombos kon indink, die wilde plek van skerp bloekomsaaddoppe en miskruiers wat op die grond naby ’n mens se kop verbyloop.

      Jy het my in jou handpalm toegevou, Yachin. Ons was te lank saam in dieselfde kantoor; eers Dawid en Jonatan besig om Our Voice te maak werk. Toe in die lente, in die tyd wanneer die konings optrek om oorlog te maak – dié keer met missiele – het ons Dawid en Batseba geword, onafwendbaar. Maar dit was Batseba wat vir Dawid begeer het, daar tussen die argeologiese opgrawings van die Jerusalem Argeologiese Park by die Davidson Sentrum. Dawid het haar hartstog aangevoel, sy hand oor hare geplaas en sy shomer negiah-tyd agtergelaat. Geen aanraking het aan­raking geword.

       Vra my om jou vrou te word, Yachin. As ’n vrou in die liefde glo, is sy ’n goeie vrou vir ’n man. Jy het dit reggekry om my weer in liefde te laat glo, trou met my. As Eason dan steeds op die bed by jou voete moet slaap, moet hy maar nog ’n tyd lank daar bly slaap, totdat ons hom van jou gespeen het.

      Sy wou dit sê, maar sy het nie. Sy kon nie; hy was te geskok oor wat hy so geniet het.

      Daardie Sondag is die twaalfjarige Ayoub Useila in ’n missielaanval uit Tel Aviv dood. ’n Kind wat die dood nie kon ontkom nie, selfs nie in die Jabalia-vlugtelingkamp nie.

      Yachin kon nie ’n foto van hom in die hande kry nie. Dalk het daar nie een van hom bestaan nie. Maar enige foto van ’n Palestynse seun met die eerste donker donsies op sy bolip, stofvaal hemp en die gewoond-aan-die-hel-kyk van Palestynse vlugtelingkampkinders, sou gewerk het by die nuusberig wat hy daaroor geskryf het.

      Die seun wat dié Sondagmiddag gesterf het, het uiteindelik maar net soos die sesjarige Ali al-Shawaf in die lykshuis van die Nasser-hospitaal in Khan Yunis gelyk. Vir altyd dood.

      Hugo van Niekerk maak ongemaklik keel skoon.

      “Ekskuus dat ek so deur die blare lyk,” sê sy. “Alles is op die oomblik net ’n bietjie oorweldigend, ek voel asof ek op ’n ander planeet is.”

      Hy staan half oujongkêrelagtig. “Dit is dalk. Israel is baie anders.”

      En hoe. Pas het Yachin vir haar oor die telefoon gesê: “Sondagnag gaan my skyfie maanlig regs en joune links bo ons sit, Bubbeleh. Maar die een en dertigste gaan ek die maan vroeg in die middag al afneem, dagmaan hier bo Our Voice se gebou. Once in a blue moon, August is blue moon month.”

      Sy knik beleef. “Ek

Скачать книгу