Скачать книгу

      “Iets om te drink?” vra sy.

      Ek maak of die dish nie daar is nie, wat flippen moeilik is, want sy boarms maak hengse knoppe onder sy hemp. “As-seblief,” stotter ek. My mond voel droog en my tong sit vas aan my verhemelte.

      “Wat wil jy hê?”

      Skielik kan ek aan niks dink nie.

      “Lemoensap, Appletizer, Coke?” stel sy voor.

      Die dish draai sy kop na my. Hy moet net nie dink hy’s cool en namens my bestel nie. “Lemoensap, asseblief,” sê ek vinnig.

      Sy haal ’n plastiekglas uit die onderste rak en skink dit vol. “Koud of warm?”

      Ek gaap haar aan. Warm lemoensap? Dit maak net nie sin nie. “Ekskuus?”

      ’n Paar oomblikke staar ons na mekaar.

      Die stilte hou blykbaar te lank aan vir die dish, want hy sê: “Sy wil weet of jy die koue of die warm ete wil hê.”

      Ek wil my vererg, maar ek kan nie, want die dish het ’n stem wat jy net in wilde drome hoor. Sonder dat ek dit kan verhelp, kyk ek na hom. In sy oë. Goues met groen vlekkies in. Visoë.

      “Die koue ete is gewoonlik die lekkerste,” gee hy raad.

      Asof ek sy opinie gevra het. Aspris sê ek: “Warm, asseblief. Vis, nie hoender nie. Koffie, nie tee nie.”

      Toe die dish ’n vingerlek-lekker bord gerookte forel met vars, groen slaai kry, moet ek omtrent ’n show opsit met my pap mikrogolf-visvingers en klonterige aartappels. Ek is meer as verlig toe die ete oor is. Nou kan ek tog ’n fliek kyk en van Visoog vergeet.

      Vergeet? Vet kans.

      Na die koppie koffie én die glas lemoensap moet ek twee keer oor sy bene klim om toilet toe te gaan. Toe hy die derde keer met ’n sug vra of ek eerder teen die paadjie wil sit, besluit ek om te knyp en my seëninge te tel dat ek hom nooit ooit weer sal sien nie.

      Toe ons ligjare later op Jomo Kenyatta land, waai ek wild oor die koppe vir Pa in die aankomssaal en laat spat badkamer toe. Gevolglik sal ek eers baie later, tot my verdriet, uitvind hoe Visoog by die groter prentjie inpas.

hoofstuk-02.jpg

      “Hallo, Pa,” groet ek stywerig, want ons het mekaar lank laas gesien en baie dinge het intussen verander.

      Tot my verligting het Judy dit nie as haar stiefmoederlike plig beskou om my te kom haal nie. Vir die eerste keer wonder ek wat ek haar sal noem. Ma? Grusaam. Haar brats se name het ek lankal aspris vergeet.

      Pa sit sy hande op my skouers. “Jy’t verander. Grootgeword.”

      Is logies, wil ek sê, Pa’s al meer as ’n jaar lank weg.

      “Hoe gaan dit met jou ma?” Sy stem is sonder entoesiasme.

      “Goed!” jok ek. “Sy – sy’t ’n boyfriend,” lieg ek by.

      Sy mond word ’n streep. “Is hy darem goed vir jou?”

      Ek is in my skik met my nuwe wapen en lus om dit te gebruik. Pa kan gerus ’n slaggie voel hoe dit voel om heeltyd stekies te kry. “Baie. Hy – hy’s –” Ek steek vas. As ek sê “ryk”, kry Pa dalk idees – en Ma kla gedurig oor geld. Ek is baie lus vir: “Hy’s soos ’n pa vir my” maar dis ’n lae hou. “Hy is oukei,” sê ek stadig, spyt oor die leuen.

      “Ek is bly.”

      Nou is dit Pa se beurt om te jok. Tog snaaks dat Pa weer kon trou, maar ’n spasma wil kry by die gedagte dat Ma iemand het. Mans is net so selfsugtig. Ek is sommer van voor af die dinges in, vir Pa – vir Brett – vir die hele ou bagasie.

      Pa stap aan met my tasse. Hy sê nie ’n verdere woord oor Ma nie en ek vra hom nie uit oor Judy en die seuns nie. Ek voel ’n bietjie sleg, maar is dit my skuld dat hy met ’n poppie met twee gedroggies sukkel?

      Daar staan ’n groen Land Rover Defender op die parkeerterrein. Pa stryk aan soontoe. Oor sy skouer verduidelik hy dat hy sake het om te doen, dus sal ons eers oor ’n dag of twee na die Turkana-meer vlieg. Dís waar die moeilikheid begin het. Waar Pa vir Judy ontmoet het. Pa maak dokumentêre films regoor die wêreld, die jongste gaan oor hominides – die sexy doktor se studieveld.

      Ek frons.

      Hominides.

      Pa gebruik die woord gedurig in sy e-posse. Eintlik moet ek hom ’n slaggie vra wat dit is, maar hy sal wonder waar ek uitval ná al die maande. Ek meen, dis al waaroor die man ooit praat: fossiele en hoe die natuur inmekaar steek.

      Pa laai my bagasie en ons klim in en slaan die Defender se deure toe. “Kom ons gaan kry iets om te eet,” stel hy voor terwyl hy die enjin aanskakel.

      Nairobi is baie beter ontwikkel as wat ek verwag het, met moderne wolkekrabbers, blink malls, waar ek nie sou omgee om te gaan shop nie, luukse huise en grys plakkerskampe, alles deurmekaar. Ons ry verby ’n mark waar groente en lewende diere verkoop word. Ontbyt is wegneem-pizzas, want Pa sê daar’s te veel om te doen om iewers te sit en ginnegaap – sy woord.

      Daarna foeter hy die agterstrate in, waar dinge volgens hom goedkoper is. In die verbyry beduie hy na die gebou waar die paleoantropologiese konferensie gehou word.

      Ons klim by ’n soort koöperasie uit en terwyl Pa kibbel oor die prys van suiker, meel en aartappels, stap ek in die straat af. Met die verbyry het ek ’n Clover-teken teen ’n kafee gesien en skielik is ek heng lus vir ’n Magnum, seker my laaste voor ons die beskawing verlaat en die boendoes invaar.

      Kort-kort kyk ek oor my skouer en peil die terugpad. Ek het nie ’n kop vir rigting nie. As ons met vakansie gaan, kom die son dae lank aan die verkeerde kant op, en ek weet nooit of ek links of regs moet draai as ek by ’n plek uitstap nie. By die huis het ek al in ons eie mall verdwaal.

      Dis ’n outydse kafee met ’n toonbank. Jy moet wys of vra, dan gee die eienaar dit vir jou aan. Die Magnum lê al en rook op die toonbank toe soek ek nog my beursie. Dis nie in my jeans se agtersak nie. Ook nie in my baadjiesak nie. Dit moet nog in my handbagasie wees. Ook net my geluk.

      “I’m so sorry,” maak ek verskoning. “I left my wallet in my bag.”

      Ek sug toe die kafeebaas sy hand op die Magnum sit en dit na hom toe trek. Dan tref die geur van seesand en motorfietsolie my neusgate. Dit word gevolg deur die klank van munte op die toonbank en ’n stem wat sê: “My treat.”

      “Visoog!” Die woord is uit voor ek dit kan keer.

      “Wat?”

      Dadelik keer ek. “Niks, niks, net iets wat ek sê as ek skrik.” My kop voel duiselig. Waar kom hy ewe skielik vandaan? Het hy ons hierheen gevolg? Vir wat?

      Hy stoot die Magnum oor die toonbank na my toe. Intuïtief deins ek terug. “Dankie, maar nee dankie, ek betaal vir myself.” Ek weet mos hoe dit is, laat ’n ou net iets vir jou koop, dan dink hy jy skuld hom.

      Hy glimlag tergend – tartend is dalk meer korrek – en sê: “Koue goed is regtig lekkerder, weet jy, dit koel jou af, veral wanneer jy so rooiwarm bloos.”

      Ek vererg my. “Eet jy dit dan. Jy’s so rooi soos ’n tamatie met lipstiek aan.” Ek stoot die Magnum na hom, gooi my hare oor my skouer en marsjeer uit. Vreemd genoeg bly sy gesig my by: die groen vlekkies in die goue oë, die sexy mond. Vreemd genoeg voel ek goorder met elke tree. Het ek oorreageer? Dalk wou hy net nice wees. Maar wat maak dit saak, ek sal hom tog nooit weer sien nie, wat ’n gelukskoot.

      Ek rek my treë – hopelik in die regte rigting – en blaas my asem verlig uit toe ek die groen Defender ’n ent verder sien staan. Pa is besig om te betaal toe ek instap. Hy kyk vraend op, maar ek vertel hom niks, hy sal tog nie verstaan nie.

      Ons dra aan en laai in, maar die goor gevoel bly. Skielik kan ek nie wag om by die kamp te kom nie. Daar sal ek ’n nuwe begin

Скачать книгу