Скачать книгу

vergelyking met my het Frenk ’n muggie van ’n libido. Toe ek hom nog nie so lank geken het nie, het ek gedink hy besoek hoerhuise skelm, maar nou weet ek dat spyker hom doodgewoon nie interesseer nie. Nie dat hy dit nie doen nie. Heel, heel af en toe is daar ’n vrou wat hom aandraai, en dan looi die man dit. Ek weet van drie keer in die vyftien jaar dat ek hom ken. En dink ook ek weet hoe dit gebeur. Frenk het homself in die middelpunt van die heelal geplaas en dit pas hom uitstekend. Dáár is vir niks anders plek nie. G’n vrou, g’n gesin, niks. Die enigste waaraan Frenk iets uitgee, is aan Frenk self. En Frenk gee donners baie geld uit. ’n Kakhuis vol. Wel altyd volgens beginsels. Frenk het styl, dit weet almal. Frenk gaan na die regte toneelopvoerings. Na die restaurants wat saak maak. En hy het die nuutste Pradas nog voordat dit in die P.C. Hooft te kry is (en hy versuim nie om dit so terloops etenstyd by Merk in Uitvoering te vermeld nie). Die meeste geld gaan aan goed vir sy dakwoonstel aan die Bloemgracht. Dis ’n stadsaal van ’n dakwoonstel en alles daarin is duur. Net die kombuis kos al meer as al ons huisgoed in Amstelveense Weg. Nie dat Frenk dikwels in die kombuis kom nie, want hy kan nie kook nie. Hy kan ook nie stryk nie. Nie klere was, inkopies doen of pap bande regmaak nie. Daarby het Frenk nie ’n huishulp nie, nie ’n rybewys nie, en nie ’n idee hoe hy sulke aardse dinge sou bekom nie. Sy pa kom soms van Breda oor om al die handwerk in sy dakwoonstel te doen; sy ma maak skoon en was sy wasgoed; twee keer per week kom hy by my en Carmen eet, en hy beskou dit as vanselfsprekend dat hy altyd kan saamry as ons met die motor êrens heen gaan. Hy kom met alles weg omdat hy een ding in ruil daarvoor bied. Frenk is ’n Vriend.

      “Ek kan julle tog nie op Koninginnedag alleen los nie?” Anders as Thomas is Frenk nie skaam om my te omhels en te soen nie. Wanneer ek en Frenk ná ’n vakansie terug op kantoor is, wanneer ons verjaar en wanneer ons nuwe besigheid beklink, omhels ons mekaar. Daarvan hou ek. Dit laat my dink aan die soort vriendskap wat jy andersins net in Bruce Springsteen-songs en Amstel-advertensies teëkom. Die stemming in huis Steyn & Carmen is oombliklik beter. Carmen is bly-verras en Luna kraai van plesier. Sy is gek oor Frenk en Frenk oor haar.

      Toe ons aan die kombuistafel sit en Frenk met graagte Carmen se aanbod aanvaar om ’n croissant saam te eet, vra hy hoe dit gaan. Carmen vertel die verhaal; ek vul af en toe aan. Wanneer dit vir haar moeilik is, lê hy sy hand op haar arm. Frenk luister aandagtig na ons verslag van wat ons alles gister gehoor het. Die verduideliking van dokter Schoeman, die chemoterapie, hoe ons gevoel het toe ons in die gang af en by die hospitaal uitgestap het.

      By die minuut word ek stiller. ’n Paar minute gelede het ek al opgestaan om toilet toe te gaan terwyl ek eintlik nie hoef nie, en weet nou nie meer watse verskoning ek kan gebruik nie. Gelukkig ruik ek ’n effense poepreuk.

      “Ek gaan Luna gou boontoe vat om haar doek om te ruil.”

      Ek neem haar op my arm op boontoe. Met betraande oë vee ek Luna se boudjies skoon en sit vir haar ’n skoon doek aan. Luna kyk my verbaas vanaf die laaitafel aan. “Ag, my skapie tog … my liefste klein skatjie …” Ek druk die drukknopies van haar kruipbroekie vas. Ek tel haar op, neem haar stewig in my arms en terwyl die trane oor my wange loop, staar ek by die venster uit. Ek kan dit steeds nie kleinkry nie. Ons is ses-en-dertig, het ’n skat van ’n dogter, elkeen sy eie firma, ons lewe soos God in Amsterdam, het hope vriende, doen net wat by ons opkom, en nou sit ons op Koninginnedag die helfte van die oggend oor niks anders as kanker en praat nie.

      Nadat ek Frenk (wat vra of ons regtig nie lus is om vandag saam te gaan nie, maar Carmen skop vas) weggesien het, voel ek nog ellendiger. Carmen het my vanoggend al laat verstaan dat sy nie in die stemming is om vanmiddag êrens in ’n housemusiek-massa te staan nie. Uiteraard begryp ek dit, maar noudat die vooruitsig van nog ’n hele middag tuis sit en treur wel heel konkreet word, word ek byna gek. Om Steyn van ’n paartie weg te hou, is nog erger as om Luna se dummy van haar weg te neem. Des te meer nou. Ek wil hier wegkom, ek wil my aan drank oorgee, ek wil paartie, ek wil allesbehalwe verder oor kanker sit en praat.

      Ek sug demonstratief toe ek weer by die kombuistafel kom sit.

      “Jy hoef nie so hard te probeer om gatvol te lyk nie,” snou Carmen. “Ek kan nie help ek het kanker nie.”

      “Nee, ek ook nie,” sê ek nydig.

      13

      I want to run, I want to hide, I want to tear down the walls, that hold me inside …

      U2, “Where the Streets Have No Name” (The Joshua Tree, 1987)

      ’n Uur later kan ek dit nie meer hou nie. Carmen sit maar net en blaai deur haar VT Women, en ek is seker sy het g’n benul wat sy lees nie.

      “Nee, my bliksem, wat de fok doen ons hier by die huis?!” roep ek skielik.

      Sy kyk my aan, op die punt om te begin grens. Nou, dáárvoor is ek lus, huilbui nommer soveel van die laaste vier-en-twintig uur. Ek dwing myself om rustig te word, loop na haar toe en gryp haar vas. “Skat, ek dink dis baie beter as ons iets gaan doen. Hier rig ons tog niks uit nie. Om met Luna na die Vondelpark te gaan, is ten minste iets.”

      Sy vee haar trane af. “Oukei … Dit is miskien tog beter, ja …”

      Vondelpark is op Koninginnedag vol kinders uit Amsterdam-Suid, die stad se jappiebuurt. Selfs die talente wat hier ten toon gestel word, is pure Amsterdam-Suid. Twee knapies wat klink asof hulle vir die nasionale kinderkoor sing, verkoop selfgemaakte Oranjetaart. Ek het as kind nooit ’n koek gebak nie en kan my ook nie voorstel dat een van my vriendjies uit Breda-Noord dit sou gedoen het nie. ’n Kind met ’n veels te ernstige gesig vir haar ouderdom – “As ek so ’n kind sou kry, sou ek ’n nageboorte-aborsie oorweeg,” sê Carmen – dra gedigte voor. Wie maak sy kind so groot? Poësie is soos simfoniese rock, soos ’n 4-3-3-sokkerformasie, soos om na ’n Chinese restaurant te gaan. Benewens my eertydse Nederlands-onderwyser en die resensent van Het Parool ken ek niemand wat nog gedigte lees nie. Ek en Carmen word al hoe gatvoller vir die kinders wat staan en voordra, viool speel, goël, irriteer en deur hul trotse ouers dopgehou word. ’n Meisie met ’n poniestert en ’n oranje rokkie laat ons hoor wat sy in haar vioolles geleer het. “Ek gaan kry Luna eerder by die polisiestasie as by vioollesse,” fluister ek in Carmen se oor. Sy begin proes. Die ma van die kind met die oranje rokkie dink nie ons is oulik nie.

      “Dit was tog nie te sleg nie, nè?” vra ek toe ons met Luna op my nek in Cornelis Schuytstraat na die bushalte in De Lairesstraat loop.

      Carmen gee my ’n soen op my wang en knipoog.

      14

      Het is weer voorbij die mooie zomer, die zomer die begon zowat in mei, je dacht dat er geen einde aan zou komen, maar voor je het weet is heel die zomer alweer lang voorbij …

      Gerard Cox, uit “Het is weer voorbij die mooie zomer” (Het beste van Gerard Cox, 1973)

      Oor drie maande is die somer en die chemo-behandeling verby en is Carmen kaalkop. In die motor onderweg na die Lucas-hospitaal dink ek aan alles wat ek hierdie somer maar kan vergeet. ’n Sondaguitstappie na Bloemendaal? Asof Carmen daarvan sal hou as sy een van die dae bles is. Vir ons plan om met Hemelvaart New York toe te gaan, kan ons ook maar koebaai sê as die chemo binnekort in haar lyf kom nes maak. Dinsdagaande se sokker in die park? Forget it. Dan sal ek by die huis moet wees om Luna kos te gee en in die bed te kry, omdat Carmen kotsend in die bed lê. En om vir Frenk of Maud te vra om te kom en daarna self te gaan sokker speel …

      En dan het ek nog nie eens begin dink aan ons lewe ná die somer nie, ná die chemo’s. Wat die komende maande op ons wag, is reeds moeilik hanteerbaar; laat staan nog wat daarna kom. Dit is soos Ajax-Juventus in die ArenA in die era ná Louis van Gaal. Rustyd al 0-2 en dan lê daar nog drie helftes voor.[8]

      Toe ons op die ringpad ry, begin dit motreën. Lekker. Wat my betref, kan dit maar hierdie somer ys. Ek sit die radio af. Edwin Evers is vandag net te vrolik vir my. Ek druk die CD-knop. Michael Stipe sing ons moet vasbyt as die dag lank word, ons moet vasbyt as ons seker weet dat ons nie verder kan in die lewe nie, as alles verkeerd loop. Ons is stil, albei.

Скачать книгу