Скачать книгу

elke toediening kan sluk, as dit nodig is …” – ons verval stadigaan in ’n staat van emosionele ontbinding – “… daarom eet die meeste mense minder. Die kombinasie van naarheid en ’n gebrek aan smaak is natuurlik nie bevorderlik vir die eetlus nie … Verder is daar ’n kans op diarree. As dit langer as twee dae aanhou, moet u gou kontak maak …” – asof sy oor ’n lekplek in ’n wasmasjien praat – “… en dan kan u mondslymvlies ook ontsteek en kan u menstruasie onreëlmatig word of verdwyn. Ten slotte moet u baie goed oppas dat u nie koors kry nie. Dan moet u dadelik bel, al is dit in die middel van die nag.”

      Ek wil dit nie meer hoor nie, ek wil niks meer hoor nie. Carmen het al by die woord “haarverlies” afgeskakel. Maar Schoeman gaan maar net aan.

      “Tja, en dan kan dit wees dat die kankerselle nie op die SAF reageer nie. Maar die kans daarvoor is maar vyf-en-twintig persent.”

      “En dan?”

      “Dan stel ons ’n ander behandeling op die proef.”

      “O.”

      “Maar dit is nie ons uitgangspunt nie.”

      “Nee.”

      “Wat ek nog vir u het, is die volgende,” sê sy en bring ’n geel pamfletjie uit haar lessenaarlaai te voorskyn. “As u wil, kan u gebruik maak van die psigoterapeut hier in die Lucas-hospitaal. Sy spesialiseer in die berading van pasiënte met kanker.”

      Carmen kyk vinnig na die pamflet en sê ons sal dit waarskynlik wel doen. Nou ja. As ons nou eenmaal kanker in ons lewe verwelkom, laat ons dit dan maar goed doen, die hele kaboedel.

      Ek kyk na ons nota met al die vrae. Schoeman merk dit op en kyk op haar horlosie. Ek sien daar is nog ’n vraag, een wat nou nie juis die atmosfeer sal verbeter nie.

      “Is dit nie beter dat my vrou in die Antoni van Leeuwenhoek-hospitaal behandel word nie? Daar spesialiseer hulle tog in die behandeling van kanker?”

      Schoeman reageer soos Louis van Gaal[6] op ’n nuuskonferensie.

      “Dit het absoluut geen sin nie. Ons pleeg met elke pasiënt oorleg met die Antoni van Leeuwenhoek. Ons praat elke week met mekaar en dan word die lêers bespreek.”

      Ek kyk na Carmen. Sy knik vinnig dat dit goed is so. Sy wil nie skoor soek met die dokter wat haar gaan behandel nie. Ek besluit om dit nie op die spits te dryf nie. Ek kyk nog ’n keer na ons notas. Nou gaan dit lekker.

      “Laaste vraag. Is hulle in Amerika nie ’n ent voor Europa nie?”

      Schoeman kyk my aan asof ek ’n skoolseun is wat dit gewaag het om onder die juffrou se rok in te loer.

      “Ek bedoel, ’m … nie dat ek aan u kundigheid twyfel nie,” voeg ek vinnig by, al twyfel ek wel daaraan, maar ek moet tog iets sê om nie uit die klas gejaag te word nie, “maar ons wil nou eenmaal die beste vir my vrou hê, verstaan u?”

      Schoeman verstaan my nie, sien ek aan haar blik wat geen twyfel laat nie dat sy tot in haar siel gekrenk voel. Sy sug en begin met ’n ysige stemtoon praat.

      “Alle inligting oor kanker wat beskikbaar is, alle mediese navorsing wat gepubliseer word, lees ons ook, meneer Van Dyk. Wat môre in Chicago of Los Angeles ontdek word, kom ons ook dieselfde dag te wete. En sedert die bestaan van die internet is alles heeltemal in die ope. Enigeen kan dit onder oë kry. U vrou het dit al agtergekom …”

      O, hoe haat ek daardie spottende toontjie, die arrogansie wat Schoeman ten toon stel, terwyl sy baie goed weet van die “buitengewoon nalatige” fout wat haar kollega in presies hierdie hospitaal gemaak het.

      “Nog iets verder?”

      Ja, ’n halfkilo maalvleis, doos.

      Ek kyk na Carmen; sy skud haar kop. Sy wil hier wegkom. Wat gister nog relevante vrae was, is nou ’n onaangename verlenging van hierdie hospitaalbesoek.

      “Nee, dit is al,” sê ek.

      Ons staan op en trek ons jasse aan.

      “Laat my weet of u met die chemo wil begin. Ek beveel dit tog maar aan,” sê dokter Schoeman terwyl sy Carmen met die hand groet, nou katvriendelik.

      “Oukei … goed. Ons sal môre bel.”

      “Tot siens aan u ook,” sê sy, weer koel. Ek kry sowaar ook ’n handdruk.

      “Dankie vir u tyd. Tot volgende keer dan,” sê ek.

      Toe ons met die gang afloop, hou ek Carmen se hand en probeer niemand raaksien nie. Ek voel die blikke van die mense wat in die gang staan en wat in my rug boor. Asof jy met ’n lekker girl met ’n te kort rokkie voor ’n stoepkafee verbyloop – jy weet almal kyk, maar jy maak asof jy min gespin is. Carmen het vandag nie ’n kort rokkie aan nie, maar het rooi oë en ’n sakdoek in haar hand. Ek het my arm om haar, my blik strak op die einde van die gang gerig. Hulle sal aan mekaar stamp, in ons rigting knik, vir mekaar fluister. Ag god, die vroutjie is nog so jonk, en hoe oulik is sy nie; kyk, daar loop sy. Ons het nou net gehoor sy het kanker. En kyk die outjie by haar, ag, hoe hartseer. Ek voel die medelye, die drang na sensasie teen my rug aandruk. Jammer dat Luna nie vandag by is nie. Dit sou die toneeltjie vir die mense nog mooier gemaak het.

      11

      I don’t believe in magic, but for you I will, darlin’ for you, I’m counting on a miracle …

      Bruce Springsteen, uit “Countin’ on a Miracle” (The Rising, 2002)

      Carmen lees voor uit die biljet wat dokter Schoeman vir ons gegee het. Die psigoterapeute werk volgens Carl Simonton se metode. Die man is volgens die biljet “ ’n pionier op die terrein van kankerbehandelingstegnieke, waarin nie net die liggaam nie, maar ook die gees ’n belangrike rol speel”.

      “Dus ’n nefie van Emile Ratelband[7],” sê ek spottend.

      ’n Halfuur later loop ons met twee boeke van dr. Simonton by die boekwinkel uit.

      Nadat ons Luna in die bed gesit het en die telefoon, wat vanaand aanhoudend gelui het, van die mik gehaal het, het ons albei een van dr. Simonton se boeke gegryp. Carmen slaan The Healing Journey oop, ek begin met Getting Well Again.

      Some people may be concerned that we are offering “false hope”, that by suggesting that people can influence the course of their disease we are raising unrealistic expectations. But in our opinion hope, in such a situation, is a much healthier attitude than despair, lees ek.

      Kort daarna vlieg The Healing Journey deur die sitkamer.

      “Hier sit ek, fok weet, oor kanker en lees! EK WIL ABSOLUUT NIKS OOR KANKER LEES NIE!” skreeu Carmen. “DIT IS NIE REGVERDIG NIE, DIT KAN TOG NIE WAAR WEES NIE, DIT KAN TOG NIE!”

      Ek is dit met haar analise roerend eens, maar al wat ek kan doen, is om my brullende, rukkende Carmentjie vas te hou, te streel, te soen en “rustig nou, my lief, toe maar, toe maar …” vir haar te fluister.

      Dit is die aand voor Koninginnedag. Terwyl die hele stad hom in die afgrond in suip, is daar by Amstelveense Weg 872 twee hopies ellende wat mekaar vashou.

      12

      Dan wil ik dansen, dansen, dansen op de vulkaan …

      De Dijk, uit “Dansen op de vulkaan” (Wakker in een vreemde wereld, 1987)

      Om kwart oor nege lui die voordeurklokkie en daar staan Frenk. Jy kan my met ’n veertjie omtik, want op sy af dae begin Frenk nooit voor twaalf nie.

       Frenk is lui, egosentries, ’n snob en my beste vriend. Anders as Thomas weet Frenk alles van my. Ons werk heeldag saam. Hy weet hoe ek dink, waarvan ek op my brood hou, hy weet dat ek by BBDvW&R/Bernilvy nie net vir Sharon nie, maar ook vir Lies, Cindy en Dianne gespyker het; dat ek, toe ek en Carmen nog nie so lank bymekaar was nie, dit ook nog gereeld met Maud gedoen

Скачать книгу