Скачать книгу

vandag is dit moeilik om wakker te bly. Ek het al twee keer opsigtelik gegaap, tot Frenk se ergernis. Net toe my ooglede weer ’n aanval van vallende siekte kry, lui my foon. Verlig verskoon ek my en soek my selfoon in my sak. CARMEN SEL.

      “Haai, lief,” sê ek terwyl ek van die tafel wegdraai.

      My lief huil.

      “Carm, wat is dit?” vra ek verskrik. Frenk draai om en kyk my besorg aan. Die produkbestuurder babbel vrolik verder. Ek maak ’n moenie-worry-nie-gebaar na Frenk en loop van die tafel weg.

      “Ek is in die hospitaal en hulle is bang dis iets slegs,” snik sy.

      Die hospitaal. Ek het weer vergeet dat sy vandag sou gaan. Twee dae gelede, toe sy my vra of ek niks vreemds sien aan haar tepel wat so branderig voel nie, het ek haar probeer oortuig dit is seker omdat sy die week sou begin menstrueer. Of ’n harde randjie van haar bra. Niks ernstigs nie. Net soos ’n halfjaar tevore, toe dit ook ’n vals alarm was. Ek het gesê sy moes maar net na dokter Walters gaan as sy twyfel en sy sal dan sekerlik weer gerusgestel word.

      Ek het geen verweer teen slegte nuus nie en reageer gewoonlik daarop deur myself en die mense om my net daar wys te maak dat alles wel sal regkom. Asof ek my daarvoor skaam dat sommige dinge doodgewoon onweerlegbaar, onontkombaar en onvermydelik kak is. (Dit was vroeg al so, soos toe my pa my vra wat NAC gedoen het, en ek moes sê dit was 0-1 vir Veendam. Om dit te moes oordra, het gevoel asof ek self die bal in my eie doelhok ingesool het. Om slegte nuus te kry of te gee, bederf ’n mens se hele dag.)

      “Carm, vertel nou eers rustig wat hulle gesê het,” sê ek oor die telefoon, en vermy sorgvuldig die woord “dokter” waar Frenk by is.

      “Hy weet self ook nie presies nie. Die tepel het vir hom snaaks gelyk en hy sê hy vertrou dit nie heeltemal nie.”

      “H’m …” sê ek, vir my ’n taamlik pessimistiese opmerking. Vir Carmen die teken om rêrig paniekerig te raak.

      “Ek het mos gesê my bors voel so warm!?” roep sy met ’n stem wat breek. “Ek het geweet dis ’n slegte ding, my fok!”

      “Rustig, rustig, skat, dit is nog glad nie seker nie,” probeer ek. “Sal ek na jou toe kom?”

      Sy dink ’n rukkie. “Nee. Jy kan tog niks hier doen nie. Daar is nog bloedtoetse en ’n urinemonster en ek moet nog hoor wanneer daar plek is om ’n ondersoekoperasie te doen, net soos destyds, onthou jy?” Sy klink ietwat rustiger. Om oor praktiese dinge te praat, help die emosie onderdruk. “Dit sou wel gaaf wees as jy Luna by die crèche kan gaan haal. Ek gaan ook nie meer Brokers toe nie.”

       Brokers se volledige naam is Advertising Brokers. Dit is Carmen se maatskappy. Sy het die idee daarvoor gekry toe ek gewerk het by BBDvW&R/Bernilvy – die Real Madrid van die reklamewêreld, soos ons onsself genoem het. Daardie wêreldjie het Carmen mateloos geïrriteer. “Opgeblase ego’s wat hulself belangriker ag as hul kliënte, hul kollegas en God,” het sy gesê. “Wil hul lyf kunstenaar hou, maar steeds ’n grand kar ry en ’n topsalaris verdien.” Dit was vir haar pret om ’n bietjie onrus te stook daar. Op ’n onthaal van Bernilvy het sy agteraf aan een van ons kliënte (Centraal B. te A.) gevra waarom hulle die regte van hul advertensies nie aan maatskappye in ander lande verkoop nie; hulle is tog nie kompetisie nie. “ ’n Soort makelaar van idees, soos dit ook met boeke, films en TV-programme gebeur,” het sy gesê. Die kliënt het gedink dis ’n briljante idee en het dit ’n dag daarna voorgestel aan Ramon, Bernilvy se direkteur. Om die vrede te bewaar, het hy morrend ingestem. Carmen was deur die gaping. Binne ’n halfjaar het sy die regte van die advertensies verkoop aan firmas in Suid-Afrika, Maleisië en Chili. Die reklamewêreld het moord en brand geskreeu. Ander het gedink dis doodnormaal. Die een hand was die ander. Dit het Carmen nie ’n dooie duit geskeel nie, sy het ’n goudmyn ontdek. Eensklaps wou almal van Advertising Brokers se dienste gebruik maak. Die reklameagentskappe het die lig gesien – deur Carmen het hulle skielik vier of vyf keer meer vir hul dinkwerk gekry. En hul kliënte wat al die jare die tariewe van die top-outjies in die reklamebedryf tandeknersend betaal het, uurtariewe wat jy nie eens by Yab Yum betaal nie, het gesien hoe hul peperduur reklamekampanjes begin geld máák, omdat Carmen die geleentheid gesien het deur dit aan die een of ander firma in Verwegistan te verkoop. Binne twee jaar het Carmen twintig mense gehad wat vir haar werk en met kliënte oor die wêreld heen. Sy geniet haar selfgemaakte internasionale loopbaan, vlieg soms – as sy wil; dit moet natuurlik lekker bly – na een van haar kliënte êrens in die wêreld en het die grootste jol. “Wat ’n grap, nè?” sê sy met elke nuwe kliënt.

      Ek is niks lus om met hierdie traangevreet daar rond te hang nie. Ek hoop om voor ses hier uit te wees. “Wat sal ons vir ete doen?”

      En nou moet ek lag. Ons bekommer ons nooit oor etes nie. Ons is die soort paartjie wat die aand eers besef dat daar geëet moet word en dan elke keer verbaas is dat daar niks in die huis is nie behalwe ’n laai vol Olvarit-potjies vir Luna. Ons vriende spot ons omdat ons weekbegroting gaan aan die spareribs-plek, Domino’s Pizza, die Chinees en die nagwinkel.

      “Ons sal wel sien wat ons vir ete kan maak. Sorg jy nou maar net dat jy gou daar kan wegkom sodat ek jou kan troos. En miskien kom alles uiteindelik weer reg,” sê ek so opgewek moontlik en lui af. Maar my rug is nat van die sweet. Iets sê vir my dat ons lewe hier ongeluk getref het. Ek staar voor my uit. Daar moet iets positiefs wees. Net gou rustig dinge mooi agtermekaar kry. Ligpuntjies soek. Iets om Carmen, wat op haar eentjie in daardie kak hospitaal sit, netnou mee te vertroos.

      Dan sug ek diep en loop terug na die tafel waar Frenk en die produkbestuurder sit. Laasgenoemde het net begin vertel van Holland Casino se probleem om van first-time visitors gereelde klante te maak.

      4

      Jullie leefden beestachtig gelukkig, maar daar is gewoon een einde aan gekomen.

      Jan Wolkers, uit Turks fruit (1969)

      Ek parkeer my Chevrolet Blazer voor ons huis in Amstelveense Weg, aan die rand van die Amsterdamse Bos.

      Ek haat die Amsterdamse Bos, ek haat Amstelveense Weg en ek haat ons huis. Vyf jaar lank het ons in die middel van die stad gewoon, in ’n eersteverdiepingwoonstel in Vondelstraat. Binne twee maande ná die geboorte van Luna wou Carmen trek. Sy was keelvol daarvoor om die nie-optelbare maar o-so-cool driewielstootwaentjie teen die trap te moet opsleep nadat sy eers twintig minute moes rondry op soek na ’n parkeerplek. En ná die keer toe ons, net toe ons met ’n piekniekmandjie en bottels rosé op ’n kombers in Vondelpark ons sit gekry het, agterkom dat Carmen – “nee, jy sou dit saambring, Steyn” – die doeke vergeet het, het sy ’n intensiewe veldtog vir Amstelveen van stapel gestuur. ’n Huis met ’n eie tuin. Uiteindelik het dit ’n huis in Amstelveense Weg geword.

      Die swart Beetle staan so vyftig meter straatop – Carmen is al tuis. Ek tel Luna uit die motor, loop na die voordeur, haal diep asem en steek die sleutel in die sleutelgat. Ek is senuagtig, en dít was ek in 1995 laas, toe Ajax nog in die laaste minute daardie 1-0 teen AC Milan moes verdedig.[1]

       Luna is my sonstraaltjie. Sy verjaar op dieselfde dag as ek, en met haar geboorte is ek daarvan verseker dat my vriende selfs as ek sestig word na my verjaardag sal kom. Hulle sal sekerlik nie my dogter se mooi, vietse vriendinne wat dan daar sal rondloop, wil misloop nie.

      ’n Ruk lank is dit ’n aand soos alle aande. Toe Luna vir Carmen sien, kry sy ’n glimlag wat haar gesig byna in twee deel. Carmen roep haar gebruiklike uitgerekte “LUUUNAAA!”, trek skewebek, boots Luna se waggelende peuterdraffie na, hurk en omhels haar. Luna antwoord dan ekstaties: “MAMAAAAA!” Vanaand ontroer die toneeltjie my meer as gewoonlik.

      “Hallo, my lief, ” sê ek toe Carmen regop kom en soen haar op haar mond. Ons omhels mekaar en begin terstond huil. G’n gewone aand meer nie. Ek hou haar styf vas en kyk oor haar skouer, na niks. Ek sê alles sal uiteindelik wel weer regkom, net soos ’n halfjaar gelede. Ek kan aan niks beters dink om te sê nie.

      Sy

Скачать книгу