Аннотация

In hierdie versamelbundel bring H&R vroeë verhale deur een van Afrikaans se belangrikste skrywers in een band byeen. Vóór die Sestiger-beweging en internasionale literêre aansien het André Brink sy loopbaan begin as skrywer van spannings- en liefdesverhale met. Die vermaaklike stories in dié bundel het gedurende die 50’s in die Die Huisgenoot en Die Brandwag verskyn. ’n Kombinasie van Brink se eiesoortige humor met ’n tikkie nostalgie – perfek vir ’n ouer én nuwe geslag lesers.

Аннотация

Een van die ergste vorms van die Swart Dood in die 14de eeu het sy slagoffers binne vyf dae uitgewis. Maar dat daar ander, subtiele, moderne en ewe dodelike vorme bestaan van die Pes wat in die donker wandel, ontdek die bruin Kaapse meisie Andrea Malgas gedurende die vyf dae wat sy ná ’n jarelange verblyf in Europa in Provence deurbring. Sy staan tussen twee mans: Paul, die welvarende, middeljarige blanke esteet wat haar al die gerief en sekuriteit van ’n lewe in Europa aanbied; en Mandla, die jong swart aktivis wat haar opnuut blootstel aan die gevaarlike teenwoordigheid van Afrika, waarvan sy haar so lank al vry gewaan het. Onder andere moet sy besluit of “vryheid” ook mag beteken dat jy kan klaarkom sonder die land, die samelewing, die mense wat jou gevorm het. Op soek na lokaliteite vir Paul se film oor die Swart Dood kom Andrea en Mandla uit by die oorblyfsels van ’n Muur van die Pes wat eeue gelede gebou is om die plaag te probeer keer. Vir haar is dit die kulminasie van al die baie mure waardeur sy in haar lewe voorgekeer is en wat mense apart van mekaar probeer hou: mure tussen ras en ras, tussen generasie en generasie, tussen man en vrou, tussen hede en herinnering, tussen werklikheid en droom, uiteindelik tussen lewe en dood. Wat sy egter ontdek in die skokkende ontknoping van ’n lewe, herleef in vyf dae, is nie iets negatiefs nie, maar die ontroerende besef dat mure ook afgebreek kan word. In die laaste instansie is dit die skrywer Paul wat in een van die oorspronklikste verteltegnieke wat nog in ’n roman gebruik is, antwoorde moet gee op die baie vrae wat die verhaal se opset bepaal. Wat daardie antwoorde is, en of hy daarby uitkom, kan die lesers eers aflei wanneer hy die hele sirkel van die roman voltooi het. Die muur van die pes, wat in baie opsigte ’n bedoelde tweeluik met Kennis van die aand vorm, is ’n ryker en ryper werk as enigiets want André P. Brink nog geskryf het.

Аннотация

Gerugte van reën is met sy verskyning in 1978 maande lank deur die apartheidsregering onder embargo geplaas. Vir baie bly dit steeds een van André P. Brink se grootste romans. In ’n land geteister deur droogte bly reën net ’n gerug – maar as dit die slag kom, dan word dit ’n vloedwater wat alles met apokaliptiese geweld wegspoel. Hierdie sentrale beeld word weerkaats in al die fasette van Brink se voorstelling van Suid-Afrika op die rand van ’n afgrond. In die sentrum staan Martin Mynhardt, ryk Afrikaanse nyweraar, wat ’n naweek op sy ou familieplaas gaan deurbring om oor die verkoop daarvan te besin. ’n Oënskynlik eenvoudige besluit word vir hom byna onhanteerbaar namate sy ganse lewe in die engte van daardie een naweek saamgetrek word. Met ’n netwerk van kruisverwysings word die vier dae van die roman voorgestel in terme van ’n viervoudige verlies, naamlik sy beste vriend (’n leidende Afrikaanse advokaat pas veroordeel as terroris), sy pa wie se historiese sintuig vir Martin onbegryplik bly, sy seun wat ná die Angolese oorlog “moeilik” geword het, en sy minnares wat hom voor ’n onmoontlike keuse stel. In hierdie dramatiese proses, gekenmerk deur temas soos menslike verantwoordelikheid, historiese verbondenheid, onskuld en identiteit, word ’n hele panorama van die Suid-Afrikaanse lewe belig en ’n breë spektrum karakters bygebring in die ondersoek van die netelige vraag: “Wat is ’n Afrikaner?” Ten slotte bly Martin alleen oor, gestroop van alles wat vir hom belangrik was en verdoem deur sy onvermoë om lief te hê – hetsy vader of moeder of land, eggenote, broer of seun, vriende of ander vroue. In Suid-Afrika is die Engelse uitgawe van Gerugte van reën bekroon met die CNA-prys en in Brittanje is dit tweede geplaas deur die beoordelaars van die Bookerprys. Dit is in verskeie tale vertaal.

Аннотация

Lobola vir die lewe is die werk waarmee André P. Brink in 1962 sy eerste enorme bydrae gelewer het tot “die vernuwing van Sestig”. Hierdie e-boekuitgawe bied die eerste e-boekvorm van dié belangrike roman in die Afrikaanse literatuurgeskiedenis. Met Lobola vir die lewe was daar meteens ’n Afrikaanse roman wat in vorm en inhoud iets nuuts gedurf het – ’n roman wat krities staan teenoor die eie en die verlede, eksistensiële temas ondersoek, op verskillende vlakke beweeg, méér van die leser verg. Dit is ’n aanduiding van die roman se trefkrag dat hy vandag nog steeds modern aandoen, die leser nog steeds beetpak op ’n manier wat min latere romans dit kan doen. Lobola vir die lewe vertel die verhaal van François Raubenheimer, ’n buitestanderfiguur wat as jong man uitvind dat hy ’n aangenome kind is. So begin ’n soeke na identiteit wat hom onder meer na Europa neem. Terug in Suid-Afrika maak hy in Kaapstad kennis met die oudsoldaat Hendrik Karel Serfontein en knoop ’n verhouding aan met Marie Groenewald, met noodlottige gevolge.

Аннотация

Teen die agtergrond van ’n nuwe Suid-Afrika wat nie heeltemal lyk soos wat optimiste verwag het nie, is Ruben Olivier se lewe besig om uitmekaar te val. Sy vrou is dood. Die biblioteek wat die passie van sy lewe was, het hom ’n pakket aangebied om plek te maak vir ’n jong swart opvolger. Een van sy seuns het klaar die land verlaat en die tweede staan op vertrek. Sy beste vriend is sinneloos vermoor. Te midde van sy ontreddering moet Ruben sy wêreld opnuut definieer rondom die vroue wat in sy lewe ’n rol gespeel het: die vroegwyse klein Lenie in sy pa se skuur, die lewenslustige Riana wat haar ouers getrotseer het om met hom te trou en toe na ’n miskraam ’n skaduwee oor hul huwelik laat val het, die liriese Alison wat hom laat struikel het … Maar bowenal word sy hede deur drie figure oorheers. Daar is sy huishoudster, die formidabele Magrieta, wat hom nie toelaat om te vergeet van die werklike wêreld rondom sy soliede ou huis in Nuweland nie. Daar is Antje van Bengale, ’n jong slawemeisie wat drie eeue gelede na ’n opsienbarende verhouding met haar baas tereggestel is en nou nog in die huis bly spook. En dan is daar Tessa, die ontsenuende vreemdeling wat een nag uit die reën opdaag op soek na blyplek en soos ’n donker maan die landskap van sy lewe belig met die teenstrydige onthullinge uit haar verlede en die uitdaging van haar troebel seksualiteit. Teen die agtergrond van die woelinge en onsekerhede van vandag se Suid-Afrika, wat miskien nie so anders lyk as dié van driehonderd jaar gelede nie, is Donkermaan waarskynlik die intiemste verhaal wat André P Brink nog geskryf het. Met ’n aanslag wat wissel van die ligte en speelse tot die nostalgiese en ontstellende, word dit ’n besinning op liefhê en oud word, op skuld en onskuld, op verlies en wanhoop en hoop, op drome en werklikheid, op verantwoordelikheid teenoor hede, verlede en toekoms. Bekroon met die Hertzogprys in

Аннотация

“Parys . . . die stad wat ek bo alle ander liefhet” – het André Brink in sy outobiografie geskryf. Hierdie bundel bevat ’n keur uit sy destydse boeke oor Parys: Pot-Pourri (1962) en Parys-Parys: Retoer (1969).Nadat hy in die sestigerjare in Parys gewoon het, het sy sketse en verhale oor sy ervaringe van die lewe in die Franse hoofstad eers in koerante hier en daarna in boekvorm verskyn. Sy indrukke van verskillende aspekte van die lewe in Parys is met fyn waarnemingsin geskryf. Die toonaard wissel tussen humor en erns, tussen speels en indringend; daar is besinning en daar is satire, deernis en spot. Heerlike, leesbare stories oor hierdie gewilde wêreldstad.

Аннотация

’n Plesierige boekie wat die eerste keer in 1973 deur Buren gepubliseer is. Oom Kootjie Emmer is Lykbesorger en Nagwadrywer op Witgatworteldraai. Humoristiese anekdotes oor Oom Kootjie en sy dorp se mense: Dominee Dooieweerdt en Miss Libbie Plesie, oom Sagrys Noodskoot en oom Poepies Pontak, Koekie Rautenbach en Tolletjies Fourie, sersant Gryp-en-Ryp Koesee en die Weduwee Oop-en-toe, noem maar op. Maar dit bly in die eerste plek die verhaal van oom Kootjie self, van sy sloerstaking en sy geheime wapen, sy Uitwaartse Beweging en sy Volksfees. Hoe hy uiteindelik burgemeester word en vooruitgang bewerkstellig.

Аннотация

’n Roman wat in die tagtigerjare verskyn het en gebaseer is op die mite van die reus Adamastor, wie se liggaam glo die gebergtes van die Stormkaap gevorm het. Dis ’n aardse liefdesverhaal, geskryf met humor en ’n speelse geestigheid. Dit speel af in die tyd toe die eerste Europeërs in die Kaap aangekom en kontak gehad het met die Khoi-Khoi. Die verteller, T’kama, neem ’n wit vrou gevange, versteek haar totdat die skepe uiteindelik sonder haar vertrek, en neem haar saam op ’n lang swerftog die binneland in, teen alle raad en waarskuwings van ou Khamab en die ander. ’n Reis van vele ontberinge en frustrasies … “Dit is weer die verhaal van ’n Oomblik in die wind, van kolonialisasie en bedrog; dit is die verhaal van Afrika en Europa; maar dit is ook humor, mitologie en legende: die van Europa en dié van Afrika – van Afrika die Prometheus-vasteland.” aldus Ampie Coetzee.